Nog ʼn aanbieder groet ‘Die GROOT Ontbyt’

Esterhuizen verlaat die geel bank na sewe jaar. (Foto: Jislaaik-JA! Photography)

Die gewilde radio-en-televisieoggendprogram, Die GROOT Ontbyt, sê vandeesmaand vaarwel vir nóg ʼn geliefde aanbieder.

Luidens ʼn verklaring groet Elsa Esterhuizen dié unieke radio-en-televisieprogram se bekende geel bank ná sewe jaar. Sy sal tot einde Maart deel van Die GROOT Ontbyt bly, waarna verskeie vryskuttake haar vir tyd en wyl besig sal hou.

“Esterhuizen is vanaf 2012 betrokke in die uitsaaiwese en het haar loopbaan by Bosveld Stereo 107.5 begin. Daarna het sy die rol as omroeper by GROOTfm 90.5 in 2013 beklee en sluit sy haar in 2014 by e.tv se Sunrise-oggendprogram aan. Dié keer, nie net op radio nie, maar ook op die kassie. In 2015 word geskiedenis gemaak met baanbrekerswerk toe twee mediums – radio en televisie – in ʼn hibried-konsep op kykNET kanaal 144 en op frekwensie 90.5 te sien én te hoor is. Hier was Elsa dan ook uitvoerende hoof van die Bloudruk Groep, Hardus Zevenster, se eerste keuse as nuusleser en mede-aanbieder, langs Johrné van Huyssteen en Hendri Myburgh,” lui die verklaring.

Esterhuizen was nie net nuusleser en aktualiteitsaanbieder van Die GROOT Ontbyt nie, maar word ook in 2016 die anker van GROOTplaas, ʼn landbouprogram wat voor Die GROOT Ontbyt op kykNET kanaal 144 uitgesaai word.

Sy verlaat die program kort op die hakke van Van Huyssteen, wat Maroela Media vroeër berig het die uitsaaiwese vir die eiendomsmark in Februarie vanjaar verruil het. Van Huyssteen het Esterhuizen se professionaliteit, hoë vlak van voorbereiding en loopbaangroei in die verklaring geprys.

Izaan Steenkamp, inhoudsbestuurder van Die GROOT Ontbyt, sê dat Esterhuizen altyd geweldig doelgerig, gefokus en ʼn regte staatmaker was. “Ek was altyd gerus dat enige onderhoud of insetsel vir GROOTplaas en Die GROOT Ontbyt met meer-as-genoeg navorsing en deeglikheid gepaard sou gaan. Omdat Elsa ʼn baie privaat persoon is, was dit altyd lekker as sy klein gunstelinge as deel van ʼn grappie gedeel het. Ons wens haar talle groeigeleenthede, en net wat goed en mooi is, toe.”

Esterhuizen se kollegas sê dat hul haar aansteeklike lag gaam mis. (Foto: Jislaaik-JA! Photography)

“Prinses Elsa”, soos sy aan haar kollegas bekend was, sê haar hoofstuk by GROOTfm en Die GROOT Ontbyt was ʼn goeie leerskool wat haar nie net geleer het om op haar voete te dink nie, maar ook haar mensekennis aansienlik verbeter het. “Ek dink televisie én radio bied die geleentheid en voorreg om mense ingelig te hou. Daarom beskou ek dit as ʼn ongelooflike verantwoordelikheid en van sleutelbelang om mense te alle tye op ʼn professionele wyse bewus te maak van wêreldgebeure in samewerking met die gaste en die merkwaardige insig wat hulle na die gesprek bring. Die adrenalien van so ʼn verantwoordelikheid en voorreg is een van die dryfvere wat ek die meeste geniet,” sê sy.

Esterhuizen sal egter op die lug by Die GROOT Ontbyt bly tot einde Maart. (Foto: Jislaaik-JA! Photography)

Esterhuizen vertel dat sy die afgelope sewe jaar talle hoogtepunte ervaar het, maar sonder aktuele gesprekke met politieke ontleders en onderhoude met nuuspersoonlikhede soos Riaan Cruywagen, Waldimar Pelser, Suzaan Steyn en Freek Robinson, asook ʼn verras-ontmoeting met die sanger Elandré, uit. “Ek kan nie onthou wanneer laas ek so starstruck was nie,” sê sy.

Volgens Esterhuizen gaan sy interessante gaste, veral diegene wat haar anders kon laat dink oor ʼn kwessie, geweldig mis.

“Ek wil vir elke kyker dankie sê dat hulle vir my daagliks ʼn plek by en aan hulle ontbyttafel gedek het. Vir elke boodskap en al die terugvoer is ek opreg dankbaar. En ja, daar was werklik koffie in die beker wat in die oggende langs my op die tafel en agter die potplantjie gestaan het,” skerts sy.

Haar nuwe mede-aanbieder, Pierre Breytenbach, sê hy gaan haar standvastige, bestendige benadering en gepaardgaande menslikheid mis.

“Liewe Elsa, ons is opgewonde oor jou toekoms en die volgende spasie en span wat ons die voorreg het om te verwelkom. Ons wag vir jou foto saam met Bollywood-akteur Shah Rukh Khan en CNN-nuusleser Christiane Amanpour. Ons weet, jy gaan soos met die GROOT-span, ʼn ewige indruk op hulle laat. Jou plek by ons bly leeg, terwyl ons die weergalmende eggo’s van jou aansteeklike lag koester in elke hoeksteen van die GROOT-ateljees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sean

Nou hoe dan nou

AmY

Aggenee. Dis nou jammer. Gaan gaan haar baie mis.

Burt

ek gaan jou gesiggie mis!

Alfred E Neuman

Een wat bedank is geloofwaardig, maar twee? Ek dink interne politiek knou dié program. Kan die nuwe kaartmannetjie in beheer by Kyknet, Waldemar Pelser, dalk iets hiermee te doen hê? Ek kyk maar van nou af Sky news se kanaal.

RS

Een van die min mense op tv wat nie vol pretensieusheid is nie. Elsa jy is n lieflike mens. Ons gaan verseker verlang na jou op die kassie. Baie sterkte met jou planne vir die toekoms.