Minki nié meer aanbieder van ‘Boer soek ʼn vrou’

Minki van der Westhuizen (Foto: Facebook)

Nadat Minki van der Westhuizen die afgelope twee seisoene as aanbieder van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou die harte van kykers verower het, gaan dié skoonheid die leisels van die program oorgee.

Minki het Maandag in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dit was ʼn “moeilike besluit” om te neem om voortaan nié meer as aanbieder van die program op te tree nie.

Sy sê die besluit is gemaak as gevolg van logistieke redes rondom haar derde kind se geboorte. Sy en haar man, Ernst, verwag dié bondeltjie in Maart vanjaar.

“My hart is baie seer en dis vir my baie jammer dat ek die reeks nou moet verlaat,” vertel sy. “Dit sou egter nie vir my moontlik gewees het om reeds in April met die verfilming van die reeks te begin en dan my baba óf by die huis te los óf saam met my te neem nie. Ons wou graag nog ʼn kind gehad het, en ek het vir die Here gesê die tydsberekening moet vir my ʼn aanduiding wees of ek nog ʼn reeks moet doen, maar dit werk ongelukkig nié so uit nie.”

Minki van der Westhuizen (Foto: Facebook)

Die skoonheid sê hoewel sy “al hoe meer wonder” of sy nie ʼn fout gemaak het nie, is sy opgewonde om dié reeks van haar sitkamerbank te volg. “Ek besef my hart gaan selfs nog seerder wees as die verfilming van die reeks eintlik begin. Vir twee jaar lank het die reeks só ʼn groot deel van jou lewe uitgemaak, dat dit skoon vreemd voel om nié daarmee besig te wees nie. Ons is egter baie opgewonde om ons nuwe baba in die huis te verwelkom en ek gaan dié reeks beslis volg.”

Dit gaan veral vir haar moeilik wees om nié te weet wat volgende in die reeks gebeur nie, vertel sy. “Van die lekkerste hoogtepunte wat ons op die reeks gehad het, was agter die skerms. Ek het saam met die wonderlikste span gewerk wat werklik die beste is in hulle velde. Dit was lekker om te weet wat die intriges is en wat volgende gaan gebeur – met die nuwe reeks gaan ek baie nuuskierig wees,” sê sy.

Minki gaan ook nié by die Kaapstad-konsertreeks van Afrikaans is Groot te sien wees nie. Sy vertel hoewel sy jammer is om geleenthede te laat vaar, glo sy dat alles op die regte tyd gebeur en dat baie ander geleenthede ook nog oor haar pad gaan kom. “Ek moet eintlik bly wees om bietjie ʼn breek te vat om te verhoed dat mense moeg raak vir my,” terg sy. “In alle erns: Ek is ongelooflik passievol oor televisie en sal graag wil terugkeer televisie toe, maar ek glo ook dat alles op sy tyd gebeur en ons is opgewonde oor ons nuwe bondeltjie saam met wie ons nou baie tyd gaan kan deurbring. Boer soek ʼn vrou was ʼn blessing – en as ek gelukkig genoeg is sal so ʼn geleentheid weer oor my pad kom.”

Minki se wenke aan die nuwe aanbieder:

  • Wees net jou outentieke self en moenie jou steur aan verwagtings nie.
  • Druk jou eie stempel op die reeks af – maak seker dat die kykers jou menswees en hart leer ken.
  • Dis belangrik om die boere en die meisies op hul gemak te maak – praat met hulle soos jy met ʼn vriendin sou gesels.
  • Onthou: Dis baie harde werk, maar hope pret!

kykNET het nog nie ʼn nuwe aanbieder vir die reeks bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Sarel Strydom ·

My respek vir Minki word net groter. Sterkte met die nuweling.

Daan Erasmus ·

ASB. Net nie ‘n aktrise nie. Aktrises wil altyd iemand anders wees. Daar is n “rol” wat vertolk moet word. Gee ons weer ‘n egte regte mens. Minki was ‘n goeie voorbeeld. En ook nie ‘n pop waar dit oor haar voorkoms gaan nie.

Sons ·

Sal Kyknet publieke voorstelle aanvaar vir die nuwe aanbieder?

