Nicola Hanekom vertel oor die skryf van ‘Dwaalster’

Tinarie van Wyk-Loots en Albert Maritz in 'n toneel uit 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Tinarie van Wyk-Loots en Albert Maritz in ‘n toneel uit ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

Dwaalster, die splinternuwe Afrikaanse drama wat Dinsdagaande op kykNET te sien is, is uit die pen van Nicola Hanekom, die bekroonde dramaturg en gesoute aktrise.

Hanekom het aan Maroela Media vertel sy het reeds sowat tien jaar gelede die idee vir die storie gekry toe sy en haar man, die akteur Grant Swanby, op hul plaas in die Hoekovallei na die sterrehemel gesit en kyk het.

“Die storie gaan oor die mense van die fiktiewe dorpie Maanhaarsdrif, wat almal behep is met die sterre. Die hoofkarakter, Annabel, is ʼn ondersoekende joernalis wat terugkeer na haar tuisdorp waar sy dinge van die verlede wat haar steeds pla, oopkrap.”

Sy vertel sy en Swanby het destyds die idee aan die SAUK voorgelê, maar nadat dit van die hand gewys is, het dit gelê en stof vergader in ʼn laai.

June von Merch en Albert Maritz in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

June von Merch en Albert Maritz in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Ons het sowat twee jaar gelede weer die draaiboek uit die laai gehaal en kykNET het besluit om ons ʼn kans te gee om die reeks te maak.”

Retief Scholtz was deel van die skryfspan wat die draaiboek weer blinkgepoets het vir kykNET.

Hanekom vertel sy het van die karakters geskryf met sekere akteurs in gedagte, maar dat dit haar net help om ʼn raamwerk te skep vir die karakter. “Natuurlik besluit die regisseur wie hulle in watter rolle gaan verdeel, maar dit maak die skryfproses vir my net makliker as ek met iemand in gedagte kan skryf.”

Die lekkerste gedeelte daarvan om aan Dwaalster te kon skryf, was dat sy meer tyd daaraan kon bestee om onder elke karakter se vel in te klim. “Anders as met ʼn toneelstuk of ʼn fliek het jy met ʼn reeks van 13 episodes soveel meer tyd om ʼn karakter te ontwikkel en vir elke karakter ʼn storieboog uit te dink.”

Sy is ook vol lof vir Jaco Bouwer, regisseur van die reeks. “Hy het dit so besonders aangepak en hy het die draaiboek op ʼn baie kunssinnige wyse vertolk. Dit lyk amper soos ʼn kunsrolprent!”

Volgens Hanekom het die hele span agter Dwaalster bygedra daartoe om van die reeks te maak wat dit is. “Van die kostuums tot die musiek het my gedagtes en idees in die lewe gebring. Dit is so opwindend, want jy stel jou iets op ʼn sekere manier in jou kop voor.

June von Merch en Neels van Jaarsveld in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

June von Merch en Neels van Jaarsveld in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn uitdaging om alles teen so ʼn vinnige tempo te skiet. Ons het oor drie maande geskiet, meestal op Bonnievale en Calvinia, maar die span ken mekaar so goed dat elkeen presies weet waar om raak te vat. Jy moet heeltyd konsentreer en volstoom aan die gang wees.”

Haar gunstelingkarakter is Lukas, die skrywer wat vertolk word deur André Odendaal. “Hy is aanvanklik so arrogant en vol draadwerk, maar daar is ʼn lekker omwenteling in sy storielyn en sy karakter het soveel diepte. Omdat hy ʼn skrywer is, kan ʼn mens ook lekker woorde gebruik.”

Sy glo die genre en die teks is wat die storie so uniek maak. “Dit is ʼn drama, gemeng met ʼn riller en magiese realisme. Daar is ook koddige en eksentrieke karakters wat komedie aan die storie verleen. Dit sal nie in almal se smaak val nie, maar dit is goed dat daar variasie is en dat ʼn verskeidenheid aan kykers gebied word. Ons hoop die mense hou daarvan!

Jacques Bessenger en Neels van Jaarsveld in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Jacques Bessenger en Neels van Jaarsveld in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Om jou eie gedagtes en storie so voor jou oë op die kassie te sien afspeel, laat jou broek so bietjie bewe,” lag sy.

“Ek knyp myself, want ek is baie gelukkig dat ek ʼn skrywerskontrak gekry het vir so ʼn groot projek. Dit is ʼn groot voorreg om die kans te kry om iets te skep, want dit is nie almal beskore nie. Ek is baie gelukkig en het ʼn groot waardering daarvoor.”

Dwaalster is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan van Heerden ·

Sien uit na reeks Dwaalster. Pla net waarvoor nou weer guy paartjie (soos Boekklub reeks) inbring en ongemak en irritasie veroorsaak.

Die meeste afrikaanse flieks se taalgebruik met vloekwoorde is onvanpas en nie bevorderlik nie en glad nie geskik vir kinders nie terwyl ons juis Showmax koop om Afrikaans te sien. Ons en ander kykers oorweeg sterk om subskripsie te laat verval.

