‘Musiek is medisyne’ glo Carmen Basson

Carmen Basson. (Foto: Willem Botha)

“Musiek is my dagboek, my uitlaatklep. Daar is nie ʼn oomblik waar musiek nie gepas is nie.”

Só gesels die 24-jarige sangeres, Carmen Basson (Le Roux) oor die alomteenwoordige teenwoordigheid wat musiek in haar lewe is.

Dié vurige rooikopsangeres is tans aan’t woeker met ʼn nuwe liedjie wat vroeër vandeesmaand uitgereik is, sy het  ʼn rol in die treffermusiekblyspel, Die Kaplyn, en is nou ook ʼn finalis van die talentsoekprogram, Die Kontrak.

Sy voel tuis wanneer sy agter die klavier is en skroom nie om ʼn liedjie neer te pen wat met haar eie lewenservarings en emosies strook nie.

“Jy moet pasop wat jy doen, netnou skryf ek ʼn liedjie oor jou, nes Taylor Swift,” skerts sy.

Sy raak egter ernstig wanneer sy oor haar nuwe enkelsnit, “Mis my”, haar eerste snit in byna drie jaar, gesels.

Sy het dié liedjie reeds begin skryf toe sy nog gestudeer het. In daardie stadium het sy pas ʼn liefdesteleurstelling ervaar, ʼn emosie wat haar geïnspireer het om dié snit neer te pen.

Carmen erken egter dat hoewel sy vandag nie eintlik meer met die lirieke vereenselwig nie, dra die liedjie steeds ʼn belangrike boodskap oor wat mense moet hoor.

“Ek het nie meer regtig gevoelens oor die tema van die liedjie nie, ek is getroud met die man van my drome,” erken sy.

(Foto: verskaf)

Dit wat sy egter oorgehou het van dié liedjie, is dat elke persoon die verantwoordelikheid het om te erken wanneer hulle verkeerd was en om daarvoor om verskoning te vra.

Vir Carmen is musiek soos medisyne.

“Dit is wat ek wil hê my musiek moet wees. En nie almal hoef daarvan te hou nie. As daar drie mense na die musiek kan luister, daarmee kan vereenselwig en kan beter voel daarna, is ek gelukkig.”

Oor Die Kaplyn

Carmen vertolk tans die rol van Dezi, ʼn humoristiese karakter met ʼn skerp tong, in die musiekspel, Die Kaplyn.

Sy het haar lewe op die plaas saam met haar man, HJ, en werk as onderwyseres tot halt geroep om deel van dié produksie te wees. Dit het waagmoed en fyn beplanning geneem, erken sy, maar sy is nie een oomblik spyt dat sy dié besluit geneem het nie.

Carmen tydens ‘n vertoning van ‘Die Kaplyn’. (Foto: verskaf)

Haar pad na die planke het egter reeds in 2022 begin, toe sy gewonder het of sy ʼn oudisie-video vir Die Gelofte moet instuur. Bekommernisse oor administratiewe beperkinge en hoe sy dit sou kon vermag, het haar egter gestuit.

“Ek het toe Die Gelofte gaan kyk, en toe ons by die teater uitstap het ek geweet – ek wil deel van so iets wees.”

Dit was dus ʼn baie makliker besluit om ʼn oudisie-video vir Die Kaplyn in te stuur, vertel sy.

(Foto: verskaf)

Haar betrokkenheid by die produksie is nie net ʼn eerste in haar musiekloopbaan nie, maar het ook die gevoel van familie tussen ʼn groep kunstenaars vir haar ontsluit.

“Hierdie musiekblyspel is so goed vir my siel. Dit is nie net ʼn werk nie. Ons is ʼn vriendekring, ʼn familie.”

Wanneer sy aan die einde van ʼn vertoning op die verhoog staan en haar oë oor die gehoor laat gly, besef sy wat die impak van die musiekblyspel is. Elke woord, noot en liriek van die produksie is al so bekend aan haar, dat sy dikwels vergeet hoe diep dit eintlik in mense se harte gaan lê.

“En dan kom ons in die voorportaal ná ʼn vertoning en besef dat elke klein dingetjie ʼn reuse-impak op iemand anders kan hê.”

Carmen se pad met musiek en Die Kontrak

Carmen is onlangs aangewys as een van die finaliste van die derde seisoen van die talentsoekprogram, Die Kontrak.

Kompetisies is nie ʼn vreemde konsep vir dié sangeres nie, en sy erken self dat wie aanhou, sal wen.

“Ek het reeds op universiteit aan die Pukkie-talentfees deelgeneem,” vertel Carmen, wat verbruikerstudies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer het.

Carmen saam met Rita Li en Deidré Barnard op die verhoog. (Foto: verskaf)

“Ek het die motiveringsprys met my eerste deelname gewen. In 2019 het ek weer ingeskryf, en dié keer is ek aangewys as die wenner van die stemkategorie en sommer die hele talentfees.”

In 2018 het sy aan die Suid-Afrikaanse weergawe van The Voice deelgeneem, maar het ongelukkig in die vroeë stadium van die kompetisie uitgeval.

In 2020 het sy aan die tweede seisoen van Maak my famous deelgeneem, waar sy weer tot die tweede ronde van die kompetisie gevorder het voordat sy eindelik uitgeval het.

Sy skroom egter nie om op te staan en weer te probeer nie, erken sy. Daarom is sy juis bly om in Demi Lee Moore se span te wees.

“Sy het nie een oomblik opgegee nie,” vertel Carmen.

“En ek is ongelukkig een van daardie mense wat net nie die boodskap kry nie!”

  • “Mis my” is tans op alle groot stromingsplatforms beskikbaar.

Luister na “Mis my” hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.