Netflix bring nuwe seisoen van ‘Blood & Water’

Blood & Water

Netflix het Maandag aangekondig dat hy die tweede seisoen van Blood & Water, die Suid-Afrikaanse televisiereeks wat vinnig ʼn internasionale gunsteling geword het, gaan vertoon.

Blood & Water het verlede maand opslae gemaak toe dit die eerste Suid-Afrikaanse reeks geword het wat die no. 1-posisie op dié stromingsdiens se tien top-reekse in die verskeie lande, insluitend die VSA, ingeneem het.

Maroela Media het vroeër berig dat Blood & Water ʼn tienerdrama is wat afspeel by die fiktiewe Parkhurst College, ʼn gesogte hoërskool in Kaapstad.

Dit vertel die storie van die 16-jarige Puleng Khumalo, vertolk deur Ama Qamata, wat na die skool oorgeplaas word sodat sy haar suster kan vind wat by geboorte ontvoer is.

Dit nadat sy Fikile Bhele (Khosi Ngame), wat ook daar skoolgaan, ontmoet het en vermoed het dat sy dalk haar verlore suster kan wees. Die drama ontvou soos Puleng se obsessie met Fikile toeneem en sy haarself in Fikile se lewe inwurm.

Die eerste seisoen het geëindig met Puleng wat eindelik aan Fikile verklap wat sy in haar navorsing te wete gekom het en dat sy haar suster is.

Blood & Water het vir die eerste keer in Mei 2020 op Netflix verskyn en die tweede seisoen sal na verwagting in Mei 2021 beskikbaar wees. Die datum kan wel verander omdat verfilming deur die Covid-19-pandemie beïnvloed word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.