Mike Bolhuis-misdaadreeks eersdaags op kassie

Mike Bolhuis. (Foto: Verskaf)

Mike Bolhuis. (Foto: Verskaf)

Die spesialis-ondersoeker Mike Bolhuis, die man wat wetsoortreders se broeke laat bewe, is vanaf Oktober op kykNET in die misdaadreeks Bolhuis te sien.

Bolhuis, wat beskou word as een van Suid-Afrika se top-ondersoekers, was al betrokke by van die land se grootste moord- en bedrogsake. In dié reeks word daar dieper gedelf in van die sake wat al op sy lessenaar beland het, soos die Delmas-moorde, waarin die vyf maande oue Wiehan Botes en sy oppasser vermoor is en waarvan die moordenaar steeds op vrye voet is.

Ander onderwerpe wat ondersoek gaan word, sluit die volgende in:

Dwelmmuile: Desperate lede van die publiek word oortuig om dwelms in of uit die land te smokkel net om uiteindelik in die buiteland tot lang tronkstraf gevonnis te word of selfs die doodstraf opgelê te word. Hierdie misdryf word verder ondersoek en daar word met dwelmmuile se families gesels wat steeds in hoop probeer lewe.

Wurban: Willie Steenkamp was ʼn finansiële konsultant en die hoof van ʼn internasionale beleggingsmaatskappy genaamd Wurban wat beleggers fabelagtige winste belowe het. Uiteindelik het miljoene rande én Steenkamp spoorloos verdwyn. Bolhuis het gou Steenkamp se ware kleure agtergekom.

Ralph Haynes: Ralph Haynes, die man wat bekend was as die “Godfather van die Wes Rand”, verdwyn spoorloos in 2011 nadat hy vanaf Kitty Hawk-lughawe in ʼn helikopter opstyg. Maar hoekom was Haynes so berug en wat presies het van hom geword? Bolhuis soek steeds voort na hierdie man wat hy maar al te goed geken het.

Die Knysna-moorde: Gedurende ʼn besonder bloedige paar maande in die pragtige dorpie Knysna verloor drie mense hulle lewe aan wat lyk soos die handewerk van ʼn reeksmoordenaar. Uiteindelik word ʼn plaaslike platejoggie in hegtenis geneem, maar sit die verkeerde persoon agter tralies? Bolhuis besoek weer Knysna saam met ʼn joernalis wat destyds die storie gedek het.

Selfdood: Wanneer besluit ʼn persoon om hul eie lewe te neem en wanneer probeer ʼn moordenaar om dit soos selfdood te laat lyk? Bolhuis kry gereeld met hierdie tipe sake te doen. In die reeks word daar gesels met familielede wat agterbly met meer vrae as antwoorde. Ook vertel ʼn oorlewende van ʼn poging tot selfdood hul verhaal.

Rian van Heerden, die vervaardiger van Bolhuis, meen die reeks gaan nie net baie interessant wees nie, maar dat kykers diep geraak gaan word. “Mike het ons vrye toegang tot sy organisasie, sy sake en sy lewe gegee ten einde hierdie reeks te vervaardig. Tydens die 13 episodes sal jy ware verhale van misdade beleef wat jou nie onaangeraak sal laat nie – net soos jy uiteindelik nie sonder ʼn sterk opinie van Mike sal wees nie.”

Bolhuis meen hy wil vir kykers wys wat die realiteit in Suid-Afrika is en verskuilde kwessies na vore bring. “Kyk in konteks na elke episode van hierdie reeks en leer hoe om misdaad te verhoed en aan te spreek. En oor myself: Fokus op die feite en nie op hoorsê-inligting nie.”

Bolhuis word vanaf Oktober op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

WILLIE ·

AG NEE SPEURDER SE VOET WATTER SAKE HET HY AL OPGELOS [SAKE VAN BELANG]WAAR EN WATTER OPLEIDING HET HY GEKRY LEES JUL BERIG VOLGENS JUL BERIG IS ALLE SAKE HANGENDE EK LAG VIR JUL BESKRYWING VOORSTE

Dirk01 ·

Sal dit n komedie reeks wees? ondersoek Ralph Haynes en………..

ChrisE. ·

Willie, ek stem saam met jou. Ek wil nie oor die man uitbrei nie. Dit is net verbasend hoe naiëf/goedgelowig mense kan wees. Dit daar gelaat.

leser ·

sake wat al lank uitstaande is, hoe nou, dit word nie opgelos nie
nee wat, hou hom weg van die tv
hollywood sal nie eers plek vir hom hê nie

Daan Erasmus ·

Mike is miskien nie die beste speurder/ondersoekers nie. Maar beslis een van die kleurrykste karakters in die besigheid. En glo my, ‘n goeie vriend en ‘n aaklige vyand.

Nadia ·

Ek ken nie sy verlede of werk of wat ookal nie… maar ek se nooit nee dankie vir nog ‘n program in ons taal nie! Dankie Kyknet!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.