Nataniël kuier stoksielalleen op besonderse plekke in nuwe reeks

Nataniël het swart en geel as die kleurskema vir ‘Toegang’ gekies. (Foto: Bernard Brand)

Geregte en gehalte, geboue en geskiedenis, geesdrif en gedagtes. Dit is alles op die spyskaart in Nataniël se splinternuwe kykNET-leefstylprogram, Toegang.

Nataniël is gasheer en kok terwyl hy besoek aflê by besonderse plekke in en om Pretoria met slegs ʼn elektriese stoofplaat, twee panne, een pot en ʼn tassie met net die nodigste gereedskap vir nog ʼn smullekker ete.

In Toegang gaan Nataniël stoksielalleen die werking, kunsversamelings en verrassings van bekende geboue ontdek en met alledaagse bestanddele, eenvoudige metodes en slim planne wys wat met ʼn bord kos gedoen kan word.

Die program is vroeër vanjaar tydens vlak 3 van die inperkingsmaatreëls geskiet.

“Selfs onder normale omstandighede sal geen mens die kans kry om alleen te dwaal waar ons oral was nie.

“Ek hou nie van skares nie en dit was fantasties om plekke te verken wat ek nooit voorheen kon besoek nie omdat daar altyd mense is. As daar ʼn klomp mense is, kyk jy ook nie werklik na die gebou of die omgewing nie. Ek wou stoksielalleen wees in ʼn plek, en dit is hoe ek die plekke gekies het. Plekke wat ook tydens die inperking toe was vir die publiek en wat ek nooit andersins sou kon besoek op my eie nie.”

Dit sal ook vir kykers ’n openbaring wees om te sien hoe jy met een plaat en sonder enige kombuisgeriewe ’n heerlike maal kan voorberei, sê hy.

“Om onder die Covid-19-protokol te werk en die produksiespan te beskerm was ʼn uitdaging, maar dit was steeds ʼn heerlike ervaring omdat ons gewoond is daaraan om met ʼn klein span te werk. Ons is ook gewoond daaraan om versigtig te wees, omdat ons baie op die stel [van ʼn vorige reeks programme] in kastele in Nantes, Frankryk, sorgvuldig te werk gegaan het om niks te beskadig nie,” vertel Nataniël.

“Die grootste uitdaging was om nie die kos te eet of ná die tyd saam te eet of iets te drink nie, want die jare in Nantes is elke dag met ’n klein feesviering afgesluit, maar hierdie keer kon ons nie. Dit het ook ekstra ure se werk geverg om elke dag van nuuts af ʼn kombuis in te rig, soms in plekke waar daar nie eens ʼn muurprop beskikbaar was nie. My span het ontsettend hard gewerk en ek het gesorg dat ons ten minste elke dag ʼn spyseniersete wat veilig verpak is kry om ons gemoedere te lig.”

Hy vertel sy span het baie moeite gedoen om Toegang ʼn volronde ervaring vir die kyker te maak. “Vir sekere kykers sal dit ’n aanpassing wees ná jare van die programme in Frankryk, veral só gou na Nantes Kookboek op kykNET uitgesaai is. Daarom het ek alles wat ek kon – ritmies, visueel, musikaal en wat inhoud betref – verander.”

Elke episode ontdek ook die geskiedenis van die plek waar Nataniël en sy span besoek aflê. Waar dié plekke is, bly egter ʼn geheim totdat die program uitgesaai word.

“Ek en my span het historiese plekke ervaar wat ons net altyd kon droom om te besoek, veral sonder enige ander mense in die omtrek. Ons het baie verwondering beleef terwyl ons aan die program gewerk het en ons wil graag vir die kyker dieselfde ervaring bied. Ons wil die verrassingselement ook vir die kyker bied.”

In elke episode stel hy ook ʼn kunstenaar voor wat sy klere gemaak het of byvoorbeeld doeke of lappe geverf het of die eetgerei gemaak het.

