M-Net-telenovelle kom tot einde

Legacy (Foto: M-Net)

Ná twee jaar op die kassie kom die M-Net-telenovelle Legacy in September vanjaar tot ʼn einde.

Bekende akteurs, onder andere Michelle Botes, Mary-Anne Barlow, Kgomotso Christopher, Sean-Marco Vorster, Jay Anstey, Odelle de Wet, Trix Vivier en Dawid Minnaar, het onder meer hoofrolle in dié telenovelle vertolk.

Die reeks handel oor die wel en wee van die welvarende en magtige Price-familie. Deon Lotz het die rol van die patriarg kortliks vertolk.

Tshedza Pictures, die produksiemaatskappy wat Legacy vervaardig, het reeds in Desember verlede jaar besluit om die reeks tot ʼn einde te bring. Die laaste tonele is in Februarie geskiet.

“Terwyl Legacy ʼn gewilde program is, het ons M-Net 101-klante aangedui dat hulle beperkte reekse bo langdurige telenovelles verkies,” het Nomsa Philiso, uitvoerende hoof van programmering by die MultiChoice-groep, in ʼn verklaring gesê.

Christopher, wat die rol van Dineo Price in die reeks vertolk, het op Instagram geskryf dat die span van Legacy finaal van mekaar afskeid geneem het.

“Ek gaan elke liewe een van my kollegas mis. Dis die hardwerkendste span wat ek nog ooit die voorreg gehad het om mee saam te werk,” het sy gesê.

Legacy is nog tot September op weeksaande om 18:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kiewiet

Agh nee GMR maak klaar en nou Legacy ook…dis hartseer want dis 2 seriese wat ek so geniet..maar nou ja dalk kom daar nuwes.