Matriekseun (18) wen duisende op kennisprogram

Jaydon Myburgh. (Foto: verskaf)

“Ek het eers ingeskryf en tóé my ouers se toestemming gevra!”

Só skerts die18-jarige Jaydon Myburgh, die eerste deelnemer wat in die tweede seisoen van die kykNET-trefferreeks Wie Word ’n miljoenêr? sy algemene kennis op die spel geplaas het.

Jaydon is nie net die jongste deelnemer wat Wie word ’n miljoenêr al gehad het nie, hy is ook die enigste deelnemer in die program se geskiedenis wat nog agter die skoolbanke gesit het. Hy was tydens die verfilming van die episode ’n matriekleerling aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

Sy waagsprong het vrugte afgewerp – dié tienerseun het met R50 000 in die sak die spel voltooi.

“Ek het dit glad nie verwag nie,” het Jaydon aan Maroela Media vertel.

“Ek wou dit net verby die vinnigste vingers-gedeelte van die program maak!”

Nie eers Rian van Heerden se ysterblik en bekkige aanbiederstyl het dié jong man van stryk gebring nie.

“Rian het my eintlik heel op my gemak laat voel,” erken Jaydon.

Hy wou eintlik al vir die eerste seisoen inskryf, erken hy, maar was toe nog te jonk. Dit was skaars vyf minute nadat hy die advertensie van die tweede seisoen gesien het, toe skryf Jaydon al in.

“Ons het deur die jare die Engelse weergawe van die program in die huis gekyk. Ek was baie opgewonde toe ek sien dat daar nou ’n Afrikaanse weergawe is.”

Jaydon het pas matriek voltooi met twee onderskeidings wat agter sy naam pryk. Hy hoop egter om nog vier in te palm nadat die hermerkproses afgehandel is.

Hy begin vanjaar met ’n programmeringskursus in Johannesburg om hom voor te berei vir die graad in meteorologie wat hy graag volgende jaar by die Universiteit van Pretoria wil begin.

Die R50 000-prysgeld gaan netso in sy studies geploeg word.

“Ek het nie eers daaroor gewonder nie. Dit gaan ’n hupstoot vir my toekoms wees.”

As hy sy sin kry, is dit ook nie die laaste program waaraan hy deelneem nie.

“Ek hoop om eendag aan Survivor ook deel te kan neem; ek was nog altyd mal daaroor!”

  • Wie Word ’n miljoenêr? word Saterdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Welgedaan, jongman. Dit is duidelik dat hy nie homself met rekenaarspeletjies besig hou nie. Vandaar sy goeie algemene kennis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.