Nadia gesels oor 13 jaar as Pippa

Nadia Valvekens en Hans Strydom. Foto; Brendan Croft

Min aanhangers van die aktrise Nadia Valvekens van Binnelanders-faam weet dat dié aktrise 13 jaar gelede eintlik ʼn oudisie vir die rol van Stefanie Louw-Malherbe (destyds vertolk deur Rolanda Marais) vir dié sepie afgelê het.

Valvekens vertel Donderdag in ʼn telefoniese onderhoud aan Maroela Media dit voel soos net nou die dag toe sy die rol van Pippa Venter losgeslaan het.

“Eintlik was ek oortuig dat ek nié ʼn rol in die sepie, wat aanvanklik ʼn dramareeks was, gekry het nie,” vertel sy. “Bykans drie maande het ná my oudisie verbygegaan voordat die Binnelanders-span na my toe teruggekom het en gevra het dat ek ʼn oudisie vir ʼn ander karakter moet aflê. Dit was vir die rol van Pippa, en ek sou twee weke hierna hoor dat ek ʼn rol in die sepie gekry het.”

Sy onthou die oudisie vir dié rol nog soos gister, sê sy. “Ek moes teenoor Frederich Stark [oorlede man van Elsje Stark, die vervaardiger] en Danie Joubert speel. Dit was vreesaanjaend. Jy kan jouself nie indink hoe groot my oë was nie, dit was ongelooflik intimiderend, maar ook ʼn groot voorreg. Daarom het dit so geweldig baie vir my beteken toe ek wel die rol gekry het.”

Die Binnelanders-span (Foto: Brendan Croft)

Valvekens, wat vandag saam met die akteur Hans Strydom die enigste twee akteurs is wat van die begin van die reeks by Binnelanders betrokke is, sê sy het nooit gedink dat sy 13 jaar lank die rol van Pippa sou vertolk nie.

Binnelanders was ʼn dramareeks, so baie van ons was onder die indruk dat die reeks so drie seisoene lank sou wees. Maar toe is dit so ʼn groot sukses dat ons later ʼn sepie word en vyf dae per week op die kassie is. En dit is elke liewe dag nog ʼn voorreg.”

Een van die uitdagendste storielyne wat die aktrise as Pippa moes vertolk, was toe dié karakter hondsdolheid gekry het. “Dit het die meeste voorbereiding geverg vir wat ek nóg moes doen. Dit was uitmergelend en ek moes die vreeslikste ding doen om dit geloofwaardig te maak. Maar as ek nou daarop terugkyk was dit wonderlike pret.”

Die aktrise het vroeër aangekondig dat sy ná 13 jaar die sepie gaan groet. Sy sal haar laaste tonele in Junie vanjaar verfilm. Hieroor het sy vroeër gesê: “Dit was ʼn groot besluit, maar dinge het amper asof vanself gebeur,” vertel sy. “Dertien jaar is ʼn hele skoolloopbaan. Ek het ʼn wonderlike tyd by die sepie gehad en ek het ʼn magdom dinge geleer en goeie vriende gemaak, maar die tyd is nou reg om aan te beweeg.”

Nadia Valvekens en Hans Strydom. Foto; Brendan Croft

Sy sê as sy terugkyk op haar Binnelanders-reis, is die vriendskappe wat sy met mede-akteurs soos Rolanda Marais, Sarahann Doherty, Quanita Adams, Kim Cloete, Franci Swanepoel en Eric Holm gesmee het, die wonderlikste deel van dié 13 jaar.

“Daar is soveel dinge wat op die stel en agter die skerms gebeur het wat my vir altyd sal bybly. Ek het wonderlike mense leer ken en mense bevriend by wie ek so baie geleer het. Hans Strydom het altyd my hand vasgehou en moed ingepraat en Gerrit Schoonhoven het my soveel geleer oor entoesiasme en positiwiteit. En dis maar enkele name, want daar sal nooit genoeg woorde wees om te sê hoeveel die reeks en die mense vir my beteken het nie.”

Lees Maroela Media se onderhoud oor Valvekens wat dié sepie ná 13 jaar verlaat. Binnelanders saai Donderdag dié week hul 3 000ste episode uit. Skakel elke weekaand om 19:30 in op DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joanita ·

Ai Pippa [Nadia] ons gaan jou mis. Die rol wat jy vertolk in Binnelanders pas jou soos ‘n handskoen en met jou uitstekende toneelspel het jy diep in kykers se harte gekruip.
Voorspoed vorentoe. Ons Kapenaars sien uit om jou hier te verwelkom.

Melkbosstrander ·

Pippa [Nadia] ons gaan jou so baie mis. Briljante aktrise en Pippa uitstekend vertolk. Hoop dat jy baie gelukkig sal wees in die Kaap!

Yolandé ·

Ai Pippa (Nadia) Binnelanders gaan nie dieselfde wees sonder jou nie. Gaan jou baie mis. Maar sterkte met die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.