Mila Guy maak regisseursdebuut

Mila Guy. (Foto: Charné Kingwill)

Die lewe behandel die aktrise Mila Guy die afgelope paar maande goed: Nie net is daar ʼn aantreklike jong man aan haar sy nie, maar sy het ook haar debuut as regisseur van ʼn vollengte rolprent gemaak.

Guy (28) vertel aan Maroela Media sy wou nog altyd ʼn regisseurshoed dra en het tydens die inperking haar akteursvriendin, Ansu Visser, gevra om ʼn draaiboek te skryf sodat sy haar vaardighede agter die kameras kon oefen.

Die begin handel oor twee mense se verhouding – die begin daarvan en die einde en wat tussenin gebeur. Visser en Wilhelm van der Walt vertolk die hoofrolle in die vollengte kykNET-Storiefilm. Die projek het aanvanklik as ʼn kortrolprent in Guy se kombuis begin.

“Tydens die inperking het ons die draaiboek wat Ansu geskryf het in ʼn kortrolprent ontwikkel en het dit in my kombuis geskiet. Ansu het toe teenoor my goeie vriend Bennie Fourie die hoofrol vertolk,” vertel Guy, wat in Linden, Johannesburg, woon.

Toe sy van Storiefilms te hore kom, het sy dadelik besluit om haar konsep en kortrolprent voor te lê om in ʼn vollengte rolprent te ontwikkel. Nadat sy die groen lig gekry het, het Fourie ongelukkig siek geword en sy het vir Van der Walt genader om die manlike hoofrol te vertolk.

Sy vertel sy was op ʼn troue op Victoria-Wes in die Noord-Kaap saam met haar kêrel, die Kaapse argitek Gert Coetzee (28), toe die fliek vir die eerste keer op kykNET uitgesaai is.

Mila Guy en haar kêrel, Gert Coetzee. (Foto: Instagram/Gert Coetzee)

Hy het egter ʼn romantiese plan beraam sodat sy nie die fliek misloop nie en het haar ná die ete op die troue na die Apollo-teater op die dorp geneem. Daar het hy haar bederf met vonkelwyn en karamel-springmielies terwyl hulle na die rolprent kyk.

“Daar is dinge wat ek anders sou wou doen en dit sou voordelig gewees het om tyd te hê vir voorproduksie. Ongelukkig kon ons dit nie doen nie weens die druk tydperk wat ons het om die flieks te maak.

“Omdat ek self ʼn akteur is, was dit vir my belangrik dat hulle ʼn prioriteit moes wees. Dit wat ek uit die akteurs gekry het, is vir my baie mooi en ek is werklik trots daarop.”

Sy bieg dat dit angswekkend was om vir die eerste keer agter die kameras aan die stuur van sake te wees.

“Jy moet deurlopend fokus en heeltyd op jou voete dink. Jy moet konstante besluite neem en jy word heeltyd vir leiding gevra. Die vinnige pas waarteen ons moes werk, het ook ekstra druk op my geplaas.

“Ek het egter deeglik voorberei en ek het ʼn gemeenskap gehad wat my ondersteun het. Dis ʼn vreemde proses om as regisseur jou eie stem te vind en om die een te wees wat die besluite moet neem. Daar is nie tyd om onseker te wees nie.”

Guy is binnekort teenoor Fourie te sien in die rolprent Speelkamer, ook ʼn kykNET-Storiefilm. Francois Nolte is die regisseur van dié drama wat handel oor ʼn jong getroude paartjie wie se huwelik op die rotse beland het en die stryd om toesig oor hulle jong seun.

“Dit is altyd lekker om saam met Bennie te werk, want ek ken hom al so goed. Dit was ook heerlik om saam met hom ʼn drama te doen, want ons doen gewoonlik komedie saam en ʼn mens kan vinnig in die ritme van ligte rolle verval.”

Guy en Fourie het teenoor mekaar in die kykNET-reeks Hotel asook in die kortrolprent Miemie (en die meteoriet wat haar definitief gaan tref) gespeel.

Sy vertel dit was moeilik om die rol van ʼn ma in Speelkamer te vertolk. “Dit is ʼn fliek waarmee mense van ons ouderdom kan identifiseer, want ongelukkig skei mense deesdae op ʼn jong ouderdom en is daar dikwels kinders betrokke.”

Haar eie ouers woon in Nieu-Seeland en weens die pandemie het sy hulle ʼn jaar en ʼn half laas gesien. Haar jonger suster, Maro, woon ook by hulle ouers.

“Dit is frustrerend, met die onderskeie lande se reëls en veral Nieu-Seeland se streng reëls in terme van reis en besoekers. Ons beplan om mekaar dalk elders in die wêreld te ontmoet, maar ons werk nog daaraan.”

Mila Guy en Bennie Fourie in ‘n toneel uit ‘Speelkamer’.

Sy lag as sy vertel haar ouers het haar donkerkopkêrel via ʼn video-oproep ontmoet. “Ek het al sy familie ook ontmoet en skakel baie maklik by hulle in. Hulle is lieflike, plat-op-die-aarde-mense. Dit kom tot my redding in ʼn tyd waar ek nie my eie ouers kan sien nie.”

Speelkamer is Sondag 23 Mei om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.