Disney se stroomdiens binnekort in SA

Die huis van Mickey-muis en al sy kykgenot sal binnekort in Suid-Afrika gestroom kan word. (Foto: Marques Kaspbrak/Unsplash)

Kry solank die springmielies gereed, want Disney+ se stroomdiens is op pad na die Suidelike Halfrond! Die huis van Mickey-muis het met die bekendmaking van sy jongste finansiële resultate gesê Suid-Afrikaners kan hulle gereedmaak om in die winter van 2022 knus onder ’n kombers aan sy kykgenot te begin knibbel.

Die koronaviruspandemie het die Walt Disney-groep se temaparke op ’n stamperige wipwarit geneem. Soos die parke was rolprentteaters maande lank gesluit en sy gewilde passasierskepe in hawens gehok. Hoewel die wêreld se grootste vermaaklikheidsgroep tienduisende werknemers in 2020 moes aflê, is hy vol vertroue dat sake teen einde 2021 weer op volle vaart sal stoom.

Disney se stromingsdiens was midde-in die pandemie nie net vir ingeperktes wêreldwyd ’n welkome ontvlugting nie, maar het hom ’n broodnodige finansiële hupstoot gegee. Dit is op twee na die wêreld se gewildste stromingsdiens vir oorspronklike inhoud naas Netflix en Amazon Prime Video.

Disney+, wat onlangs rolprente soos Cruela, Luca en Marvel se Black Widow uitgereik het, het begin Julie, net sowat 18 maande ná dié nuwe aanlyn glanstapyt uitgerol is, met sowat 116 miljoen intekenaars gespog. Dit is meer as dubbel die 57,5 miljoen intekenaars wat hy einde Junie 2020 gehad het.

Netflix het volgens Comparitech teen einde Junie vanjaar sowat 209 miljoen intekenaars wêreldwyd gehad. Die miljardêr Jeff Bezos se Amazon Prime Video het op sy beurt in April die 200 miljoen-kerf verbygesteek.

Na berig word, is Suid-Afrika aanvanklik die enigste land op die vasteland waarop Disney sy visier het. Benewens Disney se eie inhoud, sal plaaslike rusbankruspers hulle ook kan verlustig in reekse soos Star Wars: The Mandalorian, Loki en ’n groot versameling inhoud van National Geographic, Marvel Studios en Pixar.

Hoewel die maatskappy beloof om nader aan die bekendstellingsdatum meer inligting oor koste, pakkette en so meer bekend te maak, beloop Disney+ se koste in die VSA tans sowat $8 per maand (ongeveer R118), of $80 (sowat R1 200) per jaar. Daar is ook ’n bondel beskikbaar wat Hulu en ESPN insluit vir $14 (R207), iets wat SuperSport se monopolie op sportuitsendings in Suid-Afrika kan plettervat (mits dié pakket natuurlik plaaslik beskikbaar gestel word).

Disney se planne is goeie nuus wat aan Suid-Afrikaners ’n nóg groter kykverskeidenheid bied en kom ná nog twee kyk-op-aanvraag-dienste (SVOD) hier bekendgestel is. Dit is ITV Studios en die BBC se BritBox SA wat by MultiChoice se Showmax aangesluit het, asook eVOD van eMedia Holdings (e.tv). Plaaslik kan kykers reeds Netflix SA, Amazon Prime Video, Apple TV+, PCCW Media se VIU, Vodacom Video Play en TelkomONE stroom.

Intussen kan ons net hoop dat dienste soos WarnerMedia se HBO Max (wat onlangs met die meeste Emmy-toekennings huis toe is), Paramount+, NBCUniversal se Peacock en Discovery+ ook hul weg tot by skerms aan die suidpunt van Afrika vind.

  • Bykomende bronne: Bloomberg; Stuff; Business Insider; Critical Hit Entertainment; Tech Central en The Hollywood Reporter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Aai ·

DSTV gaan vou kry vir julle mooi Steve ons gebede word beantwoord.

Wielspore ·

Ons DSTV staan ook einde se kant toe, ons betaal net onder R1000 per maand wat net te veel is. Toevallig het ek die week ‘n boodskap ontvang dat ons R554 te min betaal het ten spyte van ‘n debiet aftrekking van meer as 20 jaar. Die bank staat wys die korrekte bedrag is betaal, DSTV se rekening wys die regte bedrag is betaal minus R400 (weet nie hoekom) en dan die uitstaande bedrag van R554.
Ek sal eerder wil kies wat ek wil kyk soos dit in die berig staan as wat ek gedwing word om te kyk soos wat DSTV verskaf. Ons woongebied kry voor Desember Fibre Internet dan is dit koebaai DSTV.

Francois Le Cochon ·

1. Kry fibre 2. Kry Smart TV of Android TV box met DSTV Now, Google Play, Youtube en Netflix pre-installed 3. Teken in op DSTV Stream (5 bykomende devices ingesluit) vir R829pm. Kry 5 vriende ook met fibre. Elk gebruik eie TV (Smart of Android box) as een van die 5 devices, dus 6 altesaam. Dit is R138pm elk vir DSTV Premium. Nie sleg nie. Deel dan ook Netfix en ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.