Minki glo nou aan ‘TV-liefde’

Minki van der Westhuizen (Foto: Facebook)

As jy haar verlede jaar gevra het, het sy dalk ʼn oomblik of twee gehuiwer of dit wérklik moontlik is om op die kassie as deelnemer aan ʼn werklikheidsprogram halsoorkop verlief te raak – maar nóú glo die model en televisieaanbieder Minki van der Westhuizen aan “TV-liefde”.

Van der Westhuizen, wat vroeër vandeesmaand bekend gemaak het dat sy met haar derde kind swanger is, gaan vir die tweede keer die aanbieder van die gewilde kykNET-werklikheidsprogram Boer soek ʼn vrou wees. Dié reeks se tiende seisoen begin in Oktober op die kassie wys.

Die skoonheid het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy is nog altyd maar ʼn voorstander vir die liefde, maar dié reeks het haar oortuig dat liefde op enige wyse sy ontstaan kan hê. “Ek was ook maar soos ander mense skepties oor mense wat lief en verlief raak op die kassie,” terg sy. “Maar nou het ek eersterangse ervaring om te sien dat dit werklik werk. Ek staan verstom oor die nuwe reeks. Sonder om te veel te verklap, wil ek noem dat kykers duidelik die verliefdheid in dié reeks gaan opmerk. En dis real, daar is niks aangeplak daaraan nie.”

Talle kykers van dié reeks het in Januarie vanjaar hul misnoeë oor sommige van die deelnemers aan die program uitgespreek. Dié manne se besluite, wat oënskynlik onverwags was, het talle kykers warm onder die kraag gehad, en kykers het die boere onder meer daarvan beskuldig dat hulle nie “werklik liefde soek nie”.

Minki van der Westhuizen (Foto: Facebook)

Van der Westhuizen lag hieroor. Sy sê dit is jammer dat die sukses van die program gemeet word aan die hoeveelheid verhoudings wat “uitwerk”. “Dit is inderdaad so dat ons en die kykers hoop dat die verhoudings uitwerk en die boere gelukkig is – almal hou van ʼn goeie einde. Maar die reeks gaan veral ook oor die reis. Die boere leer ken hulself beter as ooit vantevore. Aan die einde van die reeks sê die boere dikwels hulle is gemakliker met hulself en om meisies te benader en hulle is ontvanklik vir liefde. Maar dit is so dat ons almal hoop vir ʼn sprokiesverhaal ná die reeks.”

Sy sê kykers kan egter in dié reeks uitsien na meer liefdesverhale as voorheen. Daar is boonop ook intieme oomblikke tussen die boere en die meisies soos ʼn “skelm soen hier en daar”. “Die jongste reeks het baie interessante kinkels en dit verloop baie lekker. Daar is weer oomblikke wat niemand gaan verwag nie. Dan is daar natuurlik ook die indrukwekkende landskappe. In die vorige seisoen het die pragtige Oos-Kaap my beïndruk en in dié reeks is dit Loeriesfontein in die Noord-Kaap. Dit gaan ʼn treffer wees; almal moet gereed sit.”

Lees meer oor die finaliste wat in Mei vanjaar bekend gemaak is en ook die opsommings van die episodes in die jongste reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.