‘Nêrens, Noord-Kaap’ episode 8: Andries vat die pad

Deur Ilza Roggeband

Andries vat die pad

De Klerk Oelofse as Andries. (Foto: Verskaf)

Andries (De Klerk Oelofse) los vir Fleur (Melissa Willering) ’n poskaart om te sê hy gaan verder alleen reis. Later ontmoet hy twee kampeerders in ’n woud en die vrou, Ichika (Shoko Yoshimura), let op dat hy baie kwaad in hom het. “It’s fine to fight the world, but why do you have to do it alone?” vra sy hom.

Jakkals

Lourens en Andries met Jakkals. (Foto: Verskaf)

Ná Katja (Tinarie van Wyk Loots) se dood, kan klein Andries (Johannes Jordaan) nie ophou in die nag uitglip nie. Hy sê dit is die jakkalse wat hom roep en sy pa (Gideon Lombard) koop vir hom ’n hondjie wat hy Jakkals doop. Ons weet ook nou waar die bandjie vandaan kom wat Andries vir Fleur gegee het.

Af in die drein

Suzette help vir Ronnie om al sy drank in die drein af te gooi. (Foto: Verskaf)

Ronnie (Albert Pretorius) is nie seker of hy die regte ding gedoen het om vir Lourens (Arnold Swart) plaas toe te stuur nie. Wanneer Suzette (Daneel van der Walt) vir hom sê hy ken die pad plaas toe, sê hy egter hy moet homself eers “uitsort”. Later help Suzette vir Ronnie om al sy drank by die kombuiswasbak af te gooi. Maar gaan dit genoeg wees om te help? Wat is die werklike rede hoekom Ronnie sy sorge so verdrink?

Klein Lourens op die plaas

Klein Lourens en Maggie op die plaas. (Foto: Verskaf)

“Dis hoekom sy koppie so hang,” sê Maggie toe Frans (Geon Nel) vir haar vertel van die ongeluk by die skool. Ou Lourens (Frank Opperman) wil weet hoekom die kind so maer is. Hy is grimmig omdat hy dink Ronnie stuur sy probleme na hulle toe. Frans sê dan vir sy pa dat die kind hulle nie ken nie en dat die plaas nou die regte plek vir hom is.

Is Frans jaloers?

Lorrie. (Foto: Verskaf)

Frans en Lorrie (Shana Mans) loop mekaar in die winkel op die dorp raak. Hy vra of dit Coenraad Fick is wat vir haar in die bakkie wag en probeer haar op sy lomp manier waarsku omdat Coenraad glo ’n rokjagter is. “Dalk wil ek bietjie gegryp word,” sê Lorrie. Frans is so onkant betrap dat hy amper al die meel in die winkel koop.

  • Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.
  • Lees meer oor Daneel van der Walt, wat die rol van sersant Suzette Claase vertolk, hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Uitstekende reeks.
Baie dankie kykNET.

daarsdit

Baie goed gedoen, gaan net te veel terug in die verlede. Gelukkig het ons ff.