Luister: Simoné Pretorius oor teenpoolrolle op die kassie

Simoné Pretorius kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Vier seisoene lank staan Simoné Pretorius al stewig in Jony, die geliefde ontvangsdame in die kykNET-komediereeks Hotel, se swart hofskoene. In haar geel uniformtrui en saaklike noupassende romp is Jony die realis wat die res van die fiktiewe Fransen-hotel se karakters in toom probeer hou – soms met minder sukses.

Pretorius vertel dit is ʼn vreugde om die rol van Jony te vertolk. Die reeks is oorspronklik geskep deur Bennie Fourie en Stiaan Smith, albei bekende akteurs en skrywers in die televisiebedryf.

“Sy is die een met wie die gehoor hulle die meeste kan vereenselwig. Aan die begin was dit sy en Thomas, maar ek dink Thomas het die pad byster geraak,” lag sy. Die rol van Thomas word vertolk deur Beer Adriaanse, wat ook ʼn skrywer vir die reeks is.

“Jony is so ʼn bietjie van ʼn steunpilaar vir die res. Sy sien om na Ferdie en sy weet hy is ʼn bietjie van ʼn losbol,” vertel sy. Die veteraan-akteur James Borthwick vertolk die rol van dié gewilde karakter.

“Dit voel baie keer asof ek net myself is en ek dink dit is hoekom dit so lekker is om dié rol te vertolk,” sê Pretorius.

Sy gee toe dat dit steeds, ná vier seisoene, ʼn uitdaging is om nie te lag nie. “Van die eerste seisoen af het ek vir Bennie gesê hy kan maar iemand anders in my rol sit as hy moet, want dit is onmoontlik vir my om nie te lag nie. So hulle weet al hulle moet my skoot eers ná die derde of vierde keer neem sodat ek net eers al my lag kan uitkry.”

Mila Guy (Malanie) en Schalk Bezuidenhout (Danny) is agter die skerms ook van Pretorius se beste vriende en Guy was ook ʼn strooimeisie op haar troue in Februarie verlede jaar. Pretorius gee toe dat dié vriendskap die atmosfeer op die stel van Hotel baie vergemaklik.

‘Hotel’ is Maandae om 20:00 te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.

“Jy ken almal, en tog, hoe almal in hul karakters inklim verras jou steeds. Ons is regtig soos ʼn familie en teen die vierde seisoen het dit gevoel of ons net gister die derde seisoen geskiet het. Dit is interessant hoe ʼn mens kan terugkyk op vorige seisoene en kan sien hoe mense se lewensveranderinge hul karakters se groei ook beïnvloed het.”

Sy verklap dat sy die rol van Brenda, wat vertolk word deur Martelize Kolver, sou wou vertolk as sy nie die rol van Jony gespeel het nie.

“Brenda sê net en doen net wat sy wil. Sy gee regtig net nie om nie. Sy inspireer my!”

Pretorius is ook weeksaande op die kassie te sien in die kykNET-sepie Binnelanders, waarin haar rol van suster René Spies hemelsbreed verskil van dié van Jony.

Simoné is weeksaande op kykNET te sien as suster René Spies in ‘Binnelanders’. (Foto: Instagram)

“Daar was al ooms wat my kom uittrap het in die Spar oor Irma Humpel van Vir die voëls so kwaai is. Maar ek dink René kry definitief die meeste raas, want sy is baie vurig. Sy het glad nie ʼn filter nie en sê alles wat sy dink,” sê Pretorius.

Binnelanders-kykers het onlangs gesien hoe René vasgevang is in ʼn drama met dr. Quinton Meyer, vertolk deur Ramey Short, en haar ma, June, vertolk deur Dorette Potgieter.

“Sy is eintlik ʼn lieflike karakter om te vertolk, want sy is kleurvol en emosioneel. Sy is baie ekstreem in haar benadering tot dinge. Sy is glad nie versigtig nie.”

Pretorius vertel sy en René het net soveel ooreenkomste as verskille. “Sy ontferm haar oor mense, en sy neem haar werk baie ernstig. Net soos ek – en sy werk hard ook. Waar ons verskil is ek sal nie sommer my kollegas deur die gesig klap of mense aanrand nie!”

  • Hotel is Maandae om 20:00 en Binnelanders elke weeksaand om 19:30 te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.
  • Simoné Pretorius het in die Maroela Media-ateljee kom gesels. Luister na die volledige onderhoud met Leonie Bezuidenhout bo aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.