Marguerite van Eeden oor ‘Afgrond’, fotografie en ’n see-uitsig in Seepunt

Marguerite van Eeden. (Foto: Jessie de Bruin Photography/Instagram)

Met rolle in Afrikaanse reekse soos Fynskrif, Sara se geheim en die gewilde nuwe reeks Afgrond, is Marguerite van Eeden tans een van die bekendste jong gesigte op die kassie.

As aktrise het sy ook die hoofrol vertolk in die romantiese rolprent Vergeet my nie teenoor Sean-Marco Vorster, Pietie Beyers en Amalia Uys, maar sy bestee ook ure agter die lens van ʼn kamera as fotograaf.

In Afgrond is sy die regsekretaresse Hannelie Fourie, wat voorheen deur haar pa verkrag is en nou seksueel mishandel word deur haar baas. Hannelie is ook daarvoor verantwoordelik om na haar jonger broer om te sien na haar ouers se afsterwe.

Hannelie is een van vyf vroue van uiteenlopende wêrelde wie se lewens bekyk word in Afgrond. Die reeks ondersoek die een vraag wat hulle almal in die gesig staar: Hoe naby moet ons aan die rand van ʼn afgrond staan voor ons besluit om verantwoordelikheid vir ons eie besluite te neem?

Marguerite (23) vertel sy moes haar karakter se keuses en denkwyses probeer verstaan sodat sy dié gewigtige rol met oortuiging kon vertolk.

“Ek herinner myself gereeld dat die rolle vir ons as akteurs dalk moeilik is om te vertolk of vir kykers om daarna te kyk, maar daar is soveel mense wat in werklikheid hiermee saamleef.”

Sy het voorheen saam met Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van Afgrond, aan Sara se geheim gewerk. Sy bieg dat sy met tye gewonder het hoe sy die rol gaan aanpak, aangesien daar soms ontstellende tonele is, maar dat haar mede-akteur Stian Bam haar veilig laat voel het.

Marguerite van Eeden (middel in rooi) is saam met Gretchen Ramsden, Kanya Viljoen, Jana Kruger en Kim Cloete in ‘Afgrond’ te sien. (Foto: kykNET)

“Hy is net so ʼn ongelooflike mens dat dit soveel pret was om teenoor hom te speel. Ons het mekaar ten volle vertrou, al het ons partykeer ongemaklik gegiggel wanneer ons tonele geoefen het. Ons het altyd probeer om dit lig te hou tot wanneer ons skiet, sodat ons die storie met respek kan hanteer. Stian is ʼn besonderse mens en akteur.”

Marguerite en die span van Vergeet my nie het na Londen, Namibië, Potchefstroom, Johannesburg en Kaapstad gereis om die fliek te skiet. Dié fliek het op Valentynsdag verlede jaar, kort voor die inperking weens die Covid-19-pandemie, in fliekteaters landswyd begin draai.

Dit vertel die ware verhaal van Mardaleen en Hugo Derks, ʼn egpaar van Namibië, wat vele struikelblokke in hulle verhouding oorkom om uiteindelik vir altyd saam te wees.

“’n Mens raak só gemaklik met mekaar,” sê sy en lag oor ʼn vrytoneel tussen haar en Sean-Marco waartydens haar neus begin bloei het.

Marguerite van Eeden en Sean-Marco Vorster in ‘n toneel uit ‘Vergeet my nie’. (Foto: Facebook)

Sy vertel haar liefde vir fotografie het tydens die inperking geblom toe werk in die kunstebedryf skaars was. Bekendes soos Bridget Marshall van The Bachelor-faam (wat met Marguerite se nefie, die rugbyspeler Kobus de Kock, uitgaan), Edwin van der Walt, Simoné Pretorius, Nicole Fortuin en Marciel Hopkins het al voor haar kameralens gekuier.

“Ek het ‘n BA-graad studeer en het geen agtergrond in fotografie gehad voordat ek tydens die inperking uit verveling my kamera opgetel het en begin foto’s neem het nie. Ek geniet dit ongelooflik baie.”

As sy nie voor of agter die kamera kuier nie, kuier sy saam met vriende en familie. Sy sit ook glo ure lank voor die venster van haar woonstel in Seepunt en kyk uit op die see. Sy het onlangs hier ‘n nuwe hoofstuk begin nadat sy Stellenbosch se landskappe vir die see verruil het.

“Ek het ‘n groot winskoop losgeslaan op die woonstel tydens die inperking en ek kon dit nie weerstaan nie. Ek bly só lekker hier; ek het selfs al ‘n walvis vanuit my venster gesien.”

Afgrond word op Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Noels244 ·

Ek was lanklaas so geboei deur ‘n reeks as met Afgrond. Dit is baie ontstellend met tye, maar mens kan jouself in van die vroue raaksien. Ek sien uit daarna om die slotsom van almal se stories te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.