Neil Sandilands oor Hollywood, sing in Afrikaans

Neil Sandilands. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Ver agter hom lê die dae toe Neil Sandilands as jong akteur in sy bekende sepierol met vlugduiwe geboer en al wat ʼn vrou, op én van die stel af, se knieë lamgemaak het.

Sedert Sandilands (46) ʼn bietjie meer as ʼn dekade gelede sy tuisland vir die VSA verruil het, krap hy hoofsaaklik sy potjie in Hollywood en is hy eersdaags in die lankverwagte Netflix-reeks Sweet Tooth te sien.

“Ek het in Julie verlede jaar gehoor ek het die rol. Dit was ʼn gesogte rol, selfs in Hollywood-terme, en groot name wou dié rol vertolk,” vertel Sandilands tydens ʼn besoek aan die Maroela Media-ateljee.

Sweet Tooth is geskep deur regisseur Jim Mickle, en Robert Downey Jr is een van die vervaardigers. Met sy vol baard en grys slape het Sandilands perfek in die rol van General Steven Abbot gepas.

Sandilands het jare tevore saam met Mickle aan die televisiereeks Hap and Leonard gewerk. “Toe ek my weer kom kry sit ek in Nieu-Seeland, te midde van die Covid-19-pandemie, en werk aan die verfilming van Sweet Tooth vir WarnerBros en Netflix. Ek dink die reeks gaan mense se voete onder hulle uitslaan.”

Dié post-apokaliptiese verhaal, wat op Jeff Lemire se strokiesprent met dieselfde naam geskoei is, is reeds in 2009 geskryf.

“Daar is enorme eggo’s van wat vandag aangaan. Dit is verbeeldingryk en het ʼn magiese kwaliteit. Die skrywers het reeds die groen lig gekry om te begin skryf aan die tweede seisoen, maar ek as kunstenaar weet nooit of ek deel van die projek is tot op die oomblik wat dit gebeur nie.”

In die Oscar-benoemde rolprent News of the World, wat verlede jaar uitgereik is, speel Sandilands teenoor Hollywood-ikoon Tom Hanks en die nuweling-aktrise Helena Zengel.

Neil Sandilands (heel links) op die stel van ‘News of the World’ saam met Tom Hanks, Winsome Brown, Helena Zengel (voor) en regisseur Paul Greengrass. (Foto: Dariusz Wolski/Facebook)

Die fliek is vir vier Oscars benoem in die kategorieë vir beste oorspronklike klankbaan, beste kinematografie, beste stelontwerp en beste klank. Sandilands vertolk die rol van Wilhelm Leonberger.

Hy vertel hy het drie oudisies afgelê voordat hy dié rol in die sak gehad het. Hy voeg by dat hy ʼn soort eerbied gevoel het toe hy vir Hanks ontmoet het – dieselfde gevoel wat hy ervaar het toe hy die Afrikaanse aktrise Anna-Mart van der Merwe en sy musikale held, David Kramer, ontmoet het.

“Die agting wat ek vir dié mense het, is net ongelooflik. Ek is baie sleg in sulke situasies: Dit is amper asof dit ʼn absurde belewenis is, en alles voel asof dit in slow motion gebeur. Tom is een van die grootste sterre ter wêreld en as hy in ʼn fliek is, weet jy dit gaan ʼn sukses wees.

“Toe ek hom die eerste keer op stel ontmoet, het ek gewonder wat om hom te noem – is hy Tom of is hy mnr. Hanks? Hy het my egter so vinnig ontwapen, want toe hy my en my welige baard sien, het hy na sy eie baard gewys, sy arms wyd oop gegooi en gesê: ‘My brother, we should play brothers!”

Hoewel die gebore en getoë Randfonteiner homself deesdae op die stelle van enorme produksies bevind wat dikwels miljoene dollar se begrotings het, geniet hy dit steeds om op eie bodem en in sy moedertaal te werk.

