Netflix en ‘Ted Lasso’ skitter by Emmys

Kate Winslet is bekroon as die beste aktrise in ʼn kortreeks vir haar rol in “Mare of Easttown” tydens die 73 Emmy-toekennings op 19 September 2021. (Foto: Rich Fury / Getty Images Noord-Amerika / Getty Images via AFP)

Die stromingsdiens Netflix het Sondagaand die Emmys oorheers met ʼn rekordgetal toekennings vir sy reekse. TV-reekse soos The Crown en The Queen’s Gambit, ook uit Netflix se stal, het die grootste toekennings van die aand ontvang.

Die Emmys bekroon jaarliks die beste talent in die wêreld van televisie.

Ondanks die drastiese transformasie in die televisie-landskap sedert 2012 kon Netflix tot voor vanjaar nog nie daarin slaag om van die grootste pryse met die kleinskerm se ekwivalent van die Oscars op te raap nie.

Sondagaand het die stromingsreus die toekenning vir die beste drama-reeks vir The Crown ontvang, asook die beste kortreeks vir The Queens Gambit.

Apple TV+ se Ted Lasso was vanjaar se groot wenner in die komediekategorieë gewees.

Jason Sudeikis, wenner van die toekenning as beste akteur in ʼn komediereeks vir Ted Lasso, glimlag vir die kameras in die mediakamer by die 73 Emmy-toekennings op 19 September 2021 in Los Angeles, Kalifornië in die VSA. (Foto: Rich Fury / Getty Images Noord-Amerika / Getty Images via AFP)

Televisiesterre het vir die eerste keer in twee jaar bymekaar gekom vir die geleentheid in Los Angeles in die VSA. Die Emmys is gedeeltelik in ʼn buiteluglokaal aangebied om die verspreiding van Covid-19 te voorkom, nadat verlede jaar se toekenningsgeleentheid hoofsaaklik virtueel aangebied is. Minder gaste het die geleentheid bygewoon en bewyse van inentings en negatiewe toetsuitslae was verpligtend vir gaste.

“Ons gaan partytjie hou. Ek het geen woorde nie, maar ek is baie, baie dankbaar,” het Peter Morgan, die skepper van The Crown, gesê wat by dié geleentheid vanuit Londen ingeskakel het.

Die vierde seisoen van die uiters gewilde Britse koninklike reeks, The Crown, wat die ongelukkige huwelik van prins Charles en prinses Diana uitgebeeld het, het die meeste van die dramapryse ingepalm.

Olivia Colman, wat voorheen ’n Oscar gewen het toe sy die Britse koningin Anne gespeel het in The Favorite, het die prys vir die beste aktrise gekry vir die vertolking van haar afstammeling, koningin Elizabeth II.

Colman het hulde gebring aan haar pa wat tydens die Covid-19-pandemie gesterf het en gesê dat hy “dit alles sou geniet het”.

Josh O’Connor, aangewys as die beste akteur vir die rol van Charles, het gesê die maak van die program was “die lonendste twee jaar van my lewe”.

The Crown het ook pryse vir ondersteunende akteurs gewen – waaronder een vir Gillian Anderson vir haar vertolking van Margaret Thatcher – en toekennings vir beste skryfwerk en regie.

Die reeks het ʼn totaal van 11 pryse ontvang, waaronder tegniese toekennings wat voor Sondag se seremonie uitgedeel is. Dit is gelyk aan The Queen’s Gambit, wat net soveel pryse ingeoes het, en ʼn een toekenning kort van die drama-rekord wat deur Game of Thrones gehou word.

En die wenners is:

Anya Taylor-Joy is die ster van Netflix se bekroonde kortreeks “The Queen’s Gambit” wat 11 pryse by vanjaar se Emmy-toekennings ontvang het. (Foto: Rich Fury / Getty Images Noord-Amerika / Getty Images via AFP)

Hier is ’n lys van die wenners in die belangrikste kategorieë vir die 73ste Emmy-toekennings, wat Sondag in Los Angeles uitgedeel is.

  • Beste dramareeks: The Crown (Netflix)
  • Beste komediereeks: Ted Lasso (Apple TV+)
  • Beste kortreeks: The Queen’s Gambit (Netflix)
  • Beste akteur in dramareeks: Josh O’Connor, The Crown
  • Beste aktrise in ʼn dramareeks: Olivia Colman, The Crown
  • Beste akteur in ʼn komedie: Jason Sudeikis, Ted Lasso
  • Beste aktrise in ʼn komedie: Jean Smart, Hacks
  • Beste akteur in ʼn kortreeks of -rolprent: Ewan McGregor, Halston
  • Beste aktrise in ʼn kortreeks of -rolprent: Kate Winslet, Mare Of Easttown
  • Beste ondersteunende akteur, drama: Tobias Menzies, The Crown
  • Beste ondersteunende aktrise, drama: Gillian Anderson, The Crown
  • Beste ondersteunende akteur, komedie: Brett Goldstein, Ted Lasso
  • Beste ondersteunende aktrise, komedie: Hannah Waddingham, Ted Lasso
  • Beste ondersteunende akteur, kortreeks of -rolprent: Evan Peters, Mare Of Easttown
  • Beste ondersteunende aktrise, kortreeks of -rolprent: Julianne Nicholson, Mare Of Easttown
  • Beste televisierolprent: Dolly Parton’s Christmas On The Square (Netflix)

Televisiereekse wat sewe of meer Emmy-pryse ontvang het:

  • The Crown – 11
  • The Queen’s Gambit – 11
  • Saturday Night Live – ​​8
  • Ted Lasso – 7
  • The Mandalorian – 7

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.