Ellisras ·

Ja. Wat van Schalk Bezuidenhout. Of Jack Parrow. Hannon mag dalk die boere te mooi maak. En Zuma is binnekort werkloos.

Uvonka ·

Dit is nou slegte nuus! Hulle gaan dit moeilik vind om iemand te kry wat Minki se skoene kan volstaan. Asb, asb Kyknet net nie ‘n lawwe pop wat dink die program draai om haar nie. My voortsel sou Donna-Lee Roberts wees.

Bokram ·

Kies vir n slag n mans aanbieder,hoekom moet dit n vrou wees?

Gerda Grové ·

Minki hét die regte besluit geneem. Terugskouend is ek bly ek het my twee spruite my álles gegee. Dis nou my brandhout noudat beide oorsee woon. Hul word so gou groot en dan kan jy weer geleenthede benut. Geniet jou kinders.

Gesiggie ·

Alle sterkte vir jou… Mienkie en met die aankoms van die nuwe kleinding”’ wonder wie nou die nuwe aanbieder gaan wees? Wat van Ou Hilda… van 7 de laan??? Ha ha (^_^)….

Louwrens ·

Daar is twee opsies ek dink die reeks moet stop dit begin afgesaag raak of dalk moet julle boer Johan vra

Nog 'n voorstel ·

Ek dink nou aan Kim Cloete maar sy is sekerlik vasgeteken by Binneland. Stem saam net nie ‘n aktrise mer haarverlengings ens nie. Selfs Therese Benade mag pas maar ook sy is vas by Kwêla.

Saartjie ·

Wat van Amore Bekker van RSG – sy het pas haar eerste program aangebied op VIA en eas uiters suksesvol. Sy het die regte houding en baie deernis.

Sydney ·

Minki ons gaan jou sowaar mis op die program jy is ‘n fantastiese mens maar jou gesin kom eerste en dit is hoe dit moet wees.
Alle sterkte vir jou en jou man met die aankoms van die nuwe baba.

Sydney ·

Minki ons gaan jou sowaar mis op “Boer Soek ‘n Vrou. ” Mag die nuwe baba vir jou en jou man net vreugde bring.

ChrisE ·

Ag nee. Ek het van al die aanbiedsters gehou. Minkie het egter bietjie uitgestaan. Dis jammer sy is van die program af. Ek sal haar beslis mis.

Etienne ·

Minki van der westhuizen-gaan maar ons hou egter van Minki Joubert.

Marius ·

Gaan vir Minki bitter baie mis! Daar is n paar waaraan ek kan dink Kim CLoete heelbo!

Die Skim ·

Dankie Minki,
Ons het jou aanbieding geniet. Jy het die X-faktor…. of is dit die Y-faktor….??
Geniet die Wonderwerk en kom weer spoedig terug kassie toe, dis al.
Kyknet,,,, kry ‘n temp!

Boer-soek-vrou ·

Nee Saartjie! ASB NIE Amore Bekker nie! Minki se skoene sal moeilik volgestaan word want sy was soooo gemaklik! Ek het haar baie geniet.

Susan ·

Ek dink Nadia Beukes was die beste aanbieder en sy het regtig n baie goeie werk gedoen.

JHJ ·

Kry vir Jonathan van die Radio Raps Faam, ek sal dan die reeks volg

VanAfrika ·

Niks fout met Elma Postma nie, sy was net so goed en pragtig daarby en baie van daai boere het twee keer gekyk

Noeline ·

Ai dis jammer om te hoor!! Minkie het so deel van die program geraak. Sy het ‘n pragtige geaardheid en ‘n natuurlike skoonheid met die mooiste glimlag!

Hannelie ·

Dis slegte nuus. Wel die volgende Boer Soek ‘n Vrou aanbieder sal regtig dan moet uithaal en wys om onse Minki se skoene vol te staan. Sy het in ons kykers se harte gekruip.

Leon ·

Ai, sy is darem so sag op die oog! Ek kyk die program net om haar te sien! Kry asb tog iemand so natuurlik soos sy.

Melia ·

Mienki was tops. Ek dink Leandi du Randt sal nogal werk sy is net so natuurlike plat op die aarde mens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.