‘Mooimaak 3’ begin op kykNET

Clare Wiese-Wentzel (Foto: kykNET)

Mooimaak, Clare Wiese-Wentzel se bekende reeks op kykNET, wat 14 mense op ’n inspirerende mooimaakreis neem, keer op 1 Oktober terug vir sy derde seisoen.

Die reeks fokus weer op die jongste tendense in gesondheid, gewigsverlies, sielkunde en alledaagse leefstyl in. Soos voorheen span Wiese-Wentzel die kundigheid en hulp van kenners en medici in vir die transformasies van deelnemers.

Sy ontmoet ook die deelnemers in hul eie huise, waar sy met familielede of geliefdes gesels. Volgens haar gaan Mooimaak se transformasies oor baie meer as net die uiterlike.

“Die deelnemers praat met moed, openlik met ons oor persoonlike hartseer en trauma.

“Ons gee die deelnemers ’n nuwe uitkyk – nie net op die lewe nie – maar ook op hul identiteit en hul plek in die samelewing. Die span wys vir hulle dat dit nooit te laat is om die beste weergawe van jouself te ontdek, jou wildste drome na te jaag of jou grootse struikelblokke te oorkom nie,” sê sy.

Wiese-Wentzel sê dit is altyd vir haar baie spesiaal tydens ’n deelnemer se Mooimaak-reis wanneer hul verwagtings oortref word.

“Dit wys jou net dat enigiets moontlik is en dat ’n mens nooit moet opgee nie. ’n Mooier, beter en gelukkiger self is altyd binne bereik.”

Sy vertel dat die derde seisoen talle nuwe dinge vir kykers inhou. Hoewel daar nog ’n groot fokus op voorkoms is, gaan dit baie verder as net gesig en vel.

“Ons leer elke deelnemer hoe om in hul alledaagse lewe beter na hul voorkoms te kyk soos met wenke om reg aan te trek (deur middel van ’n klerekas-omwenteling) en beter grimering te doen. Terselfdertyd is die nuwe reeks ook propvol leefstyl-verbeterings vir deelnemers.

“Ons het ook hierdie jaar ’n egpaar wat saam ingeskryf het, asook ’n asook ’n man wat sy eie episode kry.”

Die derde seisoen van Mooimaak is onder streng Covid-19-regulasie verfilm, en Wiese-Wentzel sê sy dink hierdie soort program is nou meer nodig as voorheen.

“Ek voel dit is juis tydens so ’n groot wêreldkrisis dat mense die hoop en inspirasie dringend nodig het en met ope arms verwelkom.”

Mooimaak sal nou in ʼn nuwe tydgleuf, op Donderdae om 21:00 op kykNET te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae