ʼn Eerste keer vir nuwe ‘Survivor SA’-reeks

Die nuwe Survivor SA-reeks is vir die eerste keer plaaslik verfilm.

Die agtste seisoen, Survivor SA: Immunity Island, is aan die Wildekus in die Oos-Kaap verfilm. Survivor-aanhangers gaan egter nog ʼn hele ruk moet wag voordat hulle aanbieder Nico Panagio en die 20 deelnemers in aksie gaan sien. Die reeks begin Donderdag 3 Junie 2021 op M-Net.

M-Net het intussen ook bekend gemaak dat hy ʼn nuwe plaaslike dramareeks, Lioness, verfilm. Die reeks begin reeds in Januarie en vertel die verhaal van ʼn vrou wat haar kinders, haar minnaar en haar vryheid verloor wanneer sy valslik beskuldig word van bedrog wat haar man voor sy dood gepleeg het. Agt jaar later, wanneer sy haar met haar seun en dogters probeer herenig, stel sy egter vas dat hy steeds leef.

Die rolverdeling sluit onder andere in Shannon Esra (Still Breathing/The Queen/The River), Jacques Bessenger (Kanarie/Krotoa/Sink), Frank Rautenbach (Warrior/The Bang Bang Club/Faith like Potatoes), Nokuthula Ledwaba (Reyka/The River/Rhythm City), Gerald Steyn (Trackers/Fiela se Kind/Getroud met Rugby), Joshua Eady (Banged up and Abroad/Bring it on 6), Fiona Ramsay (Reyka/Homeland/Doubt) en Natasha Sutherland (Egoli: Plek van Goud/Wycliffe/Scandal!).

Qiniso van Damme sal van Februarie af op M-Net-kykers se skerms te sien wees as Suid-Afrika se eerste Bachelorette. ʼn Hubare groep mans sal romantiese afsprake met haar maak om haar te leer ken. Daar sal weekliks iemand huis toe gestuur word tot net twee mans oor is en sy hopelik die een kan kies wat haar hart gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.