Maatsoekprogram vir oues wat hunker na liefde

Peter Weber is tans die Bachelor wat soek na liefde in die 24ste Amerikaanse reeks van dié maatsoekprogram.

Die uiters gewilde internasionale televisiereeks The Bachelor is nou op soek na mense ouer as 65 om deel te neem aan ʼn soortgelyke maatsoekprogram.

ABC, die netwerk wat die reeks vervaardig, het Maandagaand na afloop van die jongste episode van die reeks wat tans in Amerika uitsaai, enkellopende mense ouer as 65 genooi om in te skryf vir die program.

Peter Weber, of Pilot Pete soos hy onder aanhangers bekend staan, is tans die Amerikaanse Bachelor wat ʼn lewensmaat soek. Dit is tans die 24ste seisoen van die Amerikaanse reeks.

Inligting oor die nuwe reeks is nog skraps, maar volgens ABC se webwerf is die netwerk op soek na aktiewe, spontane enkellopende mans en vroue in hul goue jare.

Die aansoek vir dié senior maatsoekprogram vra besonderhede soos naam, geboortedatum, haarkleur, gewig, vorige huwelike en waarom dit nie uitgewerk het nie. Die vervaardigers wil ook weet of jy enige tatoeëermerke het en waar dit op jou liggaam geplaas is.

Om in aanmerking te kom vir die program, wat tans “The untitled Bachelor senior dating show” heet, moet kandidate wettige burgers van die VSA of Kanada, uitsluitend Quebec, wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.