Na tien jaar leef Gerrie Pretorius steeds sy reis

Gerrie Pretorius het vir die jonste reeks van “Leef jou reis” plaaslike juwele, soos die Addo Nasionale Olifantpark. (Foto: Verskaf)

Ná tien jaar op die kassie is Gerrie Pretorius se reisprogram, Leef jou reis, nou selfs gewilder as voorheen. Nie eens ʼn wêreldwye pandemie kon die program se vlerke knip of sy liefde vir reis blus nie.

Dié reisprogram op kykNET vier in Junie sy tiende verjaardag en Pretorius meen nie eers in sy wildste drome het hy gedink sy lewensreis sou hierdie rigting inslaan nie.

Vra ʼn mens waaraan hy die gewildheid van Leef jou reis sou toeskryf, sê Pretorius dit is omdat die program met sy reise nog altyd iets anders aan mense wou wys sodat hulle as’t ware die reis self kan beleef.

Dié sakeman en toergids van Mosselbaai, wat ook sy eie reisonderneming bedryf, het aanvanklik diep in sy bewonderaars se harte gekruip met sy musiek. Sy liefdesliedere en nostalgiese huldeblyk aan Bles Bridges het sy stem die vermoë gegee om meer as ʼn halfmiljoen albums te verkoop.

Dit was sy sangloopbaan wat hom na Nederland geneem waar hy saam met die gewilde Dana Winner gesing het. Dié toere het kykNET se aandag getrek en Leef jou reis is kort hierna gebore. Ná soveel jaar is dit steeds een van die kanaal se top- geborgde programme.

Pretorius het ook in Maledive gaan kuier. (Foto: Verskaf)

Nou, tien jaar later, voel Pretorius (42) net ʼn al groter verantwoordelikheid om die vlam van hoop vir toerisme te laat brand terwyl hy met sy program die droom van toer lewend te hou.

“Daar is nog soveel plekke waarheen ʼn mens eintlik kan reis. Die Maledive bied idilliese strande en blou water en al die personeel is reeds daar teen Covid-19 ingeënt.

“Botswana en groot dele van Afrika, soos Zambië, Kenia en Egipte, is steeds oop vir besoekers. Ander dele in die wêreld is weer besig om hul deure vir toeriste te open, hoewel daar steeds ʼn steeds ʼn reisverbod op Suid-Afrikaanse besoekers is,” voeg hy by.

Pretorius glo stadiger, kleiner maar intiemer reise is die toekoms van reis. (Foto: Verskaf)

Tog reken hy die manier waarop mense reis het met die pandemie moontlik vir altyd verander.

“Dit was altyd FOMO (fear of missing out) maar nou is dit slow mow,” vertel hy met ʼn glimlag.

“ʼn Mens was geneig om verby plekke en mense te jaag om soveel as moontlik in jou reis te sien en doen. Ek dink dit is tyd vir stadiger, kleiner maar intiemer reise waarvoor ʼn mens dalk ook ʼn bietjie duurder gaan betaal.

“Dit is ʼn heerlike manier om vir mense te wys wat dit beteken om jou reis te leef. Ons kuier saam met die locals, eet saam met hulle en luister na hulle musiek. Ons wys ook vir mense die afdraaipaadjies waarby ʼn mens so dikwels verby jaag.”

Dit is ook waarom Pretorius en sy span nog net een reeks van Leef jou reis in die huidige formaat gaan maak.

“Dan skop ons af met Leef jou reis: Bon voyage waarin ons vir mense die mooiste treinritte en waterweë van Europa op bootritte wil wys. Dit beteken kleiner toergroepe, maar ons neem ʼn persoonlike sjef saam. Dan wil ons ook nog selfs ʼn draai in Alaska en Antarktika gaan maak, terwyl ons ook by gesondheidsoorde gaan kuier. Hier word daar net op gesond eet en leef gefokus, alles met ʼn sagter koolstofvoetspoor op die aarde.”

Pretorius erken dit is nie altyd maklik om net 96 dae per jaar tuis te wees nie.

“Mense sien ook nie altyd die uitdagings wat hierdie reise inhou nie; die omdraai op die lughawe en ander planne maak, krisisbestuur of klarings wat nie betyds uitgereik word nie wat beteken ʼn treintoer moet ʼn vlugtoer word.”

Pretorius het ook al 18 Covid-toetse agter die rug, maar dit stuit hom gʼn.

‘n Skermgreep uit ‘n vorige episode van Leef jou reis. Die reisprogram met Gerrie Pretorius as aanbieder vier sy tiende verjaarsdag. (Foto: Verskaf)

Sy hoogtepunte uit die tien jaar van Leef jou reis is sekerlik die hegte vriendskapsbande wat sy medereisigers op die toere gesmee het.

“Mense wat saam getoer het, hou graag reünies. Skoolvriende het mekaar weer op toer ontmoet en ons het selfs ʼn huwelik wat na ʼn toer gevolg het.”

Tog is die lekkerste vir Pretorius, die eerste wat hy na Afrikaans televisie kon bring.

“Ons het die oudste dinosourus-embrio en nes in Afrikaans aan kykers gewys en dit kom hier uit ons eie Golden Gate Nasionale Park. Ek het kykers saam na St. Helena geneem en in kamer gestaan waar Napoleon dood is.”

Die program het kykers ook na die Amasone geneem waar hulle ʼn macaw- papegaai en ʼn regte piranha kon sien terwyl hulle deur die oudste reënwoud stap.

Deesdae is dit ook heerlik vir Pretorius om vir mense die juweeltjie van Suid-Afrika, en sy eie geliefde Mosselbaai, te wys.

“Dit is waar: Ek is verslaaf aan reis en beskou myself as reisdeskundige, maar ons moet mense veilig en in goeie hande hou, terwyl ons steeds hulle reisdrome bewaar. Ek wil mense help om hulle reise te leef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Dan is daar die wat aanhou al is wat hul doen lankal nie meer relevant nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.