Die tien finaliste van kykNET se bekende talentsoek-reeks Maak my famous is Woensdagaand amptelik aangewys.
Emo Adams, aanbieder van die program, het deelnemers gisteraand met die Geld of geleentheid-segment verras.
In dié segment word die kategoriewenners van die aand ʼn bedrag van R20 000 aangebied. Hulle moet dan besluit of hulle die kontant van die hand gaan wys en in die kompetisie aanbly, of eerder die kontantbedrag wil neem en hul plek in die kompetisie prysgee.
Die Wesso’s het die Emo ticket gekry, terwyl Daylin Sass, Emma Ellis, Ayden en Tamaryn en Jayson Kleinschmidt besluit het om te bly. Dié deelnemers sluit hulle by Gideon Lottering, Henrico Coetzer, Reggie B, Nicoleen Saal en DfeatSA aan.
Adams het ook bekendgemaak dat kykers ongelukkig tot Augustus moet wag om te sien hoe die finaliste mekaar die stryd aansê.
Maak my famous 2 moet weens die Covid-19-pandemie ʼn produksiebreuk neem en sal weer op 5 Augustus 2020 uitgesaai word.
Die tweede seisoen van Maak my famous is oudergewoonte voor ʼn gehoor by die Roxy Revue Bar in Grandwest Casino verfilm. Dit het plaasgevind voor pres. Cyril Ramaphosa die nasionale afsonderingstydperk aangekondig het. Deelnemers en lede van die produksiespan moes ná die aankondiging die verfilming staak en terugkeer na hul verskillende provinsies.
Maak my famous word Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en 21:00 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Dié program word weer vanaf 5 Augustus 2020 uitgesaai.
Hierdie is nou regtig nie my koppie tee nie, alhoewel daar so twee deelnelers is wat uitstaan.
Maar die geskree (deur deelnemers én aanbieders) is baie steurend op mens se ore wanneer jy Tinnitus het.