Nóg ʼn kykNET-dramareeks op pad kassie toe

Albert Pretorius in Dwaalster. (Foto: Verskaf)

Albert Pretorius in Dwaalster. (Foto: Verskaf)

Dinsdagaande op kykNET het sinoniem geraak met trefferdramas soos Fynskrif en Spoorloos, en op Dinsdag 8 Januarie skop nog ʼn nuwe dramareeks, Dwaalster, af.

Luidens ʼn mediaverklaring deur kykNET het Nicola Hanekom, die bekroonde dramaturg, drie jaar terug aan Dwaalster begin skryf, maar het sy reeds tien jaar gelede met die storie vorendag gekom.

Kykers van Dwaalster gaan kennis maak met die fiktiewe Karoodorpie Maanhaarsdrif se interessante en misterieuse inwoners. Hul onderskeie intriges beloof om kykers van meet af te boei. Op Maanhaarsdrif is daar ook ’n fiksasie met sterre en sterre kyk, terwyl sommige inwoners ook met die spreekwoordelike “maan gepla” is.

Annabel (Tinarie van Wyk-Loots), ’n joernalis, keer terug na Maanhaarsdrif nadat sy met haar lewe gedreig is in Kaapstad omdat sy ’n storie oor korrupsie probeer oopvlek. Haar pa, Frans (Albert Maritz), en haar boetebessie-suster, Ragel-Lee (Erica Wessels), bly nog op Maanhaarsdrif, terwyl haar jeugliefde, Stian (Jacques Bessenger), ook onlangs na die dorp teruggekeer het.

Vir Annabel voel dit asof sy nooit weg was nie, maar tog is daar iets anders aan Maanhaarsdrif. Tyd het wel nie stil gestaan nie en só het ’n paartjie, Luan en Ruan (Neels van Jaarsveld en Terrence Bridgett), die plaaslike hotel gekoop en opgekikker in die hoop om toeriste wat sterre wil kom kyk te lok.

Dan is daar ook Maanhaarsdrif se oorywerige burgemeester, Ivy (June von Merch), en haar boesemvriendin, Lettie (Joanie Combrink), wat gereeld koppe met mekaar en ander stamp. Ou herinneringe kom spook egter spoedig by Annabel en daar is ’n hele paar geraamtes wat in elke karakter se kas skuil.

Maanhaarsdrif mag dalk ook ligjare verwyderd wees van Annabel se lewe as joernalis, maar die gevolge van die publikasie van haar skokartikels volg haar tot in die Karoo, met skrikwekkende gevolge vir haar en haar geliefdes.

Dwaalster begin op Dinsdag 8 Januarie om 20:00 op kykNET.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JayJay ·

Kyknet lewer goeie drama reekse en goeue aktualiteit programme. Hulle moey net leer wat komedie behels. Die sogenaamde komedies is in uiterse swak smaak

Elsabe ·

Love ons Afrikaanse reekse veral die wat nie vuil taal gebruik of platvloerse maniere het nie. Al die intriges, lief en leed van dood gewone arm en skatryk mense. Soooo lekker om dit te kyk en deel te raak van n ander familie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.