Marciel trek weer plaasstewels aan vir ‘BSV’

Marciel Hopkins. (Foto: Facebook)

Marciel Hopkins het Sondagaand aangekondig dat sy vir ʼn derde keer haar aanbiedershoed vir die gewilde werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou sal aantrek.

Die 29-jarige model, lewensafrigter en aktrise, wat onlangs in die rolprent Klein Karoo 2 te sien was, het op die kykNET-leefstylprogram Bravo! gesê sy is slaggereed om soveel moontlik rigtings na die land se boere in te slaan vir die 15de seisoen van kykNET se gewildste maatsoekreeks.

Die reeks is vir die eerste keer op 30 September 2008 op kykNET met Elma Postma as aanbieder uitgesaai. Intussen het bekende gesigte soos Angelique Gerber, Nadia Beukes en Minki van der Westhuizen as aanbieder vir dié reeks opgetree.

Hopkins was ook die aanbieder van seisoen 13 en 14, wat binnekort tot ʼn einde kom. Sy is veral in haar noppies oor die vyf verlowings wat voortgespruit het uit die 13de seisoen en die 14de seisoen het ook ʼn hele rits belowende verhoudings opgelewer.

“Ek was al by twee troues in die proses en daar is reeds ʼn Boer-baba op pad.” Willem en Sanel Pool van Clanwilliam en Niel en Chereze Bruwer, wat deelnemers aan die 13de seisoen was, het reeds voor die kansel gestaan.

Niel en Chereze het ook in Februarie vanjaar aangekondig dat hulle vanjaar ʼn pienkvoet ryker word.

“Dit is ʼn reusevoorreg om vir ʼn derde jaar ʼn pad saam met tien boere te stap en om met hierdie groot verantwoordelikheid vertrou te word. Ek is dankbaar vir die avontuur wat voorlê om nou vir ʼn tweede jaar van die heel begin af ʼn paar duisend kilometer by die Boer-bakkie se afstandsmeter te voeg op soek na liefde vir die boere,” sê Hopkins opgewonde.

Marciel Hopkins. (Foto: Facebook)

Hopkins se eerste keer as aanbieder van Boer soek ʼn vrou was nie sonder duwweltjies nie: Die reeks is aanvanklik in 2021 deur die pandemie in die wiele gery en sy kon die boere eers later in die reeks van nader leer ken.

Dit was vir haar ʼn groot uitdaging, want haar liefde is mense en om hulle persoonlik beter te leer ken.

“Geen besluite word vooraf vir die boere óf vroue geneem nie. Die proses is heeltemal op vrye keuse gebaseer en dit word te alle tye gerespekteer,” benadruk Hopkins.

“Hierdie elemente hou die proses outentiek en eg. Daar is werklik geen verwagting oor die uitkoms van elke boer se proses nie; ons hoop vir groei, die ontwikkeling van selfvertroue en die liefde is dan net ʼn bonus.”

En van die liefde is daar heelwat ter sprake: Haar eie liefdespad loop soos in ʼn sprokie hand aan hand, seisoen vir seisoen, saam met dié van die boere wat op soek is na ʼn lewensmaat en liefde.

“Ek en Handré Lourens (31) trou op 9 April vanjaar. Dit is dieselfde dag waarop hy my ses jaar gelede op Tafelberg uitgevra het,” verklap sy.

Marciel en haar verloofde, Handré Lourens. (Foto: Sulet Fourie Photography)

“Ons is só opgewonde oor ons groot dag, alles is nou gereed vir ʼn mooi en spesiale troudag. My liefdesreis is so pragtig verweef met Boer soek ʼn vrou: Ek het verloof geraak tydens my eerste seisoen, ʼn troue beplan tydens seisoen twee en nou gaan ek ʼn getroude vrou wees as ek my derde seisoen skiet. Dis spesiaal en iets wat ek vir altyd sal onthou.”

Die finale episode van die jongste seisoen van Boer soek ʼn vrou saai op Donderdag 7 April om 20:00 op kykNET uit.

In die reünie-episode kom al tien boere bymekaar en gesels met Hopkins oor hul deelname aan die program. Sy vind ook uit wat in die boere se liefdeslewe aangaan en watter paartjies se verhoudings blom.

Inskrywings vir boere wat aan die 15de seisoen wil deelneem, open op 8 April. Besoek www.kyknet.tv vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Daai die uit tussen een en twee uur soggens op ‘n Woensdag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.