Nog TV-avonture uit ‘Game of Thrones’-skrywerspen wink

George R.R. Martin is reeds betrokke by die ontwikkeling van ‘Game of Thrones’ se voorvolgreeks getiteld ‘House of the Dragon’. (Foto: HBO/Twitter.com)

ʼn Ooreenkoms van vyf jaar wat die fantasieskrywer George R.R. Martin Maandag met HBO gesluit het, het Game of Thrones-aanhangers aan die gons dat nuwe avonture moontlik vir die strydende families en drake van Westeros wag.

Die 72-jarige skrywer, wie se boekreeks A Song of Ice and Fire talle rekords verbeter het as die televisiefenomeen Game of Thrones, werk reeds aan ʼn voorvolgreeks getiteld House of the Dragon, wat 300 jaar vroeër afspeel en na verwagting volgende jaar die lig sal sien.

WarnerMedia het Maandag in ʼn verklaring aan AFP bevestig dat ʼn algehele ooreenkoms van vyf jaar met Martin gesluit is om inhoud te ontwikkel vir HBO en HBO Max.

Die aankondiging het nie gespesifiseer watter – indien enige – addisionele Game of Thrones-inhoud uit die ooreenkoms sal spruit nie.

Die oorspronklike Game of Thrones-reeks het “moet-sien-televisie” vir die stromingsgenerasie herdefinieer en het altesaam 59 Emmy-toekennings ingeoes.

Volgens The Hollywood Reporter behels die ooreenkoms ʼn bedrag van agt syfers, wat moontlik die vervaardiging insluit van die saga van die krygerkoningin Nymeria, wat geheers het ʼn millennium voordat Game of Thrones plaasvind, voorlopig getiteld 10 000 Ships.

Ander projekte wat glo in ontwikkeling is, sluit in die seevarende reeks 9 Voyages deur die skeppers van die gewilde geskiedkundige televisiereeks Rome, en ʼn grinterige, onderwêreldse verhaal wat afspeel in Westeros se King’s Landing getiteld Flea Bottom.

George R.R. Martin op die première van die rolprent ‘Tolkien’ in die Regency Village-teater in Los Angeles. (Foto: Chris Pizzello, AP)

ʼn Duck and Egg-reeks geskoei op Martin se romans oor ʼn ridder en sy landheer is ook reeds besig om ontwikkel te word, terwyl motivering vir ʼn animasiedrama wat oor duisende jare afspeel ook voorgelê is.

WarnerMedia het bevestig dat Martin ook die uitvoerende vervaardiger sal wees vir twee ander HBO-projekte – Who Fears Death en Roadmarks, albei verwerkings van fantasieromans deur ander skrywers.

Martin se betrokkenheid by die Netflix-verwerking van sy vroeë kortverhaal Sandkings, bekommer aanhangers wat ongeduldig wag vir die afsluiting van sy A Song of Ice and Fire-reeks. Dit is byna ʼn dekade sedert die vyfde aflewering van die sewe-boek-reeks gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Wonderlik! Sy stories is ongelooflik goed geskryf met ingewikkelde politiek en diep karakters – ek sien baie uit!

Jack ·

Game of Thrones is ‘n parodie van die geskiedenis van die Britse eilande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.