Luister: ‘Toks ʼn Tjops’ se Sjef Vaatjie woeker in die kombuis

Tommy Dickson, oftewel Toks ʼn Tjops se Sjef Vaatjie (Foto: Verskaf)

Tommy Dickson, oftewel Toks ʼn Tjops se Sjef Vaatjie sit allesbehalwe stil tydens inperking. Hy is hard aan die werk in die kombuis en om die braaivleisvuur, en ook op die isolasie-weergawe van Toks ’n Tjops.

Dickson is al nege jaar lank betrokke by Toks ʼn Tjops en tydens isolasie het die produksiespan koppe bymekaar gesit om te verseker dat die program steeds Vrydagaande op die kassie verskyn.

Die span gebruik nou die aanlyn platform Zoom om Toks ʼn Tjops aan te bied.

“Die inperking is ʼn groot uitdaging vir ons span, maar die produksiemaatskappy het darem vinnig uit die boks gedink sodat dit kan aangaan. Gewoonlik sit ons in die ateljee, maar nou gesels ons vanuit ons eie huise.

“Oftewel Toks, Janina en Breyten gesels, en ek braai lekker van my huis af,” skerts Dickson.

Dickson vertel hy het sy liefde vir kosmaak by sy ouma gekry en dat dit nou ʼn deel is van sy lewe waarsonder hy nie kan klaarkom nie.

“As ʼn klein seuntjie het ek by my ouma in Kimberley gaan kuier, en het ek gesien hoe Ouma koekies bak en al daai lekker dinge doen. Dan dink ek by myself: ‘Jis dit lyk lekker’, so ek het my ouma gevra om my te leer,” sê hy.

Die eerste ding wat sy hom geleer het, was hoe om perskekonfyt te maak en kort daarna het sy hom ook geleer hoe om ʼn eier te bak.

Vandag maak Dickson enigiets van koekies tot beskuit tot droëwors. Maar sy gunsteling sal altyd wees om te braai.

“Braai is deel daarvan om ʼn Suid-Afrikaner te wees, dit is in ons bloed.”

Tommy Dickson, oftewel Toks ʼn Tjops se Sjef Vaatjie (Foto: Verskaf)

Dickson het in sy matriekjaar vir Weber begin werk om ekstra geld te maak. Hy het demonstrasies met die produk gedoen. Daarna het hy ook vir hulle begin werk.

“Die afgelope 20 jaar na skool is braai deel van my lewe. Dit het ʼn passie van my geword en is deel van my DNS. Dis iets waarvan ek regtig hou,” sê hy.

Vir Dickson is daar niks so lekker soos ʼn skaaprib oor die kole nie. Hy vertel hy hou van skaaptjops ook, maar dat hy so veel as moontlik vir homself ʼn skaaprib sal braai as hy die kans kry.

Buiten Sjef Vaatjie wees op Toks ’n Tjops bied Dickson ook braai-demonstrasies en kookklasse aan en ontwikkel hy resepte. “As jy hou daarvan om kos te maak, dan hou jy daarvan; niks kan jou dan stop nie,” sê hy.

Probeer gerus Sjef Vaatjie se unieke knoffelbrood oor die kole!

Bestanddele

  • 1 ciabatta-brood
  • knoffelbotter
  • sprietuie
  • goudakaas
  • camembert- of briekaas

Metode

  1. Sny die ciabatta-brood oop en smeer knoffelbotter aan albei kante. Sprinkel sprietuie en kaas oor.
  2. Plaas snye camembert‑ of briekaas in, draai die brood toe in foelie en braai tot kaas gesmelt het.
  3. Sny op en geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.