Luna Paige se ‘Smeltkroes’ eersdaags op die kassie

Luna Paige (Foto: Jessica Botha)

“As jy lief is vir Afrikaans, teater, musiek of die natuur, en kragtige en hartroerende gedigte oor mense en hul identiteit wil ervaar – is dié vertoning vir jou. Dit is onopgesmuk en eerlik.”

So sê Luna Paige, kunstenaar en vervaardiger van Iluminar Productions, oor haar jongste produksie, Smeltkroes, wat eersdaags op die kassie te sien is.

“Ons almal het iets persoonliks van onsself in die konsert gegee en ons wil graag mense se harte raak, sagmaak en die geleentheid gee om pret in Afrikaans te hê”, sê sy.

Die sanger-liedjieskrywer Frazer Barry, pianis en komponis Ramon Alexander, digters en sangers Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode, en akteurs en sangers Devonecia Swartz en Breyten Treurnicht tree op saam met Paige, wat die teks geskryf het en ook van haar eie komposisies sing.

Die ondersteuningsorkes bestaan uit top-musikante Henry Steel (kitaar), Shaun Johannes (baskitaar), Annemie Nel (tromme) en Lorenzo Blignaut (trompet).

Smeltkroes se teks sluit gedigte deur Pieter Odendaal, Gaireyah Fredericks en Diana Ferrus in. Buiten vir Paige, Barry en Alexander se oorspronklike komposisies kan gehore ook uitsien na musiek deur Anton Goosen en die Kaapse Klopse.

“Dit is voorwaar ʼn smeltkroes van Afrikaanse klanke, kleure, geure en ritmes. Soos Ferrus skryf, ‘Afrikaans sing in ʼn duisend stemme’, ‘…en dit is wat die taal só besonders maak‘,” sê Paige.

Byna drie jaar nadat die produksie geskep is, kan Suid-Afrikaners daarna uitsien om hierdie vertoning op TV te beleef. Dit is danksy die innoverende en baanbrekerswerk van die Toyota Woordfees.

Hierdie fees word vanjaar op Suid-Afrika se eerste opwip-TV-kanaal uitgesaai. Gehore kan van 1 tot 7 Oktober in die gemak van hul huise na ʼn uitgesoekte kunsteprogram kyk. Smeltkroes word op 4 en 6 Oktober tussen 16:00 en 19:00 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.