Mila Guy ontgin komediegoud in Afrikaans

Mila Guy is Malanie in ‘Hotel’. (Foto: Petrie Schoeman)

Toe Mila Guy uitvind die rol van Karien in Casper de Vries se nuwe sketskomedieprogram op kykNET is hare, was sy dadelik onseker of sy dit sal kan doen – improvisasie-dialoog teenoor een van die land se bekendste komediante sit immers nie in elke akteur se broek nie.

“Ek het nooit gedink ek sal komedie doen nie. Ek wou altyd net dramatiese rolle speel en het glad nie gedink ek is snaaks nie. Hoewel dit altyd my instink is om iets dieper te maak, het ek later agtergekom daar is tog ʼn ligter kant aan my en het dit begin ontgin,” sê sy.

Sy het haar dramavaardighede behoorlik ten toon gestel as die bruid in die rolprent Wonderlus. Haar eerste uitblinkerrol as komediese aktrise is as die droë en ietwat kwaaierige Malanie Schmidt in die kykNET-reeks Hotel.

“Dit is toe ek besef hoe moeilik komedie eintlik is. Almal lag nie vir dieselfde goed nie, so om mense te laat huil is baie keer makliker. Jy moet letterlik in die oomblik wees. Nou is ek mal daaroor en is baie dankbaar dat ek dit gevind het,” vertel Guy.

Mila Guy en haar aktrise-vriendin en buurvrou Ansu Visser verlede jaar by die Aardklop-programbekendstelling in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Sy vertel sy en (Beer) Adriaanse, haar kêrel, geniet mekaar se geselskap tydens die algehele afsonderingstydperk en kyk saam na flieks en lees inspirerende boeke soos The Richest Man in Babylon.

“Ek het ook begin teken, nie dat ek kan nie, maar sommer net vir die pret. En ons het begin oefen, iets wat ons nooit gedoen het nie. Ek dink ons mis ons stappies ongelooflik baie,” sê sy. Sy en Adriaanse deel ʼn woonstel in Linden, Johannesburg, en hul buurvrou is die aktrise en aanbieder Ansu Visser.

“As vryskutters is ons gewoond daaraan om baie tyd by die huis deur te bring, maar dit is soveel anders wanneer ʼn mens nie vinnig na ʼn restaurant of klerewinkel toe kan gaan nie. Ons het selfs nou die dag gaan bloed skenk en 45 minute in ʼn ry gestaan net om uit die huis te kom. Ons het gelukkig ons leesboeke saamgevat,” vertel sy.

Guy (27), wat die rol van die fotograaf Lana in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk, sê dit is lekker om haar vel te laat rus noudat sy nie elke dag op die stel in die grimeerstoel hoef te wees nie.

Sy bieg egter dat die afsondering haar soms mismoedig laat voel. “Ek dink dit is normaal om met tye so te voel. Almal in die wêreld gaan tans deur ʼn rouperiode, want ons het in ʼn sin ons vryheid verloor en mense verloor hul lewens. Sommige mense word nou daarvan ontneem om hul rede om op te staan in die oggend uit te leef.”

Mila Guy (middel) op die verhoog in ‘Die Intermissie’ op vanjaar se US Woordfees saam met (v.l.n.r) Schalk Bezuidenhout, Barbara Brasington, Bennie Fourie en Beer Adriaanse. (Foto: Facebook/Mila Guy Page)

Al manier om hierdie negatiewe gevoelens te laat wyk, is deur dit een dag op ʼn slag aan te pak. “Kyk flieks en eet iets lekker, maar as jy die volgende dag nog steeds so voel, staan op en doen iets prettigs soos ʼn oefenprogram of speel ʼn bordspeletjie.”

Guy en Adriaanse is ook saam met Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Bouwer Bosch en Barbara Brasington te sien in die sketskomedieproduksie Die intermissie. Die produksie is op talle kunstefees uitgevoer en is vanjaar vir ʼn Fiësta-toekenning in die kategorie vir beste duo of ensemble benoem.

Bezuidenhout, wat die rol van Danny Beyers in Hotel vertolk, is ook teenoor Guy te sien in die komedieskets De Laager, wat elke week te sien is as deel van De Vries se program.

“Dit was lekker om Schalk saam met my op die stel te hê, want ons ken mekaar goed en kon van mekaar se energie af speel. Wat sketskomedie eintlik soveel pret maak, is dat jy kan spot met die lewe en weg kom daarmee. Dit is hoekom Schalk met alles weg kom, want hy is ʼn komediant!” lag sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.