‘Nêrens, Noord-Kaap’, episode 2: 5 dinge wat uitgestaan het

Deur Ilza Roggeband

Poskaarte teen ’n muur

Lourens bestudeer Andries se poskaarte. (Foto: Verskaf)

In die eerste episode van Nêrens, Noord-Kaap is Andries (De Klerk Oelofse) woedend met ’n rugsak en ’n paar van sy ma se koekblikke weg van die plaas. Maar in die tweede episode is dit duidelik dat hy nog nie geheel en al die band tussen hom en sy pa, Lourens (Frank Opperman), gesny het nie. Wanneer ’n poskaart van Andries opdaag en ons die mure sien waar Lourens al die poskaarte deur die jare opgeplak het, kan mens sien dat Lourens intens na hierdie jongste seun van hom verlang. Later sê Maggie (Ilse Klink) vir Lourens: “Hy skryf nog. Beteken nie niks nie”. Teen die einde van die episode besef jy Andries verlang net soveel soos sy pa …

Kan een mens so dom wees?

Frans en Jan-Jan gesels. (Foto: Verskaf)

Al die tekens is daar dat Lorrie meer as vriendskap van Frans wil hê. Jan-Jan (Dean Balie) kan dit sien en Maggie kan dit sien, maar hoekom is Frans so blind?

Geboortegrond

Jan-Jan en Maggie. (Foto: Verskaf)

Vir die Adendorff-broers is Nêrens hulle geboortegrond, maar wat is Nêrens vir Maggie en Jan-Jan? Wanneer Jan-Jan se vrou, Chrissie (Bianca Flanders), vir hom sê: “Al die wol in die wêreld gaan jou nie ’n Adendorff maak nie,” kan jy sien dit sny diep.

Meer as net ’n kombers

Ronnie hou die kombers vas wat vir hom as kind soveel beteken het. (Foto: Verskaf)

Wanneer Ronnie (Albert Pretorius) by die swemgala woedend die kombers onder Shannon (Natalie Robbie) en haar nuwe man, Ryan (Francis Chouler), uitpluk en boonop die groot vernedering daarna, kry jy saam met klein Lourens (Arnold Swart) skaam. Later in die episode besef jy egter dat die laslap-kombers met die geborduurde ridder meer as net ʼn “bloody blanket” is.

Meneer Adendorff is my pa se naam

Suzette skyn ‘n lig op Ronnie. (Foto: Zaheer Banderker)

Ronnie, met sy ma se ridder-kombers om sy skouers, huil laat in die aand soos ’n wolf vir die maan en kort voor lank is die polisie by sy voordeur. Is dit die laaste wat ons van die polisievrou Suzette (Daneel van der Walt) gaan sien?

Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annakapat ·

Baie onverwerkte familie emosies maar lyk na ‘n goeie storie. Frank Opperman se toneelspel is uitstekend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.