Hy was onlangs in die Showmax-reeks DAM, teenoor Lea Vivier, Alex Yazbek en Pallance Dladla te sien in die rol van Bernoldus. Hy het ook onlangs ʼn vollengte Afrikaanse album getiteld Sangoma Sandilands en jou pa se posse MAANSKYN uitgereik.

Daar is tien snitte in die album met titels soos “Maanskyn”, “Goue graal”, “Dipper se dittie” en “Vuiljas se vloek”. Die meerderheid van die snitte is uit Sandilands se eie pen.

Theo Crous, Rouleaux van der Merwe, Dino Archon en David Kramer het saam met Sandilands aan die album gewerk. Fourie Ackerman het die albumomslag geteken. Inge Beckmann en Tracey Lee Oliver sing ook saam in die album.

“Dit was vir my belangrik om die samewerkende aspek van die album uit te lig, soos Bob Dylan and the Band,” verduidelik hy die titel van die album.

“Ek was as gevolg van Covid-19 in die posisie om saam met ʼn verstommende poel van plaaslike talent te kon saamwerk. Ek wou nie die middelpunt daarvan wees nie; ek wou nie ʼn ‘Neil Sandilands-album’ uitbring nie.”

Hy het in ʼn fotosessie, waarvan een van die foto’s later die albumomslag geword het, ʼn kledingstuk wat hy in Dubai gekoop het gedra wat hom soos ʼn wafferse sangoma laat lyk het. Vandaar dié naam.

“Niks is vir my taboe nie en ek hou nie van heilige koeie nie. As jy na die literêre inhoud kyk, sal jy sien ek hardloop intellektuele sirkels om die woke-kultuur,” sê Sandilands.

Ja, hy kon op die kruin van sy sepie-loopbaan ʼn kommersiële album gemaak het, sê hy. “Maar ek het destyds baie min gehad om te sê. Ek het altyd geweet ek sal so iets aanpak wanneer ek eendag 40 is; wanneer ek genoeg lewenservaring opgedoen het. Dit neem tyd vir begrippe om te distilleer tot kragtig konsepte.”

Karakters soos Frikkie, Dottie en Dipper maak ʼn verskyning in Sandilands se liedjieverhale. “Deur van fiktiewe karakters gebruik te maak kan ek sekere onderwerpe ondersoek sonder om my eie derms uit te ryg. Miskien is dit ʼn manier om myself te beskerm en dalk is my volgende reis om ʼn persoonlike Neil-album te maak.”

Neil Sandilands (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die album, wat blitsvinnig die no. 1-posisie onder Afrikaanse albums op iTunes gehaal het, is met ʼn oorweldigende positiewe reaksie ontvang.

“Ek dink mense identifiseer met die eerlikheid van die album en dit is ʼn anderse literêre aanbod as wat in die mark bestaan. Dit kan óf wees dat mense dit verfrissend vind óf dat mense daarby kan aanklank vind.”

Dit is sy eie lewensreis, en 46 jaar se ondervindinge van sy sepiedae as Bart in 7de Laan tot nou, wat uiteindelik tot die inspirasie vir die inhoud van sy album gelei het, sê hy.

“My lewe is steeds kompleks. Die sukses wat ek behaal maak die speelveld in sekere opsigte makliker, maar in sekere opsigte ook meer kompleks. Ek word nie kwytgeskeld van dit wat die gewone man op straat deurmaak nie. Ek was wel bevoorreg om te kon groei en as dit moontlik is vir my om dit reg te kry, kan enigiemand daarin slaag.”

Sangoma Sandilands en jou pa se posse MAANSKYN is op alle digitale platforms beskikbaar. Laai dié musiek hier af of besoek Sandilands se werbwerf of Instagram vir meer inligting.

Kyk hier na die lokprent vir Sweet Tooth:

Maroela Media het 20 vinnige vrae aan Neil Sandilands gevra:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.