Luister: Veelsydige Refentse hou ʼn ‘boerebal’

Refentse. (Foto: Altin Ferreira)

Die sanger en liedjieskrywer Refentse het ʼn wye draai deur die Suid-Afrikaanse musieklandskap gestap sedert hy ʼn paar jaar gelede Afrikaanse luisteraars laat regop sit het met sy eerste enkelsnit, “Oom Faan se plaas”.

Nie net het hy intussen ʼn hele rits treffers soos “Sannie die loopdop”, “Reisiger” en “Liefdegenerasie” asook liedjies soos “Rig jou oë na die berge” saam met Jo Black en “Hardekole” saam met Ricus Nel, Adam Tas en Bok van Blerk opgelewer nie, maar het hy ook ʼn paar gesogte musiektoekennings ingeoes en aanbieder geword van die leefstylprogram DEKATv op SABC2.

Die tweede seisoen van dié kuns- en leefstylprogram, onder leiding van Elzilda Becker, het vroeg in Januarie weer op die kassie verskyn. Refentse is reeds sedert die eerste seisoen deel van die aanbiedingspan.

“Dit was so ʼn groot leerskool,” sê Refentse in die Maroela Media-ateljee oor dié opwindende toevoeging tot sy curriculum vitae.

Refentse leef sy unieke geaardheid uit voor die kameras van ‘DEKATv’. (Foto: Merwelene van der Merwe)

“Met die eerste seisoen was ek so senuweeagtig ek kon skaars vir die kameras kyk, maar noudat ek dit onder die knie kry, dink ek dit is ʼn kragtige toevoeging tot my loopbaan. Dit is baie lekker om te reis en ongelooflike mense te ontmoet en gesprekke te hê,” sê Refentse.

Hy vertel sy heel eerste groot onderhoud was met Johrné van Huyssteen van GrootFM en Groot Ontbyt-faam.

“Jy kan jouself net indink – hierdie is die koning van onderhoudvoering, die baas van televisie- en radioaanbieding in Afrikaans. Dit was egter so mooi om te sien hoe hy dit vir my probeer maklik maak en ná hom het ek gevoel ek het Everest reeds geklim aan die begin. Ná hom was almal anders vir my makliker omdat hy my so op my gemak gestel het.”

Refentse het ook die temalied getiteld “Beauty of Africa” vir die Netflix-rolprent, Angeliena, geskryf. Angeliena is plaaslik vervaardig en spog met ʼn sterbelaaide rolverdeling wat akteurs soos Euodia Samson, June van Merch, Kuli Roberts, Nicole Madell, Tshamano Sebe, Colin Moss, Thapelo Mokoena, Marciel Hopkins, Schalk Bezuidenhout, Sandra Prinsloo en Toya Delazy insluit.

Die fliek is deur die veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprentmaker Uga Carlini geskryf, vervaardig en geregisseer. Sy het ook die rolprent Alison vervaardig en geregisseer.

Refentse. (Foto: Altin Ferreira)

“Beauty of Africa” het reeds in 2017 op Refentse se album Liefdegenerasie verskyn. “Ek dink die tyd was toe net nie reg vir die liedjie nie, maar toe kontak die span van die fliek my en sê die liedjie is perfek vir die fliek. Ek kan dit steeds nie glo as ek op Netflix kyk en my eie liedjie hoor nie.”

Volgens Refentse is die liedjie ʼn liefdeslied vir Afrika en vang die lirieke die skoonheid van Afrika vas. “Die konsep van die musiekvideo vang ook alles wat gevier word in die liedjie vas en om vir mense te wys waarvan ek praat.”

Sy jongste enkelsnit is egter weer ʼn Afrikaanse snit getiteld “Boerebal”. Die videoweergawe van die liedjie is sedert sy uitreiking in Desember amper 17 000 keer op YouTube geluister.

“Die liedjie gaan daaroor om te kuier in jou ma se taal. Ek het die voorreg om ʼn baie diverse groep vriende te hê en die grootste debat tydens kuiers is altyd in watter taal ons musiek gaan luister. Ons vind egter uiteindelik almal ʼn plek waar ons almal net in ons ma se taal kan kuier.”

“Boerebal” en “Beauty of Africa” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Refentse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Sterkte !!

Shakespeare

Refentse jy is my held. Jy is dun gesaai in ons korrupte, vernietigde land. Jy straal alles wat positief is uit. Baie dankie.

Grens

Refentse is ‘n yster, en hy sing baie mooi daarby!! Hou so aan asb.