ʼn Meer intieme blik op Harry, Meghan én hul troue

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Twitter via Kensington-paleis)

Dit was voorwaar ʼn uiters veelbesproke koninklike troue, en nou gaan die televisiekanaal Via kykers met twee buitengewone dokumentêre die geleentheid bied om die hertog en hertogin van Sussex, prins Harry en Meghan Markle, se verhouding én huweliksbevestiging van nader te aanskou.

Die koninklike egpaar se troue op 19 Mei in Windsor was ʼn swierige geleentheid wat deur bekendes soos David en Victoria Beckham, George en Amal Clooney, Oprah en James Blunt bygewoon is. Hoewel baie in die afgelope paar weke oor die egpaar se groot dag gesê is, is verskeie intieme besonderhede uit die media gehou.

Daarom is dié twee dokumentêre goeie nuus vir rojaliste. In die eerste dokumentêr, Harry en Meghan Deel 1, vertel die egpaar hul sprokiesagtige liefdesverhaal in hul eie woorde. Die dokkie volg die twee se pad van hul kinderdae – syne in Engeland, hare in Kalifornië, VSA – tot hul eerste ontmoeting en uiteindelik verlowing. ʼn Rits kommentators deel ook brokkies wat meer lig op die koninklike paartjie se verhouding werp.

Prins Harry en sy verloofde, Meghan Markle (Foto: KensingtonRoyal, Twitter)

In die tweede dokumentêr, Harry en Meghan Deel 2, loer die kameras agter die skerms van prins Harry en Meghan se glanstroue by Windsor. Televisiekykers wat op 16 Mei dié troue regstreeks gevolg het, sal nou die egpaar se groot dag vanuit ’n nuwe, insiggewende oogpunt sien en kan opnuut Meghan se transformasie van Hollywood-aktrise tot hertogin beleef.

Harry en Meghan Deel 1 word Woensdag 30 Mei om 19:00 op VIA, DStv-kanaal 147, gebeeldsaai met ’n heruitsending op Saterdag 2 Junie om 15:00. Harry en Meghan Deel 2 word Donderdag 31 Mei om 19:00 op VIA gebeeldsaai met ’n heruitsending op Sondag 3 Junie om 15:00.

Albei dokumentêre is ’n uur lank en die klankbaan is in Engels.

Intussen het die Kensington-paleis vroeër Meghan se amptelike koninklike wapen bekend gemaak. Volgens koninklike tradisie ontvang nuwelinge in die Britse familie só ʼn wapen.

Meghan se wapen is volgens die paleis spesiaal ontwerp en goedgekeur deur koningin Elizabeth II. Volgens ʼn verklaring was koningin Elizabeth nou betrokke by die College of Arms se ontwerp van die wapen wat “persoonlik en verteenwoordigend” van Meghan is.

Meghan se koninklike wapen (Foto: Twitter via Kensington-paleis)

Die blou agtergrond van die wapen verteenwoordig die Stille Oseaan wyl die twee goue stroke aan die regterkant van die wapen die sonskyn van die hertogin se tuisstad verteenwoordig. Op die wapen is ook goue papawers, Kalifornië se staatsblom.

Die Amerikaanse skindernuuswebwerf TMZ het Maandag berig die egpaar, wat nog nié vir hul wittebrood vertrek het nie, gaan glo hul wittebrood by die Fairmont Jasper-reservaat in Kanada hou. Harry en Meghan sal glo in ʼn privaat woonstel van 550 vierkante meter bly. Die luukse sesslaapkamerwoonstel was ook waar koning George VI en koningin Elizabeth in 1939 hul wittebrood gehou het.

Daar is vroeër berig dat die paartjie glo hul wittebrood by die luukse Natural Selection-lodge in Namibië sou hou. Daar is onder meer bespiegel dat die egpaar ook Botswana sou besoek omdat dié land ʼn spesiale betekenis vir hulle inhou danksy die tyd wat hulle daar saam deurgebring het toe hulle mekaar pas ontmoet het.

Nóg die egpaar nóg die Kensington-paleis het al enige inligting rakende die wittebrood bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sumaré Pieterse ·

Ek sien dis nog kort op. Hulle het op 19 Mei getrou en nie 16 Mei nie!

Cyril Blackburn ·

Dagsê lesers
Dankie vir jul terugvoer! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

rollie ·

Al die regstellings rakende die troudatum is nie gemaak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.