Namakwalandse gladdebek gesels nou ‘oppiestoep’

Lyntjie Jaars is die nuwe aanbieder van “OppieStoep” saam met Pietman Geldenhuys.

Die gewilde TV-kletsprogram OppieStoep het deur die jare bewys dat Suid-Afrikaners nie net hou van lag nie, maar dat ons land ook geseën is met ʼn magdom knap storievertellers.

Vir die vyfde seisoen van OppieStoep, wat eersdaags afskop, is daar ʼn nuweling in een van die aanbiederstoele.

Lyntjie Jaars gaan saam met Pietman Geldenhuys voor die kameras inskuif. Jaars is ʼn gebore Namakwalander wat die afgelope jare as radio- en televisie-aanbieder, seremoniemeester en motiveringspreker gewerk het.

“My senuwees was skoon klaar, want dit is ʼn splinternuwe rol vir my. Hier op kolle moes ek net my voete op die grond hou anders het almal gesien hoe bewe ek. Ek moet egter bysê: Pieta was my rots en wanneer ek voel my nerwe wil die oorhand kry, dan kyk ek net vir hom,” vertel Jaars.

“Dit is ʼn groot voorreg om in daardie stoel op daardie stoep te sit en stories te luister, uit die maag te lag in Afrikaans en om deel van hierdie hartsprojek te wees. Veral nou terwyl gemoedere swaar is, en te weet ons bring verligting op ’n lekker manier sonder om ligsinnig te wees. En dis regtig ’n groot vreugde en seëning om deel van hierdie span te wees. Ek het van die eerste oomblik tuis gevoel.”

Geldenhuys sê ook dit is “lekker” om saam met Jaars te werk. “Ons is baie opgewonde om weer stories met die kykers te kan deel, veral in hierdie tyd waarin ons almal kan doen met humor. Boonop is dit heerlik om saam met die talentvolle Lyntjie te kan werk.”

Die reeks spog ook met ʼn nuwe stel asook storievertellers wat vir die eerste keer deel van die program is.

Van die gaste wat Geldenhuys en Jaars genooi het om saam te kom kuier is onder andere Andries Vermeulen (wat hom deesdae op die bediening toespits), Hannes van Wyk, Gerrie Pretorius, Margit Meyer-Rödenbeck, Poem Mooney, Danneline Ramsden, Wicus van der Merwe en ds. André Boezak.

Schalk Joubert is soos voorheen weer verantwoordelik vir die musiek en het vir elke program iemand in die musiekbedryf genooi om saam met hom te kom speel. Van hierdie musikante sluit in Robin Auld, Ramon Alexander, Pierre-Henri Wicomb, Albert Frost en Gian Groen.

OppieStoep begin op Saterdag 3 Julie om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.