Netflix fokus op produksies in Afrika ná wegholsuksesse

Die stromingsdiens Netflix. (Foto: Thibault Penin/Unsplash)

Die Netflix-stromingsreus het Woensdag gesê hy beplan om sy bedrywighede in Afrika uit te brei ná die sukses van Suid-Afrikaanse dramareekse soos Blood and Water.

Netflix het sedert 2016 byna $175 miljoen (sowat R3 miljard) aan produksies in Afrika bestee.

“Om ons sake [in Afrika] uit te brei, is goed vir Netflix,” het die maatskappy in ‘n verslag gesê. Die verslag het verdere besonderhede oor die omvang van die planne in Afrika verskaf en het gesê altesaam $63 miljoen is spesifiek vir Suid-Afrika in 2022 en 2023 geoormerk.

Netflix se bedrywighede in Afrika suid van die Sahara fokus tot dusver hoofsaaklik op Suid-Afrika, Kenia en Nigerië en het, volgens die maatskappy, sowat 12 000 werksgeleenthede geskep.

“Hierdie is net die begin. Ons beplan om uit te reik na meer lande oor die vasteland heen,” het Shola Sanni, Netflix se beleidsdirekteur vir Afrika suid van die Sahara, gesê.

Suid-Afrika is die vasteland se grootste bydraer tot die platform, met ‘n toevoeging van meer as 170 flieks, reekse en dokumentêre programme.

Blood and Water het in 2020 internasionale opslae gemaak en het die eerste Suid-Afrikaanse program geword wat die no. 1-posisie in die VSA gehaal het.

“Ons beplan om voort te bou op hierdie mylpale om ons sake uit te brei. Ons wil vir meer storievertellers van Afrika ‘n stem op ‘n internasionale verhoog gee,” het Netflix gesê.

Netflix het die afgelope paar jaar daarop gefokus om te diversifiseer met trefferreekse soos die Spaanse Money Heist en die Suid-Koreaanse distopiese drama, Squid Game.

Die maatskappy het ook in 2021 hande gevat met die Verenigde Nasies se kulturele agentskap, UNESCO, om ses kortflieks deur jong regisseurs van Afrika te befonds.

“Dit is eerlikwaar tyd dat waardige platforms die rykheid en waarde in ons stories raaksien,” het Gcobisa Yako, een van dié ses jong rolprentmakers, aan AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Almal hou nie van Afrika flieks nie!!! Al so moeg daarvoor dan sekeres se kultuur op mens afgedwing word. Gelukkig kan ons besluit om nie tv te hê nie!!!

Vexed ·

Ek is ook nie juis ‘n aanhanger van Afrika flieks nie. Daarom kyk ek dit nie. Daar is egter baie mense is Afrika wat smag daarna. Netflix gaan hulle bedrywighede in Afrika uitbrei, hulle het niks gesê van eksklusief Afrika produkte op hulle stroom diens hê nie. Daar sal baie alternatiewe wees wat ek glo vir jou en my meer aanloklik sal wees. Dan is daar ook baie ander stroom dienste. Ek verkies bv. Britbox.

SwartBees ·

Netflix is overrated en die SA argiewe suig bal.

MFC is by stukke baie beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.