‘Nêrens, Noord-Kaap’: ‘Bel jou boeties, Ronnie’

Deur Ilza Roggeband

Wat het gebeur?

Die Adendorffs op Katja se begrafnis. (Foto: Verskaf)

In die derde episode het Katja se grafsteen bevestig dat sy in 1998 oorlede is. Haar begrafnis aan die begin van die vierde episode is uiteraard hartseer vir Lourens, die seuns en Maggie, maar laat ook ’n paar vrae: Hoekom is die lens van die kamera wat klein Andries vashou, gekraak? En hoekom is Ronnie se arm in gips en het hy skrape op sy gesig? Het hierdie twee dinge iets met Katja se dood te doen?

Die begrafnistonele is by die indrukwekkende NG kerk in Nieuwoudtville geskiet. Die kerk is van Tafelberg-steenklip gebou en die traliewerk by die galerye is vervaardig van gietyster wat uit Skotland ingevoer is. Bataafse teëls is vir die portaal gebruik. Die hoeksteen is op 2 Februarie 1906 gelê en die kerk is op 21 April 1907 ingewy.

Broederskap

Ronnie (Albert Pretorius) bel vir Frans. (Foto: Verskaf)

Die verhouding wat die broers met mekaar het, kom meer as een keer ter sprake. Daar is Jan-Jan (Dean Balie) wat vir Frans (Geon Nel) vra of hy nie sy broers mis nie. Frans kan nie die vraag beantwoord oor wanneer laas hy met Andries gepraat het nie. Later sê Suzette (Daneel van der Walt) sonder omhaal vir Ronnie (Albert Pretorius): “Bel jou boeties, Ronnie.” Daar is effentjies lig in die tonnel wanneer Frans vir Ronnie sê hy sal in die Kaap by hom kom kuier.

Fleur se vraag

Fleur (Melissa Willering) en Andries (De Klerk Oelofse). (Foto: Verskaf)

Wanneer Fleur (Melissa Willering) vir Andries (De Klerk Oelofse) vra wanneer hy laas by die huis was, het Andries haar glad nie geantwoord nie. Is sy die een wat hom dalk weer sy voete in die Noord-Kaap sal laat sit?

Maggie

Ilse Klink as Maggie. (Foto: Verskaf)

“Wel, daai niks is vol woorde,” sê Maggie (Ilse Klink) vir Jan-Jan toe hy haar aankyk terwyl sy, met haar voorskoot en kopdoek, stof uit ’n mat slaan. Later, met hulle gesprek om die kombuistafel, verstaan jy beter wat Katja vir Maggie beteken het en watter invloed sy op haar lewe gehad het.

“Sy het iets saam met haar van oorsee gebring en dit die hele plaas vol geplant,” sê Maggie van Katja. Maar jy besef ook watter pligsbesef Maggie teenoor Katja het; haar belofte dat sy na Lourens en die seuns sal kyk. Sy maak haar hart verder oop wanneer sy sê: “En elke nag as ek klaar gewerk het, op die einde van die dag, as ek hierdie voorskoot langs hare ophang, is ek Magriet – ouma en ma.”

Katja en die seuns

Katja (Tinarie van Wyk Loots) en die seuns. (Foto: Verskaf)

Elkeen van die seuns het ’n eiesoortige verhouding met Katja gehad. In Frans, haar maan-kind, het sy die nuuskierigheid gesien oor die wetenskap. Ronnie, die middelkind, was haar ridder wat sy geleer het om met naald en gare te werk. Klein Andries was haar reisiger wat sy aangemoedig het om die wêreld te gaan verken. Wat dra Andries so in die blikke rond?

  • Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elinette ·

Dié storie is vir my baie deurmekaar ……… die een oomblik in die hede, die volgende oomblik in die verlede. Dit kos mooi kophou om te weet wie pas waar in, waarom en wanneer het wat gebeur … maar dit is maar seker die teks.

AmY ·

Fantasise storie. Gaan bankvas sit om te sien wat alles gebeur het, en wat die ‘verwydering tussen die seuns en hulle pa veroorsaak het.’
Ek glo dit het met/na hulle ma se dood begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.