“Ek wou graag saam met die oudhede van die geboue en plekke iets nuuts ook bring. Ek wou ook vir kunstenaars ʼn platform skep vir blootstelling. Ek dink nie ek het self al vantevore so ʼn soort program op Suid-Afrikaanse televisie gesien nie en dit was vir my baie belangrik.”

Elke episode het ʼn titel soos “Paleis”, “Beeldskoon”, “Biblioteek” en “Klawers”. “Die styl van die program is ook nuut, al die musiek is oorspronklike komposisies en dié wat fyn kyk sal die ekstra detail raaksien.”

Nataniël sê hy maak eenvoudige resepte wat hy tydens die inperking tuis gekook het. “Ek het besef ek leef baie eenvoudiger, dalk oor ek geweier het om skottelgoed vuil te maak,” skerts hy.

“Ek wou vir mense wys dat jy met ʼn doodgewone pan, pot en houtlepel ʼn gereg kan optower en dat jy nie ʼn hele rits kombuistoebehore nodig het nie.”

Die resepte sal na afloop van die eerste weeklikse uitsending beskikbaar wees op kykNET en Nataniël se sosialemediaplatforms. Vanjaar is die resepte ook in Engels beskikbaar, maar dit sal slegs op Nataniël se nuwe onthaal-webwerf, Small Coronation, beskikbaar wees.

“Ek noem dit ʼn onthaal-argief. Al die kos en resepte wat op die blad verskyn het ek reeds self gemaak. Al die tafels het ek reeds gedek. In die 30 jaar wat ek my vriende onthaal, het my tafels nog nie een keer dieselfde gelyk nie. Ek wou ʼn aanlyn platform skep waar jy agteroor kan sit met ʼn koppie tee en deur blaai soos ʼn tydskrif, sonder steurende kommentare en advertensies.

“My ouma en my tannie Gesie het altyd gesê jy moet elke dag soos ʼn koning eet, want jy is een. Jy kroon jou dag met ʼn heerlike ete aan tafel en daarvandaan die naam Small Coronation. As ek elke dag ʼn mooi tafel kan dek met vars blomme, bevestig dit dat ek lewe soos ʼn koning.”

Teatergangers kan ook kaartjies bespreek vir Gesels, ʼn rits vertonings waarin Nataniël knelpunte en kwessies met gaste en die gehoor bespreek. Gesels word tot einde Oktober by die Atterbury-teater in Pretoria aangebied en is in November in die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg te sien.

“Dit is baie belangrik dat mense kunstenaars in teaters moet gaan ondersteun. Daar word baie onwettige konserte en optredes in restaurante gehou, maar ons doen dinge op die regte manier in die teater,” sê Nataniël.

Kaartjies vir Gesels is by iTickets beskikbaar.

Toegang begin Maandag 5 Oktober om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veronika ·

Ja en ons hier op die platteland moet maar weer aan die agter skeen byt, want ons het nie die voorreg om die optrede van “Gesels” of enige ander produksie te sien nie, want ons kan regtig nie Pretoria toe reis vir 8ure lank nie. Ons is gelukkig as hy een maal in paar jaar hier uitkom vir ‘n oprtrede en dan is dit stampvol! En ek is tog so mal oor die man se sê-goed. Ai ja dis dan maar soos dit is as jy verkies om op die platteland te bly!

petro ·

Ek vertel altyd vir my leerders in my klas om Nataniel se werke te gaan lees. Hy skryf fantasties!! Ek is ook mal oor sy programme (Nantes). Ek vergeet dan van al die seer en swaar terwyl ek heerlik sit en lag. Baie dankie dat jy my dag ophelder met al jou pittighede!!

Racheltjie Debeer ·

Ek hoop Kyknet gaan die program ook op Kyknet & Kie en Kyknet Nou uitsaai, vir die van ons wat nie die volle DSTV pakket kan bekostig nie. Nataniël is my en my kinders se held. Hy is skreeu snaaks sonder om vulger te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.