Nóg ʼn ongewone ‘Boer soek ʼn vrou’-liefdesverhaal

Boer Carl en Danél (Foto: Instagram)

Sy soeke na liefde op die kassie was nié suksesvol tydens die verfilming van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou nie en sý het eintlik vir ʼn ander boer ingeskryf.

Maar nou het boer Carl van Carnarvon in die Noord-Kaap – in dieselfde styl as boer Hennie en sy Jacobu in die vorige seisoen – ook liefde gevind.

Carl Möller het Dinsdag aan Maroela Media vertel hy is “baie gelukkig” en “loop steeds op wolke” nadat hy en sy Danél se paadjies op ʼn ongewone manier gekruis het.

Hy kan dit self nog nie glo nie, vertel hy: Hy was nie een van die voorste vyf boere van die reeks nie en Danél het eintlik vir boer Jacques ingeskryf voordat hy haar huis toe gestuur het. Hulle paadjies was nie veronderstel om te kruis nie, maar dié ontmoeting is “deur die engele beplan”, soos wat aanhangers daarna op sosiale media verwys.

Carl sê hoewel hy ná die reeks iemand begin sien het, was daar nie potensiaal vir ʼn langtermyn verhouding nie. Hy sê daar was in elk geval net een meisie deurentyd in sy gedagtes: Danél.

“Daar was ʼn saadjie in my kop kom plant en ek kon haar bloot nie uit my gedagtes kry nie,” vertel hy. “Ek het sosiale media ingespan en bietjie gaan loer op haar profiel, en ek het gehou van wat ek gesien het. Ek het nog al die pad geweet waarvan ek hou en waarin ek belangstel, en so van sosiale media het dit voorgekom asof sy perfek by my sou pas – en ek by haar.”

Carl kon aanvanklik nié die moed bymekaarskraap om Danél op sosiale media te kontak nie – hy het selfs tydens die verfilming van die reünie van Boer soek ʼn vrou nog gewroeg oor hoe om haar te kontak.

Toe gebeur ʼn ongewone ding: ʼn Goeie vriendin van hom was op ʼn gholfuitstappie saam met haar ma toe sy “per ongeluk” vir Danél ontmoet het. Hy vertel sy vriendin was só beïndruk met Danél dat sy hom dadelik daarna gekontak het.

“Sy het dadelik vir my ʼn WhatsApp-foto van Danél gestuur en gevra of ek haar ken. Ek het haar dadelik terug gebel, gelag en vir haar gesê ek stoei al lank met ʼn manier om haar te probeer kontak en te vra vir koffie. Ek het gesê ek ken haar want sy het vir boer Jacques ingeskryf, maar dat hy haar nie gekies het nie. Sy vertel my toe dat sy dink Danél is baie oulik en dat ons moontlik by mekaar sou pas, en dit het my die vrymoedigheid gegee om Danél sommer op sosiale media te kontak,” vertel hy.

Die paartjie het ʼn week later vir koffie ontmoet. Carl sê dit was “senutergend”. “Albei van ons was eintlik so op ons senuwees dat ons skoon van ons honger vergeet het en net koffie gedrink het. ʼn Mens is mos maar onseker omdat jy nie weet wat om te verwag nie. Op die ou einde het ons só lekker gesels dat ons heeltemal van die senuwees vergeet het. Ons het regtig aanklank by mekaar gevind en ons is natuurlik gemaklik in mekaar se geselskap.

“Ná ons gesprek het dit gevoel of ons mekaar al jare ken. Ek onthou ek het in ʼn stadium nog gedink: ‘Dit moet verseker te goed wees om waar te wees.’ Dit was ʼn wonderlike eerste afspraak.”

Carl en Danél het mekaar eers weer vier weke na dié ontmoeting gesien as gevolg van besige werkskedules en afstand. Sy woon op Vredendal in die Wes-Kaap en hulle is gevolglik meer as 450 km uit mekaar.

Boer Carl en Danél (Foto: Instagram)

Vir hul tweede afspraak het Danél hom na ʼn familietroue vergesel. Dié troue was ook ʼn geleentheid vir haar om sy ouers te ontmoet. “Hulle was mal oor haar en net mooi dinge oor haar gesê. Ek het later haar ouers ontmoet en ek glo hulle voel dieselfde oor my. Intussen het ons met vakansie gegaan in Hartenbos en sy was al ʼn week saam met my op die plaas ook. Die afstand is nie ʼn probleem nie; sy is ʼn oulike meisiekind so dis nie moeite om na mekaar toe te ry nie,” vertel hy.

Die paartjie sien mekaar nou elke tweede naweek. Carl sê daar is baie “potensiaal” en dat dit “baie goed met hulle gaan” maar dat hy nie die wa voor die perde wil inspan nie. “Ek weet net dit was vir ons baie moeilik om die nuus stil te hou tot die reünie-episode uitgesaai is. Nou kan ek uiteindelik vir almal vertel hoe oulik sy is!”

Hoe voel boer Jacques oor dié verhouding? “Ons is eintlik pelle – ons het mekaar al lank voor die reeks geken,” sê Carl. “Om die waarheid te sê, nie een van ons het vir die ander gesê dat ons vir die reeks gaan inskryf nie. Maar Jacques is baie bly vir ons. Hy en Corné is baie gelukkig saam en hulle albei is bly vir ons dat ons ook geluk by mekaar gevind het. Dis ʼn wonderlike ding wat hier tussen ons gebeur het; heeltemal anders as wat ek verwag het toe ek vir die reeks ingeskryf het, maar ek kan nie gelukkiger wees nie.”

Nóg ʼn seisoen

Inskrywings vir die 11de reeks van Boer soek ʼn vrou het onlangs geopen. Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 9 Februarie bereik. Lees meer oor die reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tammy ·

Julle lyk pragtig saam. Hoop ons gaan n mooi verhouding sien ontwikkel en groei. Baie geluk aan julle twee!!

Carien ·

Dit is so ‘n mooi verhaal, God se rykste seen op jul pad vorentoe.

Lizelda ·

So n lekker voel goed storie. Mag hulle baie gelukkig wees.

Annie ·

Baie geluk julle twee en alles van die beste – julle maak ‘n pragtige paartjie.

Speedguard ·

Jou Gunsteling , “net om aantesluit by Annie” baie geluk !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.