Nicole Holm oor rol in derde seisoen van ‘Fynskrif’

Nicole Holm is Inge in die derde seisoen van ‘Fynskrif’. (Foto: Verskaf)

Die regsfirma Van Wyk & Vennote sal Dinsdag (14 April) weer vir spanning en intrige sorg wanneer die uiters gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif se lankverwagte derde seisoen afskop.

Die reeks is geskryf en vervaardig deur Louis Pretorius en Albert Snyman. Dit handel oor die gebeure en personeellede van ʼn regsfirma in Kaapstad en omdat die firma op siviele en nie kriminele sake nie fokus, is daar nie enige hofdrama te sien nie.

Nicole Holm sluit in die tweede episode by die derde seisoen van Fynskrif aan as Inge, ʼn prokureur wat haar verskyning maak wanneer sy een party van ʼn bejaarde paartjie verteenwoordig wanneer die vrou van haar man wil skei.

Dié rolle word deur Pierre van Pletzen en Annelize van der Ryst, onderskeidelik bekend om hul rolle as Oom Oubaas en Matrone Netta Nortjé in die SABC2-sepie 7de Laan, vertolk.

“Inge is ʼn waarnemer en sien die mens raak agter die fasade wat voorgehou word. Dit is haar funksie in die storie, maar dit is ook die kern van wie en wat sy is. Mense onderskat haar egter as prokureur, omdat sy vir haarself kan lag. Ek dink egter dit maak haar uiters gevaarlik,” sê Holm oor dié nuwe Fynskrif-karakter.

Die veteraan-aktrise gee toe dit was vreesaanjaend om as nuweling op ʼn stel te stap waar die ratte reeds soos deel van ʼn geoliede masjien draai. Die tweede en derde seisoene is aaneenlopend geskiet en Nina Swart is die regisseur van albei seisoene.

Swart is self ʼn aktrise wat destyds bekendheid verwerf het vir haar rol as Wilmien in 7de Laan en het ook ʼn verskyning in Die Boekklub gemaak.

Holm vertel sy en Swart is beste vriende en dat hulle ook al talle kere saam op die verhoog asook in die televisiereeks Known Gods gespeel het.

“Dit is die eerste keer dat ons in so ʼn verband saam gewerk het. Daar was geensins tyd vir persoonlike dinge nie; sjoe, die spoed waarteen ons die reeks geskiet het, was verbysterend! Dit is die vinnigste pas waarteen ek nog ooit so iets moes skiet.”

Nicole Holm kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Sy is vol lof vir Pretorius, wat ook Die Boekklub geskryf het, en volgens Holm handel sy stories altyd oor die menslikheid van die karakters. Sy vertolk die rol van die kranige bakster en moederlike huisvrou Hanli Oberholzer in dié reeks.

“Hy kry dit reg om altyd karakters te skryf wat ten alle tye driedimensioneel is en daar is altyd soveel verskillende fasette aan ʼn karakter. Tog bly hulle altyd herkenbaar en hy skram nie weg van die lelike van die lewe nie, maar is ook romanties genoeg om ook die mooi weer te gee.

“Louis was baie slim om ʼn buitestander by die derde seisoen in te bring, want aan die einde van die tweede seisoen is die firma en sy mense so te sê aan skerwe. Die kykers ken ook die karakters nou al baie goed en deur ʼn nuwe karakter in te bring wat met vars oë na die karakters kyk, gee ook aan die kykers die kans om weer uit ʼn nuwe perspektief na die karakters te kyk.

“Dit is ʼn deurlopende tema in Louis se werk dat jy na die fynskrif van ander mense moet kyk om te weet wie hulle regtig is. Inge is ook ʼn moederfiguur, maar sy is anders as Hanli – onverskrokke, direk en uitgehonger om te werk wanneer sy by Van Wyk & Vennote aankom.”

Fynskrif saai Dinsdag 14 April om 20:00 uit op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.