Neels van Jaarsveld: ‘Mens kan nie die lewe te ernstig opneem nie’

Neels van Jaarsveld. (Foto: Gillian Coetzee via Facebook/Neels van Jaarsveld)

Neels van Jaarsveld. (Foto: Gillian Coetzee via Facebook/Neels van Jaarsveld)

Met sy kietsregop, ligte haardos en gekleurde frokkies is die bekende “met eish, ja”-akteur Neels van Jaarsveld bykans onherkenbaar as die eksentrieke Luan in die kykNET-dramareeks Dwaalster.

“Luan is ʼn interessante man wat lank in Johannesburg gewoon het en besluit het hy wil wegkom uit die groot stad,” vertel Van Jaarsveld in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Terrence Bridgett vertolk die rol van Luan se vriend en sakevennoot, Ruan, en saam besit hulle die hotel op die fiktiewe dorpie Maanhaarsdrif.

“Ruan dra natuurlik die broek in die verhouding. Luan is ʼn ekstrovert, maar hy is nederig. Sy hare en kleredrag is ook vir hom baie belangrik,” voeg Van Jaarsveld by.

Terwyl hy en Bridgett, wat hy as ʼn bok vir sports beskryf, ure lange pret op die stel gehad het, is een van sy gunsteling-medesterre in die reeks die skattige worshondjie, Frieda, wat die rol van Luan en Ruan se geliefde Patchouli vertolk.

“Ek en sy het baie lekker tye saam gehad en ons het net dadelik gekliek,” sê Van Jaarsveld, self ʼn groot diereliefhebber.

“Dit was so oulik om ʼn hondjie op die stel te hê. Sy was party dae lus vir toneelspel en ander dae minder lus, maar sy is ʼn baie interessante hondjie wat ʼn Safta-toekenning behoort te kry,” skerts hy.

Hy gee toe dat Luan as persoon baie ver verwyder is van homself en ander karakters wat hy al vertolk het en dat hy Jaco Bouwer, wat die regie behartig het, se leiding geneem het om van Luan ʼn geloofwaardige karakter te maak.

Neels van Jaarsveld as Luan in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Neels van Jaarsveld as Luan in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Dit was vir my lekker om in die spieël te kon kyk en anders te lyk as gewoonlik. Dit is lekker dat Suid-Afrikaanse akteurs soos Hollywood se akteurs ʼn plek kan bereik waar hulle gedaanteverwisselinge kan ondergaan om anders te lyk vir hulle rolle. Ek en Erica Wessels, wat die rol van Ragel-Lee vertolk, lyk albei nogal anders in Dwaalster. Dit was vir my belangrik dat ek met Luan nie moes verval in ʼn stereotipe nie en dat hy ʼn regte mens moes bly.”

Van Jaarsveld sê hy is mal oor die groot spronge wat Afrikaanse televisie maak in terme van dié omstrede reeks. “Dit is heerlik om uitgedaag te word as akteur, om soort van iets te wees wat jy nog nooit voorheen was nie. Dit is vir my byvoorbeeld lekker om nou terug te gaan na die stel van Fynskrif – selfs my vriende is beïndruk met my veelsydigheid,” lag hy.

Hy voeg by dat dit belangrik is vir Afrikaanse reekse om aanklank te vind by ʼn breër gehoor. “Jy weet, Dwaalster is nie net ʼn gewone drama nie. Dit is amper soos teater wat gestalte kry op die skerm. Dit is geloofwaardig en interessant. Elke persoon het sy voorkeure, maar dit is fantasties dat kykNET die variasie van die reekse uitbrei. Sodoende kry almal die geleentheid om meer van hulle vaardighede ten toon te stel.”

Die reeks is oor ʼn lang tydperk geskiet in Bonnievale, Calvinia en Kaapstad. “Ek verkies dit om weg van die huis af te skiet, want dit is ʼn lekker manier om mense te leer ken. Vir weke aaneen speel jy jou hart uit en dan gaan jy huis toe.”

Van Jaarsveld vertolk die rol van die geharde prokureur Ben van Wyk in die kykNET-dramareeks Fynskrif, en verklap dat hy binnekort na die stel van dié uiters gewilde Afrikaanse reeks terugkeer. Hy debuteer ook in April in sy splinternuwe solovertoning, Eish-stekend, op die Suidoosterfees in Kaapstad.

“Die vertoning is net ek, op my eie, met ʼn mikrofoon in die kollig. Ek vertel op ʼn grappige wyse oor my lewe en oor mense en diere. ʼn Mens kan nie die lewe te ernstig opneem nie en grappe laat ʼn mens beter voel. Eish-stekend is beslis meer aan die grappige kant en glad nie so ernstig soos my vorige solovertoning nie.”

Neels saam met die worshond Frieda, wat die rol van Patchouli vertolk en June van Merch, wat die burgemeester, Ivy, in 'Dwaalster' speel. (Foto: Verskaf)

Neels saam met die worshond Frieda, wat die rol van Patchouli vertolk en June van Merch, wat die burgemeester, Ivy, in ‘Dwaalster’ speel. (Foto: Verskaf)

Intussen repeteer hy saam met Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellerman, Rolanda Marais, André Roothman, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman aan die debuutdrama, Koningin Lear, vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, wat in Maart op Oudtshoorn plaasvind.

“Dit is Shakespeare in Afrikaans. Koningin Lear is ʼn herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye en vertaal deur Antjie Krog,” vertel hy.

Koningin Lear is 21 tot 26 Maart by die SANW-ouditorium in Oudtshoorn te sien. Kaartjies kos R155 by Computicket en R170 by die deur.

Eish-stekend is slegs op Sondag 28 April om 18:30 te sien by die Artscape Velvet Room in Kaapstad. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket.

Dwaalster is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nee wat ·

Bly nogsteed n baie simpel storie. Ek het ophou kyk na die derde episode. Hoekom het hulle dit so simpel geskryf? Goeie akteers wat in n swak draaiboek wegraak.

My mening ·

Ons hou daarvan! Dit is bietjie anders as die meeste gewone stories en die akteurs is baie goed.

Besluit nog ·

Ek kyk dit elke week, maar weet kogsteeds nie wat ek daarvan dink nie.

Zelda ·

Ek geniet die reeks vreeslik. Dit is anders en die karakters en humor is so dat ek wens ek het sulke eksentrieke mense geken! Ek sou baie lekker in Maanhaarsdrif kon bly en Blackhole Bobotie by die Piering eet. Maar heelaas net n storie ….

Essa ·

As jy dit glad nie kyk nie, hoe kan jy weet dis swak? Na eerste 20 minute opgegee? Jy mis uit hoor. Dis beslis anders, met onnodige uitgerekte oomblikke met ‘n peinsende Annabel, maar die storie kry nou sy loop en die karakters kry lewe. En dan is daar nog die raaisel oor die verdrinkings wat opgeklaar moet word!! En die korrupsie saak … Vreemd, maar interessant ja.

ME ·

Ek geniet die reeks verskriklik baie. Dink die akteurs is ongelooflik talentvol, die karakters word met baie diepte gespeel. Iets anders as die gewone.

Pandora ·

Vir wat loop Annabel altyd so en snuif – ai tog. Sou iemand anders in die rol wou plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.