Luister: Witwarm seisoen van gunstelingsepie begin vanaand

Hans Strydom as Dr. At Koster in ‘Binnelanders’ se splinternuwe seisoen. (Foto: verskaf)

Aanhangers van die gewilde Afrikaanse sepie, Binnelanders, kan solank die springmielies, winterkomberse en koppies warm sjokolade gereed kry, ’n splinternuwe seisoen van dié doktersdrama skop vanaand (6 Junie) om 19:30 op kykNET af.

Die twaalfde seisoen beloof om kykers te boei met Kupido wat opnuut ’n draai by Binneland‑kliniek kom maak.

Met dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) nou aan die stuur van sake, probeer dr. At Koster (Hannes Strydom) nog relevant in sy Binneland te bly.

Dr. Conrad Bester (Hykie Berg) se fokus is op sy sakebelange en pasiënte gerig, soveel so dat die liefde in sy lewe, Tracy Smit (Melinda Viljoen), voel dat sy moet ingryp.

“Tracy gaan besluit waarmee sy gaan kan huishou en waarmee nie. Sy vind haar identiteit en begin haar stem ook gebruik om vir ’n slag haar eie lewe lekker te maak,” het Viljoen oor haar karakter aan Maroela Media verklap.

Danny Jantjies (Bradley Olivier) kom voor ʼn keuse te staan in dié seisoen.

“Hy gaan deur ’n emosionele en werkkrisis. Iets gebeur wat Danny traumatiseer; hy wonder of hierdie beroep nog die een vir hom is.”

Cindy Swanepoel, Deon Lotz en Erik Holm. (Foto: verskaf)

Rian Malherbe (Erik Holm) kyk Kupido vierkantig in die oë en wonder of hy tog maar nog ’n kans op liefde moet waag.

“Mense kan verwag om ’n ander kant van Rian te sien, miskien ’n jonger, maar avontuurlustige kant,” het Holm vertel.

Daar wag talle kinkels in die storiekabel in hierdie seisoen, met nuwe gesigte, romantiese verhoudings en slinkse planne wat om elke hoek en draai lê en wag.

  • Binnelanders word op weeksdae om 19:30 op kykNET uitgesaai.
  • Luister boaan die berig na wat die sepiesterre oor dié splinternuwe seisoen te sê het.

Kyk na ‘n lusmaker van die nuwe seisoen hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charllas ·

Danie…… Ja Chanel is die antwoord. Daar is geen ander een vir jou, At kan maar kom kuier!
Rian jy waag baie ons rooikoppe is …… ons het ons moeilike dae :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.