‘My Kitchen Rules’-wenners: ‘Kos is in ons vriendskap se DNS’

Die wen-oomblik. (Foto: verskaf)

Die potte het gesing, die deelnemers het hul beste voet, of eerder eksotiese gereg, voorgesit en daar is gespook om uit te vind wie nou eintlik die beste kok in die kombuis is.

Michelle Theron (35) en Abraham van Zyl (34) is Sondagaand (11 Desember) as die wenners van die vierde seisoen van die gewilde kosmaakprogram My Kitchen Rules aangewys.

Met hul bekoorlike driegangmaaltyd het dié twee boesemvriende prysgeld van R1 miljoen losgeslaan.

“Dit voel nou nog onwerklik,” bieg Abraham, ’n bemarkingspesialis van die Swartland, aan Maroela Media.

“Die liefde en ondersteuning wat ons sedert Sondag ontvang het, is ongelooflik.”

Michelle vertel skertsend dat sy alle erkenning vir hul aanvanklike inskrywing vir die kompetisie neem. Sy en Abraham het deur die jare heen getrou elke seisoen van die gewilde program gekyk.

“Iets het net vir my gesê dat dit tyd is; dat 2022 ons jaar is,” vertel Michelle, wat in kommersiële eiendom in Pretoria spesialiseer.

Sy moes verlede jaar talle oomblikke van swaarkry en hartgebrokenheid trotseer en het talle geliefdes, ook haar pa, oom en tannie, gegroet. Sy het besef dat die tyd aangebreek het om weer op te staan en iets te doen wat haar as mens sal bemagtig en laat groei.

“Ek wou iets gehad wat net weer kleur in my lewe sou bring.”

Toe sy met ’n ernstige, vasberade hart Abraham bel om hom te oortuig om saam met haar in te skryf, het hy nie twee keer daaroor gedink nie.

Die deelname aan die kompetisie het immers vir reuse-persoonlike groei en ontwikkeling in sy eie lewe gesorg.

“Ek het verlede jaar ’n moeilike jaar gehad. Ek het min selfvertroue gehad. Dit is ongelooflik hoe hierdie program daartoe bygedra het dat my selfvertroue weer gegroei het,” vertel Abraham.

Abraham en Michelle in aksie. (Foto: verskaf)

“Dit het my weereens net laat besef dat as jy passievol oor iets is, moet jy nooit toelaat dat iemand jou minderwaardig daaroor laat voel nie. As jy jouself bietjie uitdaag en daardie sprong wil vat, moet jy dit doen. Jy kan jouself dalk net verbaas.”

Maroela Media het saam met hulle in die kombuis gekuier, erken hulle. Daar is talle resepte uit Maroela Media se resepte-afdeling wat die grondslag vir van hulle eie resepte gevorm het.

“Ons het Maroela Media ongelooflik baie besoek om resepte te gaan opsoek.

“Een van ons geregte was byvoorbeeld pampoenkoekies en roomys, daarvoor het ons die resep op Maroela nagegaan om seker te maak dat alles reg is,” vertel Abraham.

Michelle en Abraham het mekaar ses jaar gelede deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet. Die vriendskap het byna onmiddellik geblom en dit boonop vanuit ’n kombuis.

Saam met vriende het hulle deur die jare heen die land plat gereis, en in een na die ander dorpie het dié twee se vriendskap agter die potte gegroei. Met elke naweekwegbreek, in elke klein dorpie waar hulle geland het, het hulle aangebied om die kos voor te berei en op te dis.

Michelle beskryf kosmaak immers as haar en Abraham se liefdestaal.

Hul vriendskap is gevul met onvergeetlike koservarings en besonderse herinneringe. Hulle het selfs een keer na die Tswalu-wildreservaat in die Kalahari gereis om by die bekroonde en wêreldbekende sjef Jan Hendrik van der Westhuizen se restaurant Klein JAN te gaan eet.

“Ons vakansies is om kos en samesyn beplan,” vertel Abraham.

“Wanneer ons gesels, gaan dit oor kos. Nuwe resepte, produkte of nuwe disse wat ons ontdek het. Ons vriendskap is werklik in kos en die maak daarvan gesmee.”

Hierdie uitsonderlike verbintenis tussen die twee, glo Abraham, het tot hul oorwinning bygedra. As jy as ma en dogter, of man en vrou inskryf, is die verhouding in die kombuis heeltemal anders, glo hy.

“Kos is in ons vriendskap se DNS. Ek glo dat dit vir ons ’n hupstoot gegee het om op die ou end die kompetisie te wen,” vertel Abraham.

“Ons kry lewe wanneer ons saam in die kombuis is. Dit kan nie aangeplak of aangesit word nie – dit is die X-faktor,” voeg Michelle by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.