Melinda Brink oor rol as ‘Binnelanders’ se ‘geliefde skurk’

Melinda Brink vertolk die rol van Tracy Smit in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Tracy Smit het destyds Binnelanders-kykers se sitkamers betree as ʼn skurk wat ʼn groep skollies gehelp het om ambulanse te kaap.

Nou, twee en ʼn half jaar later, het Tracy ʼn ommekeer in haar lewe ervaar en is sy een van die Binneland-kliniek se geliefdste karakters. Sy sorg by tye ook vir komiese verligting met haar anderkant-die-treinspoor-sêgoed en gemengde taal.

Die donkerkop-aktrise Melinda Brink (28) wat dié rol vertolk, vertel aan Maroela Media daar was min inligting oor Tracy se agtergrond beskikbaar toe sy daarvoor ʼn oudisie afgelê het.

“Ek het geweet sy het geen kontak met haar familie nie en is ʼn voormalige ontkleedanseres wat enigiets sal doen om vinnig geld te maak en wat weet hoe om mans te manipuleer. Daar was egter geen karaktereienskappe wat verduidelik het hoekom sy is soos sy is nie,” verduidelik Brink.

“Aan die begin kon ʼn mens dus nie anders as om haar te oordeel nie, want jy kon net die slegte goed sien wat sy doen. Soos wat haar storielyn meer ontwikkel het, het die kyker gesien hoekom sy optree soos sy doen.”

Brink vertel dat sy empatie met die karakter kon hê aangesien sy glo dat mense die produk is van hulle omstandighede en dat Tracy haar eie besluite moes neem en geen familie het om haar te lei nie.

“Sy is regtig so ʼn lekker karakter om te vertolk, want sy het so ontwikkel van die begin af tot nou waar sy eintlik net die beste wil wees wat sy kan wees. Sy is werklik klaar met die donker lewe en loop nou ʼn reguit paadjie. Die ou Tracy se houding en sêgoed is een ding wat die skrywers nooit sal wegneem nie en ek is so bly daaroor. Dit maak haar ook anders.”

Melinda Brink as Tracy in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Brink sê hoewel sy al mense soos dié van Tracy se karakter raakgeloop het, is dit nie moeilik om haarself in Tracy se skoene te plaas nie.

“Die tekste word so goed geskryf dat ek nie veel ondersoek hoef in te stel nie. Die kykers is lief vir haar omdat sy die buiteperd is, wat ʼn baie skrale kans het om sukses te behaal in die lewe. Sy het ʼn goeie werk gekry ten spyte van haar verlede en sy gryp die geleentheid om haar lewe te verander met albei hande aan. Tracy inspireer my en dit is hoekom ek so lief is vir haar,” sê Brink.

Sy speel daagliks teenoor gesoute akteurs soos Hans Strydom (dr. At Koster), Hykie Berg (dr. Conrad Koster) en Cindy Swanepoel (dr. Annelize Roux).

“Ek moet myself partykeer knyp dat ek in my eerste televisierol teenoor sulke ervare akteurs speel en ek het al verskriklik baie geleer. Ek was aan die begin baie op my senuwees en het nie presies geweet hoe die veelvuldige kameras werk nie, maar akteurs soos Hykie en Cindy het my so welkom laat voel dat ek gevoel het ek kan al meer waag en kanse vat.”

Melinda Brink as Tracy in ‘Binnelanders’. Hier is sy te sien teenoor Hykie Berg in die rol van dr. Conrad Bester. (Foto: kykNET)

Sy is gek oor die Binnelanders-stel, sê sy. “Dit is ʼn so ʼn kreatiewe plek waar jy net die vryheid het om te wees.”

Voordat sy die rol van Tracy aanvaar het, het Brink hoofsaaklik teater en solovertonings gedoen. Die pas van ʼn sepiestel is dus iets waaraan sy gewoond moes raak.

“Dit was vir my ʼn groot verandering en ek pas nog steeds aan. Ek is ʼn baie private mens wat my lewe tussen my plante en diere verkies bo sosiale media en die internet.”

Sy en haar man, die musikant en akteur Francois Viljoen, is in Desember verlede jaar getroud. Hulle het as dramastudente by Shareen Swart se dramaskool, Pali (Performing Arts Lifestyle Institute), ontmoet. Bekende akteurs soos Kaz McFadden en Juanita Velts was ook studente aan dié dramaskool.

Melinda Brink en haar man, Francois Viljoen. (Foto: Instagram/Melinda Brink)

Sy en haar man woon deesdae in Randburg, Johannesburg, nadat sy vir ʼn jaar lank tussen Pretoria en Johannesburg gependel het. Hulle het twee “hondekinders” –Kallie, ʼn spanjoel, en Phoebe, ʼn labrador-kruising en aanneemhond.

“Die eerste paar maande was Kallie nie baie ingenome met die idee om die aandag wat hy kry te deel nie, maar ʼn jaar later is Kallie mal oor sy aangenome sussie. Ek is baie passievol oor diere-aanneming en as ek ʼn groter erf gehad het, ek beslis nóg ʼn paar hondekinders aangeneem.”

Binnelanders is weekaande om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snuffels ·

Mal oor hierdie mensie wat haar lewe so mooi omgeswaai het ten spyte van baie opdraandes.

Elinette ·

Ek wil net sê – as die karakter verlam is aan haar linkerkant, sal sy GEEN beweging kan maak met dié kant se arm en been nie; hoe is dit dan dat sy soms haar linkerskouer kan optrek en kan loop?

SwartBees ·

Geniet maar net die sepie en moet nie TE tegnies raak nie.

Blikkies ·

Moet se, ek geniet haar nogal. Hoop sy bring nog vir ons baie ure van genot.

Kobus ·

Nee wat dankie,ek geniet haar nou glad nie. Wens hulle wil haar weglaat uit Binnelanders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.