Die korter Afrikaanse fees flieks se stories eindig stomp en hang in die lug. Sekere van die reekse eindig ook stomp seer sekerlik om opvolg reeks te motiveer.

Blaarman ·

Jan

Nie almal wil kinderstories kyk die heeldag nie. Programme reflekteer soms die werklikheid en die samelewing waarbinne ons lewe. Daar is gay mense daarbuite en hulle is deel van ons samelewing. Onthou ook dat meeste Afrikaanse mense waarskynlik nie jou presiese waardes deel nie (en dit is ook goed so dat mense verskil).

Daar is niks wat jou keer om die “parental controls” op Showmax op te stel nie – dit sal keer dat jou kinders nie programmatuur kyk wat onbevoeg is vir hul ouderdomsgroep nie.

Dwaalkind ·

Kyknet dramas oor die algemeen goed maar die komedies is in swak smaak. So ook Skelmpie en die Nare Waarheid. Hoort nie op TV nie

Dassie ·

Jy slaan die spyker op die kop, Dwaalkind. Ek het in my lewe nig nooit sulke swak komedie gesien nie. Maar die dramareekse is goed

MyBoetieSeSussieSeTasSeHandvatselSeKiemSeSlagoffer ·

Oor die algemeen moet ek ook sê dat ons Afrikaanse komedie gewoonlik van swak gehalte is, en die tema’s al holrug gery is.

Ek het nie ‘n probleem daarmee as daar ietwat van ‘n skok-element is nie. Wat ek wel mee ‘n probleem het, is dat ons komedie meestal banaal is. Ons “kunstenaars” probeer opmaak vir ‘n tekort aan kwaliteit-inhoud deur kommin te wees.

Daar is ‘n algemene probleem ook dat julle julle gehore onderskat. Ons weet wanneer julle daai tiener-komedie se storielyn kaap van Amerikaanse tienerflieks. Ons weet wanneer jy, meneer komediant, Jimmy Carr of Jim Jeffries se grappe expropriate. Ons weet wanneer jy die kortpad wil vat.

Dalk sê jy vir jouself en vir ander “maar dit is wat Afrikaanse gehore wil hê”. Die feite van die saak is, in totaal is jou bedryf besig om te krimp, en dit is jou skuld. Jy vergiftig dit. Jy sorg nie daarvoor nie. Dit is jou skuld dat die enigste gehoor wat nog bereid is om geld uit te haal vir ‘n show tandloos is en bereid is om te settle vir toilethumor.

Jou gehoor sal groei wanneer jy vars nuwe kwaliteit-inhoud na die tafel toe bring, en jy hoef nie jou siel prys te gee in die proses nie.

So meneer of mevrou die “creative”… laat val maar ‘n vloekwoord hier-en-daar as dit bydra tot die storie. Maar bly maar liefs weg van latrine-komedie. Wend julself aan en kom met oorspronklike idees na vore.

Danny ·

Dit is ‘n baie goeie beskrywing van SA komedie “myboetiesesussiesetassehandvatsel”. Jy kon dit nie beter gestel het nie. En “stand up commedians” soos Schalk dink deur een na die ander belediging en verkleinering uit te deel, sal hy ad “snaaks” geag word. Daar is afrikaanse sepies wat meer humor bevat

Gay ·

Jan van Heerden, moet dit dan nie kyk as die gay tonele vir jou ‘n probleem is nie. Dit is die probleem deesdae, alles moet mos eng wees. As ‘n ding nie reg is vir sekere mensie nie, is dit mos ‘n groot probleem. Leef en laat leef.

Zettie ·

Ek moet bieg. Die eerste episode het glad nie my aandag gehou nie en ek het dit vreeslik vervelig gevind en nie eens klaar gekyk nie, maar die 2de episode was heeltemal die teenoorgestelde. Nou kan ek nie wag om weer te kyk nie. Terrence Bridgette vertolk sy karakter se rol vreeslik goed, maar Neels van Jaarsveld nie so lekker nie. Ek vind die afgelope tyd die drama’s op KykNet baie goed. Die reekse is net té kort.

Asjas ·

Ek geniet sover Dwaalster. Die reeks Spoorloos was ook vir my aangenaam om te kyk en om te wonder wie was die ontvoerder…die uiteinde het so effe van ‘n kinkel gehad en ek was verbaas om te sien wie is skuldig. Daar is hier en daar ‘n akteur wie se spel nie te goed was nie maar die storie was goed en dit moet my boei. Lekker om goeie Afrikaanse reekse te sien deesdae. Het Sondagaand ook Desember gekyk, een van paar kortfilm reekse en het dit ook geniet.

Nel ·

Beste vir my bly nog maar Vallei van Sluiers en Amalia. Albei puik drama reekse.

Deloris ·

Die mense wst so kla, kyk iets anders. Ons is n nasie wat bekend is vir snaakse humor. Ons wil nie verveelige en eng en outydse verhale een na die ander kyk nie. En JY wat so wil en kla…. een vraag…. kan jy dalk n beter storie skryf??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.