Luister: The Voice-wenner stel debuutalbum vry

Craig LucasDie sielvolle sanger Craig Lucas het vanjaar as deelnemer aan M-Net se The Voice-kompetisie die land se harte verower toe hy as wenner van dié gesogte titel aangewys is. Sy debuutalbum, Restless, is onlangs vrygestel.

Craig vertel hy was baie besig sedert die kompetisie in Julie geëindig het. “Ons het saam met The Voice getoer en ek het ook my debuutalbum opgeneem,” vertel hy. “Ek het voor The Voice ʼn voltydse nege-tot-vyf-werk gedoen en nou kan ek voltyds musiek maak. So ek is baie geseënd.”

Hy sê aanhangers kan popmusiek op Restless verwag. “Ek is mal oor popmusiek,” sê hy. “Die ding van popmusiek is dat jy dit in soveel verskillende rigtings kan stuur, en dit is wat ek gedoen het. Elke liedjie klink anders, maar daar is iets wat dit bymekaar hou. Dis baie goeie popmusiek.”

Craig vertel hy het saam met Bubele Booi, Dominic Neill en Jethro Tait aan beide die musiek en die lirieke geskryf vir die album. “Daar is liedjies op wat ek jare gelede al geskryf het en nou net afgerond het en ander het ons heeltemal van voor af begin.”

Booi, Peach van Pletzen van die groep Bittereinder, Ewald Janse van Rensburg van die groep Monark en David Balshaw het die album vervaardig.

“Op The Voice moet ons ouer en bekender liedjies sing, omdat dit die tipe gehoor is vir wie ons sing. Met die album het ek gesê ek wil liedjies sing wat meer byderwets is, want dit is die soort musiek waarna ek luister,” vertel Craig.

Craig sê die inspirasie vir ʼn liedjie tref hom op enige gegewe oomblik en dan pen hy dit sommer net daar neer. “Net gisteraand lê ek in die bed en kan nie slaap nie. Daar was ʼn liedjie in my kop en ek het dit neergeskryf en die melodie met my foon opgeneem. Met die opname van die album het ek ook geleer hoe om te gaan sit en ʼn liedjie heeltemal van die begin af te skryf en te voltooi. Inspirasie kom nie altyd maklik nie. Dit is lekker as dit gebeur, maar dit gebeur nie altyd nie.”

Alhoewel Restless ʼn Engelse album is, beplan Craig tog om in die toekoms in Afrikaans te sing. “Ek en Fatman – wat die vyfde plek behaal het tydens die The Voice-kompetisie – is groot vriende, en dit sal vir my ʼn eer wees om saam met hom te kan sing op ʼn album, of selfs net om vir hom te skryf.”

Craig vertel dat hulle slegs twee maande tyd gehad het om die album op te neem. “Ons het letterlik dagin en daguit daaraan gewerk. Ek wou hulde bring aan die mense wat so hard saam met my gewerk het en het daarom besluit op die titel Restless. Ek dink die titel Restless is so omvattend met die tema van om jou drome na te jaag en nie stil te sit nie.”

“Die harde werk was nie om The Voice te wen nie,” sê Craig beslis. “Die harde werk begin nou eers.”

“Ek wil graag vir al my aanhangers dankie sê,” sê Craig. “Dit voel asof ek nie genoeg die geleentheid kry om dankie te sê vir almal wat my ondersteun het op The Voice nie. Ek kan dit slegs te danke aan hulle doen.”

Restless is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars landswyd, asook op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.