ʼn TV-kanaal net vir honde

(Foto: DogTV/Twitter)

DogTV is ʼn nuwe betaalkanaal wat ontwikkel is ná studies oor diere se fisiologiese en sielkundige behoeftes, buie en reaksie gedoen is. Na verwagting sal die kanaal ons vierpotige vriende stimuleer en hulle help om te ontspan wanneer nodig, sê die vervaardigers in ʼn verklaring.

Jou beste vriend hoef dus nie meer op die rusbank te lê en sepies kyk nie – daar is nou spesialisprogramme wat hy kan geniet.

Die kanaal bied prettige tekenprente en honde en ander diere verskyn in die programme wat spesiaal ontwerp is om verveling te voorkom en jou hond verstandelik te stimuleer. Kalm tonele en sagte klanke sal jou hond deur die loop van die dag besig hou. Die programme word ook geredigeer met beperkte blootstelling aan alledaagse klanke sodat jou hond gewoond kan raak aan dinge soos ʼn rit in die motor of deurklokkies.

Daar is ook talle prettige en opvoedkundige programme vir die eienaars soos The Dog Chef, Dogs A-Z, Things We Woof About en Meet the Breed.

Die vervaardigers het drie jaar lank navorsing gedoen en bied dus programme aan wat wetenskaplik getoets is om simptome soos skeidingsangs, eensaamheid en stres te verlig.

Die kanaal word bekendgestel in ʼn tyd waar talle honde-eienaars, wat tydens die afsonderingsperiode van die huis af gewerk het, nou moet terugkeer werk toe en die diere alleen gelaat word by die huis.

“DogTV is ʼn uitstekende hulpbron vir eienaars om gedragsprobleme te verlig wat opduik wanneer honde alleen by die huis gelaat word,” sê prof. Nicholas Dodman, hoofwetenskaplike by DogTV. Honde wat alleen by die huis gelaat word kan moontlik aanhoudend bly blaf, weier om te eet, probeer om te ontsnap of eiendom verwoes.

“Mense dink aanvanklik DogTV is ʼn vreemde konsep, maar as ek vir hulle sê hoeveel navorsing ons gedoen het, begryp hulle dit,” voeg Victoria Stilwell, Britse diereafrigter, by. “Die kanaal kan honde help wat alleen by die huis moet bly. Dit verbeter hulle lewens en help hulle met stres en angs.”

Die diens is beskikbaar op ʼn rits slim-TV’s, Android en Apple-toestelle en aanlyn by https://watch.dogtv.com/. Kostes beloop R147 per maand of R1 245 per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Natasha ·

Ek dink dis ‘n oulike idee, veral as mens genoodsaak word om jou vierpotige kind in die huis bedags te hou.

Chantel ·

Ons pittie Sage is baie lief vir die dierekanaal op DSTv. Sy kyk aandagtig en volg elke dier wat oor die skerm beweeg. Sy is vasgenael en mens kan haar met niks weg lok nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.