ʼn Nuwe seisoen van die kykNET-reeks, MegaBoere, is van 5 Oktober op die kassie en benewens boere met vasbyt, inisiatief en ondernemingsgees, kan kykers ook ʼn nuwe aanbieder van dié program verwag.
Die oud-tydskrif en –koerantredakteur, Bun Booyens, gaan in die derde seisoen die leisels as aanbieder oorneem.
In die nuwe reeks, van dertien episodes, sal kykers skaapboere, melk- en graanboere, asook sitrus- en pekanneut-boere van onder meer Wellington, Upington, die Sondagsriviervallei en die Natalse Middelande ontmoet.
“Suid-Afrika is verbonde aan die grond, die bodem, meer as enige ander nasie wat ek al teëgekom het,” het Booyens in ʼn onderhoud met kykNET Digityd gesê.
“Om te boer is een van die moeilikste bedrywe waarin jy jou kan begewe, omdat jy uitgelewer is aan soveel veranderlikes buite jou beheer: die weer, die wisselkoers, die mark en die politiek.”
Kykers kan hierna uitsien vir die eerste vyf episodes:
Episode 1: Bosman-Adama
Die Bosman-familie boer al vir langer as 200 jaar op die plaas, Lelienfontein, buite Wellington en is een van die suksesvolste wynstokkwekerye in die Suidelike Halfrond. Hulle staan ook bekend as stokkiesboere.
Episode 2: Gog van der Colff
Die Van der Colffs boer sedert die vyftigerjare op Kanonkop naby Upington. Hulle is sedert 2011 ʼn ten volle geakkrediteerde organiese boerdery. Gog boer met rosyne, tafeldruiwe en pekanneute.
Episode 3: Konsortium Merino
Van ʼn klein begin as ʼn tegniese adviesdiens vir skaapboere, is Konsortium Merino vandag ʼn handelsmerk om mee rekening te hou. Dié maatskappy het ʼn unieke model wat boere die geleentheid gee om te groei.
Episode 4: Charles Back
Charles Back is die eienaar van Fairview buite die Paarl. Hy is een van die grootste wingerd- en wynboere in Suid-Afrika, met meer as ʼn dosyn plase in die Boland en omtrent ewe veel verwante bedrywe wat hy daarom tot stand gebring het.
Episode 5: Joubert en Verster
Gert Joubert en Francois Verster het sowat 4500 hektaar onder besproeïng naby Vanderkloof by die Oranje-Rietrivierskema. Hulle is oorspronklik van Dewetsdorp, maar as gevolg van droogte en hoë insetkostes, het hulle groener weivelde gaan soek.
Besoek die kykNET-webwerf vir meer inligting oor die res van die reeks.
Jammer Piet!