Natasha Sutherland gesels oor moederskap, sepierol

Natasha Sutherland as Birdy, ma van dr. Liam Vorster (David Viviers). (Foto: kykNET)

As ma van twee seuns weet die aktrise Natasha Sutherland presies hoe dit voel om soms soos die aaklige skoonma te voel, en daarom het sy ʼn sagte plekkie vir haar Binnelanders-karakter, Birdy.

Birdy is die ma van dr. Liam Vorster (David Viviers), wat nie net die lewens van Liam en sy meisie, die verpleegster Karen Kriel (Luandri Reynders), onverwags deurmekaar kom krap het nie, maar ook sepiekykers met haar inmengery ontstel het.

Natasha vertel aan Maroela Media dat hoewel sy glo sy ʼn goeie verhouding met haar twee seuns, Sebastian (21) en Benjamin (19), se wederhelftes het, weet sy hoe dit voel wanneer ʼn ma se instinkte haar ongewild maak.

“Ek is ʼn leeuwyfie van ʼn ma, en my seuns weet hoe lief ek hulle het. Hulle sal baie keer sê ek is ‘ekstra’,” lag die aktrise, wat destyds naam gemaak het as Samantha Ryan in die sepie, Egoli: Plek van goud.

Sy was onlangs te sien in die M-Net-reeks Lioness en is ook al sedert 2008 op die kassie te sien in die Engelse sepie Scandal!

“Ek glo as ʼn ma het ek meegevoel en liefde en ek kan baie verdraagsaam wees van mense. Wanneer dit by my seuns kom, tree my oerinstinkte egter gereeld in, maar ek het geleer om die proses te vertrou wanneer hulle iemand huis toe bring.

“Ek hou daarvan om te glo ek is ʼn goeie skoonma al sou van my seuns se vorige meisies dalk nie saamstem nie,” vertel sy borrelend.

“My oudste seun het al vir ʼn lang tyd dieselfde meisie en ons kom baie goed oor die weg. Vir sy 21ste verjaarsdag het sy vir hom ʼn partytjie gehou, my grimering vir my gedoen en ons het saam sy koek gebak.

“Dit is vir my belangrik om ʼn ander persoon se energie in ons spasie toe te laat. Soms wens ek egter hulle was nog klein. ʼn Mens verlang daarna wanneer hulle groot is.”

Natasha Sutherland as Birdy in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Oor haar rol in Binnelanders kan sy skaars uitgepraat raak en sê dit was ʼn wonderlike ervaring om saam met gesoute akteurs op dié stel te werk.

“Dit was heerlik om ʼn paar bekende gesigte saam met wie ek al voorheen gewerk het, soos Hykie Berg en Gerald Steyn, te sien. Die span is lieflike mense wat sonder voorgee en ego saamwerk om die werk gedoen te kry,” sê Natasha.

Sy vertel sy moes in die middel van haar verfilming op die stel van Binnelanders ʼn reis na Australië onderneem, en het met moegheid gesukkel toe sy terug op tuisbodem was.

“Ek het gedink ek sal sommer weer maklik by die vinnige pas op die stel inskakel, maar ek is gou teruggebring aarde toe. Gelukkig het goeie voorbereiding my deurgetrek. Hoe beter jy voorberei is, hoe meer speling is daar om pret te hê.”

Sy vertel dit was veral lekker om teenoor David, wat die rol van haar seun vertolk, te speel. “Hy is so ʼn talentvolle persoon, dat dit met tye intimiderend was om teenoor hom te speel.

“Luandri is net soveel pret en baie verwelkomend. Dit was regtig net ʼn volronde, goeie ervaring; al het ek kort-kort op die stel verdwaal,” lag sy.

Natasha het as jong aktrise haar TV-debuut in die kinderprogram Kideo gemaak, en sedertdien gaan haar akteursloopbaan van krag tot krag met rolle op die groot- en kleinskerms en in die teater.

Natasha in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Soos ek ouer word, speel ek al meer gereeld die rol van ʼn ma. Dit verg elke keer ʼn kopskuif om elke moederlike karakter haar eie te maak. Ek spot en sê dit is fifty shades of motherhood.”

Natasha het ook onlangs die dokumentêr, That’s What She Said, geskryf en die regie daarvoor behartig.

“Ek wou graag na geslagsgebaseerde geweld kyk vanuit die manlike perspektief. Die dokumentêr bring al die mediums waarvoor ek lief is bymekaar en werp ʼn lig op ʼn belangrike kwessie.”

Sy is gebore om skeppend te wees, sluit sy af. “Ek het grootgeword met skeppende ouers wat gehou het van stories. Sonder boeke sou ons ure lank deur stories vermaak wees. Ek is mal oor skep, voor en agter die skerms. Dit is in my bloed. As ek nie skep nie, voel ek asof ek ʼn arm of been verloor het.

“Ek wil egter nie die vermaakbedryf verromantiseer nie. Dit is ʼn moeilike bedryf en jy moet konstant jou eie ego in plek hou, anders kan jy maklik vasgevang raak daarin om jou eiewaarde in buitepartye te soek.”

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.