Nightbirde onttrek aan talentkompetisie

Nightbirde. (Foto: Facebook/Nightbirde)

Jane Marczewski, beter bekend as Nightbirde, het onttrek aan die America’s Got Talent-kompetisie weens haar stryd met kanker.

Nightbirde (30), van Zanesville in Ohio, het Maandag dié nuus met haar sowat 700 000 Instagram-volgelinge gedeel.

Sy het in Junie vanjaar tydens haar oudisie vir die 16de seisoen van die program harte wêreldwyd verower met ʼn oorspronklike liedjie getiteld “It’s Okay” uit haar eie pen.

“Sedert my oudisie het my gesondheid verswak en my kankerstryd verg al my energie en aandag,” het sy in ʼn roerende inskrywing gesê.

“Ek is so hartseer om aan te kondig dat ek nie kan voortgaan met hierdie seisoen van America’s Got Talent nie. Die lewe gee nie altyd vir ʼn mens die kans wat jy verdien nie, maar dit het ons reeds geweet.”

Nightbirde het tydens haar oudisie in Junie, voordat sy begin sing het, aan die beoordelaars gesê sy is ʼn kankerlyer wat tans nog kanker in haar longe, ruggraat en lewer het. Sy het later ook gesê sy het volgens dokters net ʼn 2%-kans op oorlewing.

Nightbirde. (Foto: Instagram/Nightbirde)

Haar liedjie en outentieke, eteriese stem het Simon Cowell, Heidi Klum, Howie Mandel en Sofia Vergara uitgeboul. Die YouTube-video van die oudisie spog ook met meer as 30 miljoen kykbeurte.

Cowell het uiteindelik vir Nightbirde die sogenaamde golden buzzer gegee, wat beteken dat sy outomaties deurgaan na die finale uitdunrondes wat regstreeks plaasvind.

“Jy kan nie wag tot die lewe nie meer moeilik is voordat jy besluit om gelukkig te wees nie,” het sy destyds gesê.

America’s Got Talent het gereageer deur te sê: “Ons hou jou in ons gedagtes dat jy ten volle sal herstel.”

“Ons harte en gebede gaan uit na haar en haar familie,” het beoordelaar Howie Mandel op Twitter geskryf.

“Ons stuur vir jou liefde en gebede,” het Hannah Brown, voormalige Bachelorette-deelnemer, gesê. “Wat ʼn inspirasie is jy nie vir ons almal nie.”

Bronne: The New York Post, The Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette ·

Baie jammer vir die dame. Sy het regtig n baie mooi stem.

SomeOne ·

jane, die gebede gaan op na die Here om jou te herstel, en nog ‘n kans in die lewe te gee, jys pragtig net soos jou glimlag, jou sang, stem en persoonlikheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.