Model, mev. Kaapstad en Olimpiese atleet tel onder Survivor-deelnemers

Lee-Anne van Renen. Foto: Survivor SA

ʼn Voormalige mej. Namibië, mev. Kaapstad en ʼn Olimpiese atleet is drie van die 21 deelnemers wat sake gaan uitspook in die nuwe seisoen van Survivor SA.

M-Net het die name van sommige van die deelnemers wat van 16 Mei in die nuwe Survivor SA: Island of Secrets op die kassie te sien gaan wees bekend gemaak. Die jongste reeks is op ʼn eiland in Samoa verfilm.

Lee-Anne van Renen, Mev. Kaapstad 2018, is ʼn ma van twee en is getroud met Loedi van Renen, die baskitaarspeler van die musiekgroep Taxi Violence. Sy het ʼn honneursgraad in sielkunde, verskaf berading aan dwelmverslaafdes en getraumatiseerde tieners en het al verskeie persoonlike tragedies beleef, insluitend ʼn kankerskok en ʼn dubbele miskraam. Van Renen het ʼn maand nadat sy haar tweeling verloor het die 947-fietswedren voltooi.

Steffi van Wyk-Brink. Foto: Survivor SA

Nog ʼn bekende gesig wat in die jongste reeks te sien sal wees, is die model en voormalige Mej. Namibië, Steffi van Wyk-Brink. Dié 27-jarige was in 2015 Mej. Namibië en het die buurland tydens die Mej. Wêreld-kompetsie verteenwoordig. Sy is getroud met die akteur Clinton Brink, wat bekend is vir sy rol as dr. Steve Abrahams in die hospitaaldrama Binnelanders.

Die Olimpiese atleet Rocco van Rooyen (26) is ʼn spiesgooier van Kaapstad en het Suid-Afrika in 2016 by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig.

Sepei Mashugane (40) staan bekend as die “Biker Queen” en is ʼn ma van twee en ʼn entrepreneur. Wanneer sy nie by die werk is nie durf sy die langpad op haar Harley Davidson aan.

Rocco van Rooyen. Foto: Survivor SA

Tania Copeland is ʼn 51-jarige immigrasiekonsultant en is ʼn selfverklaarde hedonis. Sy is ʼn ywerige rotsklimmer en is mal oor die buitelewe.

Nathan Castle (25) is ʼn videovervaardiger en in sy vrye tyd hou hy sy lyf fiksheidsinstrukteur. Hy het provinsiale kleure in skaak en het ʼn regsgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal.

Die fotograaf Robert Bentele (28) se pa is van Oostenryk en sy ma is Suid-Afrikaans. Hy was ʼn liggaamsbouer en MMA-vegter en het al Kilimandjaro geklim. “Ek is ʼn verkleurmannetjie en kan enigiets wees wat jy wil hê ek moet wees,” sê hy.

Felix Godlo is ʼn 29-jarige verkoopsagent. Hy kom van ʼn tradisionele Xhosa-familie en het ʼn sportbeurs gekry by ʼn Afrikaanse hoërskool. Hy is getroud met sy hoërskoolliefde en die egpaar het in Oktober hul eersteling verwelkom.

M-Net het nog nie besonderhede oor die ander 13 deelnemers bekend gemaak nie. Survivor South Africa: Island of Secrets begin op Donderdag 16 Mei om 19:30 op M-Net.

Nathan Castle (links bo) en Felix Godlo (links onder). Van regs bo na onder is Robert Bentele, Sepei Mashugane en Tania Copeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karli ·

Was hoogsteleurgesteld toe ek besef hoe die “keuring” gevolg word, en dan jou script kry

thea ·

gelukkig klaar met dstv
as om sulke snert en mens verheerlik te aanskou

Jepetto ·

Al die deelneemers is verbind met bekendes of hoogeplaastes is die nie a reeks vir die gewone pibliek

Osie ·

Nog ‘n DSTV klugspul! Die deelnememers is lankal reeds gekies en
kamtig kan jan Alleman dan ook aansoek doen. In elk geval, is dit meer opwindend om te kyk hoe verf droog word as die twak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.