Neil Sandilands maak deurbraak in Amerika

Neil Sandilands as Paco in Hap and Leonard. Foto: (Verskaf) James Minchin/SundanceTV

Neil Sandilands as Paco in Hap and Leonard. Foto: (Verskaf) James Minchin/SundanceTV

Die veelsydige akteur, Neil Sandilands, wat Los Angeles in 2014 sy permanente tuiste gemaak het, het onlangs ’n internasionale deurbraak gemaak in die televisiebedryf.

Sandilands het in 2007 die eerste keer die water getoets met kleiner projekte in die VSA. Die akteur is egter tans te sien in die televisiereeks, The 100, wat op die CW-kanaal uitgesaai word, en hy is ook van 2 Maart te sien in die reeks Hap & Leonard.

Sandilands het vertel hy het aanvanklik nie verstaan waarom mense sê dis moeilik om ‘n deurbraak in die internasionale bedryf te maak nie. “Die heel eerste oudisie wat ek gedoen het, was vir die TV-reeks House MD en ek het die rol gekry. Dit was reeds in 2010. Ek het gewonder hoekom mense altyd sê dis so moeilik. Ek het daarna ’n lang droogte in akteurswerk beleef. Gelukkig was daar Suid-Afrikaanse projekte soos die rolprent, Die Ballade van Robbie de Wee, die Nederlandse rolprent, The Price of Sugar, en ’n paar ander kleiner rolle,” het hy bygevoeg.

Hy het self ook agter die skerms gewerk. “Intussen het ek myself besig gehou met regie en ander tegniese dissiplines. In Januarie 2015 het ek ’n gasrol in die TV-reeks The Americans gekry. Hap & Leonard het gevolg en in Julie 2015 het ek die rol in The 100 gekry,” het Sandilands gesê.

In The 100, ’n reeks oor ’n groep tieners wat teruggestuur word aarde toe ná die apokalips, speel hy die rol van Titus. Van die ander spelers is Eliza Taylor (The November Man), Alycia Debnam-Carey (Fear the Walking Dead), Isaiah Washington (Grey’s Anatomy) en Paige Turco (Person of Interest).

“Die reeks The 100, wat in Vancouver in Kanada verfilm word, is al in die derde seisoen. Dit het klein begin, maar oornag kultusstatus gekry. Kommentaar oor die reeks ‘trend’ gereeld op Twitter en die reeks groei week vir week.”

Die ander reeks, Hap & Leonard, is gegrond op die novelle Savage Season deur Joe R Landsdale. Daarin speel Sandilands teenoor onder meer James Purefoy (The Following, Episodes), Michael Kenneth Williams (12 Years a Slave) en Christina Hendricks (I Don’t Know How She Does It). Sandilands se rol, Paco, is ‘n reekshoofrol.

Hy sê een van die grootste uitdagings is om goeie verteenwoordiging te kry. “Daar was ‘n honderd onsuksesvolle oudisies en mens moet die kapasiteit hê om die woord “nee” te verwerk. Maar dit is ’n lang proses – hierdie is my 26ste jaar in die bedryf.”

Hy vertel dit is tans bekendstellingseisoen in Hollywood. “Nuwe reekse en voorstelle word oorweeg en die hoop is om van meet af aan by een van hierdie nuwe produksies, of selfs bestaande reekse, betrokke te wees. Dit is egter weer eens, behalwe in die geval van die A-lys-akteurs, ’n kwessie van oudisies doen.”

Sandilands werk ook tans as regisseur en redigeerder. “Ek werk aan twee projekte. Een is ’n dokumentêre reeks oor Anton Goosen waaraan ek reeds vyf jaar werk. Die dokumentêr oor Pearl Jam het tien jaar gevat om te maak en Anton se ouvre is meer as dubbel so groot en strek oor 40 jaar. Moenie worry nie, dit kom! Daar is ook ’n dokumentêre film oor die Amerikaanse dans- en uitvoerende ensemble Lucent Dossier.”

Suid-Afrika is steeds sy huis. “Dis steeds vir my die lekkerste werk. Gee vir my ‘n goeie teks en ek is daar in ’n tik en ’n druk.”

Kyk Hap & Leonard se lokprent hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.