Namibwoestyn van nader bekyk in ‘Die groot niks’

Neil Sandilands is die aanbieder van ‘Die Groot Niks’ op kykNET. (Foto: Verskaf)

Die akteur en musikant Neil Sandilands verskyn tans op kykNET in die nuwe progam, Die Groot Niks, wat sedert Saterdag 12 Februarie op dié kanaal uitgesaai word.

Die Namibwoestyn, waarvan groot dele sedert 2013 deur Unesco tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar is, is ’n natuurwonder. Die woord “namib” beteken in die Nama-taal “die groot niks”, maar in hierdie reusagtige woestyn is daar ’n magdom geheime en wonders opgesluit.

In Die Groot Niks word dié asemrowende gebied deur Sandilands van nader bekyk. Sandilands is bekend as akteur in plaaslike produksies soos Konings, Orion, Jakhalsdans en Die ballade van Robbie de Wee, asook internasionale produksies soos Sweet Tooth, News of the World en The Flash.

Die span agter die skerms van Die Groot Niks is Hannes Visser en Waldo van der Waal, wat ook vir La’t Wiel verantwoordelik is. Die veteraan-televisieaanbieder en joernalis Ruda Landman behartig die stemwerk.

In Die Groot Niks word daar gekyk na die Namib se asemrowende natuurskoon en die legendariese verhale van die voortgesette stryd tussen die mens en die natuur. Daar gaan veral gefokus word op die hart van die Namib – die stuk tussen Lüderitz en Walvisbaai.

“Hierdie juweel het absoluut op die regte tyd in my lewe gebeur. Toe die vervaardigers vroeg in 2021 vir my die konsep en titel aanstuur, was dit ’n maklike, besliste ‘ja’,” sê Sandilands.

“Ek het al twee reise deur Namibië onderneem en het elke keer in verwondering gestaan oor die magiese en uitdagende belewenis. Dit is tegelyk asemrowend en angswekkend. Om die gebied tussen Lüderitz en Walvisbaai in die oudste woestyn ter wêreld te verken, is ’n voorreg wat oor min mense se pad kom.”

In die eerste episode is daar gekyk na die mens se drang om die natuur se rykdom te ontgin en hoe die natuur probeer om sy skatte te beskerm. In die tweede episode is bewyse van mynbedrywighede sowat 90 jaar gelede die fokus.

In die derde episode, wat eerskomende Saterdag 26 Februarie uitgesaai word, kom die Otavi, ’n stoomvaartuig wat in 1945 op die rotste geloop het, onder die soeklig.

Die Groot Niks is Saterdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofpoepertjie ·

Ai Neil. Waar het dinge skeefgeloop vir jou, my broer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.