Nóg ʼn swendelaar word ontmasker in TV-reeks

Die BBC 3-kameraspan konfronteer vir Ayad buite sy huis in Londen. (Foto: BBC/Jobfished)

Eers was dit die valse Duitse erfgenaam wat New York se rykstes oortuig het sy is ʼn rykmansdogter, toe was dit die laventelhaan wat vroue op Tinder uit honderdduisende dollar verneuk het. Nou is dit Ali Ayad, die brein agter Madbird-ontwerpagentskap, wat kykers se nuutste bedrogspul-obsessie is.

Ayad word deur ondersoekende joernalis Catrin Nye in BBC Three se nuutste dokumentêr Jobfished as ʼn swendelaar en eienaar van ʼn fopontwerpagentskap in Londen ontmasker, wat sy werknemers mislei het om te glo dat hulle deel word en saam bou aan ʼn betroubare en innoverende digitale agentskap. Min het hulle geweet dat hul nagte om werk vir ʼn maatskappy en bestuurskorps wat nie eens bestaan nie.

Die dokumentêr se amptelike plakkaat. (Foto: BBC/Jobfished)

Die dokumentêr vertel hoe daar tussen die middel van 2020 en vroeg in 2021 meer as 50 werknemers van reg oor die wêreld, ook van Suid-Afrika, by Madbird aangestel is. Met Covid-19 wat wêreldwyd gewoed het, is werknemers opdrag gegee om van die huis af te werk, boodskappe per e-pos te hanteer en met mekaar op Zoom te kommunikeer.

Madbird se skynbaar geloofwaardige webwerf, sogenaamde kantoor in Kensington en indrukwekkende kliëntelys (wat handelsname soos Nike, National Geographic en Toni & Guy ingesluit het) het selfs ervare werknemers wat kenners in hul bedryf was, geflous. Met die hulp van ʼn alias, vals sakeprofiele en selfs ’n valse vennoot, ene Dave Stanfield, het Ayad volgens sy voormalige spanlede as ʼn selfversekerde en invloedryke leier voorgekom met ʼn indrukwekkende loopbaan, spoggerige sosialemediaprofiel en hope sjarme.

Werknemers vertel hoe hulle ingevolge Madbird se beleid vir ʼn proeftydperk slegs kommissie sou verdien het, waarna hulle na ʼn vaste salaris van £35 000 kon uitsien. Voormalige Madbird-personeel het aan die BBC verduidelik dat hulle dit nie bevraagteken het nie omdat baie van hulle weens die impak van Covid‑19 werkloos was en enige geleentheid wat oor hul pad gekom het, sou aangryp.

Ali Ayad, die brein agter Madbird-ontwerpagentskap. (Foto: BBC/Jobfished)

Madbird se fasade het egter in Februarie verlede jaar begin verkrummel toe werknemer Gemma Brett haar nuwe werk se kantoor gaan besoek het om te beplan hoe sy werk toe sou moes pendel na die pandemie. Madbird se straatadres was toe nie ʼn kantoor nie, maar ʼn luukse residensiële woonstelblok.

Die dokumentêr vertel verder hoe Brett en ʼn kollega ander skokkende en bisarre onthullings gemaak het, onder meer dat Madbird se ontwerpe gesteelde internetfoto’s was, dat minstens ses van die senior personeellede nie eens bestaan nie en dat hul profielfoto’s onder andere aan dié van ʼn Spaanse akteur, ʼn Libanese byeboer en selfs ʼn foto van Getty Images behoort.

Ondanks honderde aanbiedings en vergaderings is daar ook nooit ʼn sent van ʼn kliënt aan Madbird of van Madbird aan ʼn werknemer betaal nie. Party het geloop, ander het in afwagting van die einde van hul proeftydperk en moontlike vaste inkomste aangebly. Boonop was dit moeilik om werk te kry in die middel van die pandemie.

Madbird-werknemer en fluitjieblaser Gemma Brett. (Foto: BBC/Jobfished)

Tydens diepgaande onderhoude vertel Brett hoe sy en haar kollega hul onthullings in ʼn e-pos onder ʼn skuilnaam aan al Madbird se personeel gestuur het. Ayad het in reaksie daarop sy personeel om verskoning gevra, beweer dat hy óók geswendel is en onderneem om die probleem op te los. Dit het egter nie gerealiseer nie.

Aan die einde van die dokumentêr konfronteer die BBC 3-kameraspan vir Ayad buite sy huis in Londen nadat hy ʼn diepgaande onderhoud met hulle op die nipper gekanselleer het. Hy beweer dat daar nog net een kant van die storie vertel is en dat hy probeer het om geleenthede vir mense in ʼn moeilike tyd te skep.

Daar is tans ʼn hangende hofsaak teen Ayad, maar intussen sit talle van sy voormalige personeel met hope skuld en min vertroue in die werksmark.

Kyk die lokprent vir Jobfished hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Dit gebeur gereeld. Die mens se soeke na mag, rykdom en aansien laat alle denke oorkadu. As ‘n ding te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik ‘n knoeiery. Los uit loop weg. Was al daar, het dit probeer.